So is die lewe

Die wye, wit strande strek kilometers vêr weerskante toe, en jy kan stap tot in St Helenabaai, of na die ander kant tot in Tietiesbaai.

0
743
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Paternoster is ‘n idilliese plekkie hier aan die weskus, waarheen duisende mense jaarliks stroom om iets van die ongerepte vissersdorpie te kom ervaar. Die dorp se naam kom van Katolieke Portugese seevaarders wat hier gestrand het, en die plek Paternoster (“Onse Vader” in Afrikaans) genoem het. Dit het ‘n ouwêreldse bekoring, met sy “Oep-vi-koep” winkel, sy kreeffeeste (mens moet maar versigtig wees om goedkoop kreef langs die strate uit Checkerssakke te koop), en die vissers wat elke dag met kleurryke skuite uitgaan om ‘n bestaan te maak. Ook die bekende akteur At Botha se kunsgalery lok baie besoekers. Dan is daar natuurlik die beroemde Paternosterhotel, met sy ewe beroemde “panty-bar” waar vele wittebroodspaartjies hulle baldadigheid teen die kroeg se dak kom vasspyker het. Volgens die eienaar was daar op ‘n stadium 769 broekies. Hy is seker oor die getal, want ‘n sekere dominee het ‘n klag van openbare onsedelikheid teen die hotel gaan lê in Vredenburg, en na gelang van die aantal bewysstukke, is 769 sake van onsedelikheid teen die hotel ondersoek. Die saak is toe uit die hof gegooi, en die sensitiewe kledingstukke is dadelik weer teruggehang op hulle plek, waar menigte kroegvlieë dit steeds grootoog beloer. Die wye, wit strande strek kilometers vêr weerskante toe, en jy kan stap tot in St Helenabaai, of na die ander kant tot in Tietiesbaai. Paternoster was die afgelope week weer in die nuus: een van die kleinste restaurante aan die weskus is aangewys as die beste in die wêreld. Wolfgat is ‘n unieke en intieme aardse restaurant bo-op die Wolfgatgrot in die skilderagtige strand van Paternoster. Dit het nie net in die kategorie “Restaurante langs jou reispad” louere ingeoes nie, maar het ook stof in die oë geskop van gewilde restaurante in Amerika, Europa en Asië, en die groot prys as nommer een op al die kontinente verower. Die gebou is geleë op ondergrondse gange wat kilometers die binneland instrek, waar keramiek, volstruiseierdoppe, krale en klipartefakte ontdek is. Die 130 jaar oue gebou huisves sowat 20 gaste. Die spyskaart is uniek; dit sluit seekos, plaaslike skaap- en wildsvleis, aangevul met wilde kruie, seewiere uit plaaslike poele en kruie uit die tuin in. Die unieke styl by Wolfgat stel plaaslike geure aan besoekers voor. Behalwe vir die feit dat daar ‘n lang waglys is om daar te gaan eet, is die disse gerig op fynproewers. Kos, en alles wat daarmee gepaardgaan, soos die voorbereiding, geselskap en stories, het ‘n vermoë om mense saam te bind. Om vriende deur ervaringe te sit wat vir altyd ingeëts bly in hulle geheue. Interessant hoeveel kookprogramme juis op die televisie is. Laat die potte prut, Kom ons braai, ensomeer. Dit skep ‘n gees van geselligheid, van betekenis, van vreugde, vir sowel die deelnemers as die kykers.
As ek, synde ‘n Hoëveldmannetjie en Karoobewoner, nou ‘n restaurant moes oopmaak, wonder ek toe, wat sou ek aanbied wat die geure van my vroeëre lewe moet verteenwoordig? Ek het nie regtig al ‘n smaak aangeleer vir gekookte seebamboes en geroosterde seekat-tentakels nie. En die kronkels wat my lewe geloop het deur koshuise en die menasies van die SAW het my ongesofistikeerde kossmaak gepoleer en gevestig. Ratpacks laat my bek water, wat seewiersop nie regtig vir my doen nie. Daardie blikkies groente en boeliebief op ‘n esbit-stofie in die bos gaargemaak, en daardie plastieksakkies met melkskommel. Of die vrugte-energiestafies. Praat met my oor Trichardt se hoekkafee se Portugese tjips, olierig en sterk, en jy het onmiddelik my aandag. Sê vir my ons eet stywe pap en wors en bone in tamatiesous, en ek is nou daar. Of lok my in ‘n wip in met ‘n bord basaarkerrie en rys. In Trichardt het ek een jaar tydens die kerkbasaar manalleen groot potte kerrie en rys gemaak, aangesien ek en die basaarkommissie verskillende uitgangspunte gehad het oor die behoefte in ons dag en tyd na kerrie en rys op ‘n basaar. En ek het, triomfanklik, die laaste skeppie kerrie en rys verkoop. Ik heb gezegd. Jy kan die man uit Springs uit kry, maar nooit Springs uit die man uit nie. En daardie heerlike aardse kosse is deel daarvan. Gerolde pannekoeke met kaneelsuiker. Dan sal ek natuurlik op my spyskaart sit: “Gereg van die dag”: skilpadjies en pofadder. Oftewel lewer in netvet en lewerwors. Saam met mieliepap en vleissous, onverbeterlik. En ook: kerrieafval en skaapkop. Mooi bruin gebak in ‘n oond met spierwit tande en blou oë wat jou verwytend aankyk. So uit die hartjie van die karoo. En, soms, as ‘n toegif, waterblommetjiebredie met skaapstertjies. Net vir so ‘n Kaapse geurtjie. Ek sou my restaurant oopmaak in ‘n ou, ongebruikte fabriek of winkel. (Darem deeglik skoongemaak en afgewit!) Kris Kristofferson, Leonard Cohen, Pink Floyd, Piet Botha, Koos Doep en Coenie de Villiers sou heeltyd op die agtergrond speel. Ek sou van tyd tot tyd uitroep: “Bly gou stil!”, en dan Highland Cathedral of Pavarotti kliphard speel. Terwyl die trane oor my wange rol oor al die goeie gisters van my lewe. En wee die een wat roer of fluister! Ons sou op pandjieswinkelstoele sit, by ou greinhouttafels wat ek oral opgetel en gerestoureer het, oorgetrek met plastiektafelkleedjies. Ons sou dooswyn gedrink het uit goedkoop PEP-glase, geskink uit glasbekers wat ek met ‘n gesofistikeerde pruilbek “kraffies” noem. Ons sou stories vertel het van tafel tot tafel, en uit ons mage uit lag. Tussendeur sou ons mondevol boerewors en lewer en lamskerrie en afval eet. Wat is daai gat in Paternoster se naam nou weer?

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here