So is die lewe

“Dis die laaste keer wat enige Britz sy voete in die Kaap sit!” Sela.

0
815
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

So ry ek van Langebaan af na die Kaapstadlughawe op ‘n helder, oop dag. Die oomblik wanneer jy uit ons straat afdraai na die Weskus Nasionale park, sien jy dit reeds in die vêrte: Tafelberg, een van die bekendste landmerke in die wêreld. Hoe verder jy suid ry op die R27, weg van die weskus af, hoe meer prominent word hierdie asemrowende gesig. Dit groei soos ‘n toneel waarop jy inzoem. Die berg so plat soos ‘n tafel, met Duiwelspiek en Leeukop soos twee falankse wat hom bewaak. Wanneer jy Kaapstad binnegaan, is die berg oorweldigend. Selfs die drie toiletrolwoonstelblokke teen sy hange lyk peteuterig afgeëts teen die kolos. Kaapstadlughawe is ‘n miernes van bedrywighede. Van vroegdag af is daar mense wat met plaaslike vlugte reis na OR Tambo, Lanseria, Durban, waar ook al. Gesoute pendelaars. Met slegs aktetasse of rugsakke vir bagasie woerts hulle heen en weer vir die dag om besigheid te gaan doen, vir vergaderings, selfs inkopies. Hulle is die gereelde reisigers; hulle kyk nie meer vir die berg of die see as die vliegtuig oor die hawe draai en sy neus noordwaarts stoot nie. En ek, synde ‘n romantikus en dromer, onthou die eerste keer toe ek die Berg gesien het. Eintlik was een van Springs se mynhope die rede. Ons het met ons groen 1962 Volkswagen Variant (die stasiewa, TS 61021) verby ‘n mynhoop gery, toe die uwe die versugting uitgespreek het dat hy en sy Voortrekkerspannetjie eendag daardie berg moet gaan uitklim. Die verste wat ons as gesin toe al gereis het, was Durban. En Pa en Ma besluit terstond: dis tyd dat Ouboet en Kleinboet rêrige berge moet sien. In daai vêr, vêr plek anderkant die maan. Kaapstad. (Die plek wat wemel van skelms, volgens Pa.) En goed ses maande voor Pa en Ma se verlof (in daardie tyd is dit nie vakansie genoem nie!) het pa begin voorbereidings tref. Eerstens is oom Cas se rooi selfgemaakte sleepwa geleen, en met groot moeite het Pa ‘n staalkoepel ontwerp, oorgetrek met dik sink en swart geverf, sodat ons aardse besittings nie gesteel word nie. Dit het ongeveer ‘n Gideonsbende en ‘n vurkhyser geverg om diè spesifieke dakkie op die waentjie opgelig te kry, maar ewenwel. Probleem twee: die ou Volkswagen het nie plek gehad vir ‘n trekstang nie, omdat die enjin agter sit. Maar Pa, synde ‘n ambagsman, ontwerp toe ‘n aanvallige stel dik staalstampers voor en agter wat die Volkswagen se chroomstampers vervang. Agter is ‘n reuse knop vasgesweis, so groot soos ‘n tennisbal, en voor twee kontrepsies wat lyk soos gekrulde varkstertjies weerskante by die hoofligte, om goingwatersakke op te hang. Die water sou dan yskoud bly gedurende die rit, want Pa het gehoor die karoo kan nogal warm en droog raak. Omdat die Kaap so duur is, het Pa nog ‘n plan beraam. ‘n Dik groen spons is laat sny om agter in die Volksie te pas as die 3 sitplekke afgeslaan is, en dit sou ons karavaanparkslaapplek wees vir die vyf dae lange rit.Aande lank het Pa gemeet en geboor in die garage, en uiteindelik gordynreëlings in die kar opgesit. Ma, wat nooit eintlik ‘n naaldwerkster was nie, het gordyne gemaak om al die vensters te bedek, selfs die gaping tussen die voor en agtersitplekke. Blikke vol koekies en beskuit is gebak. Alles wat kon saamgaan, moes saam. Tot ‘n (geleende) baaikostuum vir my, geleende opblaasbranderplank, en Pa se FM-pie dat hy darem op hoogte kon bly van wat in die Transvaalse Republiek aangaan as ons in die Kolonie is. Ons het vier nagte oorgestaan. Sonder om die leser te verveel, die eksodus na die Kolonie toe was vyf dae lank. Net die Israeliete op hulle tog deur die Sinaiwoestyn het die Britze getroef. Op die eerste oorstaan het pa se tant Doggie in Vereeniging vir ons ‘n koekblik vol eiers oneetbaar blougekook, en ek en broer kon onsself vermaak deur die eiers in die Karoo op die teerpad te gooi en kyk hoe hulle soos gholfballe in alle rigtings hop. By oorstaan drie het die waentjie se staalkoepel Ma teen die kop getref toe sy iets wou uithaal, en moes sy steke kry.By oorstaan vier in die Boland in het die Volksie se oliekoeler gebars, en Pa moes in loco die enjin uittrek om dit te vervang. Gelukkig was daar plek vir sy hele garage se gereedskap in die vyftonwaentjie. Tussendeur het die Volksie se ou Blaupunktradio ‘n paar oophandklappe gekry omdat hy net MW kon opvang, en dikwels sein verloor het net wanneer Blomerus Niewoudt opgekom het met die nuus op Radio Suid Afrika. En toe, skielik sien ons dit na vyf dae: die Berg. Op Bloubergstrand het Pa uitgespring, ons net daar gelos en in die see ingehardloop. Vir ‘n boerseun van Vaalwater was dit net te veel water om te glo.Soos Johannes in sy evangelie geskryf het: “As dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie” (21:25). So sien ons die Kaap. Pa haal oral waar ons stop die Volksie se wieldoppe af, en sit dit weer terug as ons ry. Vir die skelms. Daai Kersfees raak Pa toe roekeloos. Ons gaan eet in Seepunt in ‘n hotel. Heerlike viergangmaaltyd. Met ‘n massiewe rekening: R10-00. En Pa verklaar driftig: “Dis die laaste keer wat enige Britz sy voete in die Kaap sit!” Sela. – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here