So is die lewe

En ons laat haar vry, vry om na die Vader te gaan vir Wie sy so lief was.

0
606
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Uit die bloute, so vyf jaar terug, kry ek ‘n boodskap op facebook. “Hallo, jy ken my nie, my naam is Cornè. Wil jy nie asseblief my kontak nie?” Die profielfoto is van ‘n laggende, blonde vrou so in haar vroeë veertigs. Nou, synde nuuskierig, kontak ek haar toe. Sy skryf aan my dat sy my naam gekry het by ‘n bekende skrywer in Kaapschehoop, met wie ek ook bevriend is.
Cornè en haar man bedryf in die geheim ‘n Christelike radiostasie iewers in ‘n Moslemland. Hulle woon anoniem saam met haar tienerseun uit ‘n vorige huwelik in ‘n klein dorpie, aangesien die Moslemwette in daardie land genadeloos is met enigiemand wat die Christelike geloof verkondig, of selfs daaroor praat. Daarom leef hulle deurentyd in groot vrees, omdat hulle onder andere ook nie toestemming het om ‘n radiostasie te bedryf nie. Haar borrelende persoonlikheid verbloem aanvanklik die werklike omstandighede van hierdie roeping wat hulle van die Here ontvang het.
Sy vra my om ook betrokke te raak by die radiostasie as omroeper, wat ek per internet vanuit my studeerkamer kan doen. Die stasie is in sy kinderskoene, en hulle het ‘n visie om die stasie te laat groei om meer en meer mense te bereik wêreldwyd. En só kruis my pad met diè van die radiowêreld. Die seën op die stasie se werk is groot, en ons saai al hoe meer uit, sodat daar naderhand 24 uur per dag programme in meer as tien tale is. Suid Afrikaners regoor die wêreld begin kennis neem van hierdie internetstasie, en meer en meer luisteraars kom by.
Op die hoogtepunt is daar luisteraars in 174 lande wat gereeld inskakel. Ons besluit om die stasie se nette wyer oop te gooi, en naas godsdienstige programme en eredienste, ook sekulêre programme uit te saai. So begin Afrikaanse musiekprogramme, laataandmusiek waarin ons van Pink Floyd en Led Zeppelin tot die Vier Transvalers se musiek speel. En ook Sondagaande, na die eredienste van die dag, ‘n musiek oor klassieke musiek.
Die stasie gedy. Cornè en haar man, selfs haar seun, werk 24 uur per dag om die administrasie, bemarking en tegniese instandhouding van die stasie te doen. Cornè se kookprogramme is baie gewild, haar borrellaggie verklap geen teken van die uiters moeilike omstandighede waaronder hulle werk nie. Sy bied heerlike kookprogramme aan oor eksotiese geregte, vis en vleis, terwyl hulleself dikwels nie meer in die huis het as roosterbrood nie. Maar sy maak haar hart soms teenoor my oop, gestroop van alle maskers. Die spanning om heeltyd gesoek te word deur die polisie, raak ondraaglik. Drie keer moes hulle in die middel van die nag vlug, en alles behalwe hulle rekenaartoerusting net so los. En daar is nie ‘n vaste bron van inkomste nie. Hulle leef van donasies. Soms is daar ‘n meevallertjie in die vorm van ‘n kontantinbetaling in hulle rekening. Dan kontak hulle my laataand en vra dat ek beheer oor die stasie moet neem vir ‘n tydjie, want hulle gaan kyk of die “dobbelmasjien uitbetaal”, bedoelende die kitsbank. En uiteindelik beland hulle in die hartjie van die woestyn in niks meer as ‘n tydelike skuiling nie. Die ondraaglike hitte en die omstandighede veroorsaak dat sy ‘n ernstige gesondheidprobleem ontwikkel. Maar daaroor praat sy nie. Die radio en sy groei is haar passie. Sy lèèf om ander mense gelukkig te hou. Haar man, haar kind, haar ouers in Suid Afrika. Die stasie.
Op daardie stadium moet ek dringend ‘n vervanging van my defibrillator kry. Ek is moedeloos, want ek het nie ‘n mediese fonds nie. Maar Cornè spring in, stig ‘n fonds, kontak sonder my medewete honderde mense op my facebook vriendelys, kontak selfs een van my helde, Gert Vlok Nel, en vra dat hy gratis ‘n konsert hou vir die fonds. Die geld stroom in, en uiteindelik is die bykans twee honderdduisend rand vir die operasie beskikbaar. Ek kry ‘n nuwe kans om te leef as gevolg van Cornè se inisiatief en deursettingsvermoë. Maar juis in daardie tyd loop dinge vir hulle heeltemal skeef. Die veiligheidspolisie spoor hulle op, en sluit die stasie. Hulle verloor alles wat hulle besit, hulle motor ingesluit. Haar man word in hegtenis geneem, en in uiters moeilike omstandighede in die tronk aangehou. Cornè en haar seun vlug na die Suid Afrikaanse ambassade, en met groot moeite kry ons dit gereël dat sy gedeporteer word na Suid Afrika. Ek praat ‘n paar keer met haar op die foon, en die borrelende stemmetjie is bang, en moeg. Uitendelik land sy en haar seun op OR-Tambo lughawe met net die klere aan hulle lyf, terwyl haar man bykans elke dag aan die mees ekstreme vorm van ondervraging en intimidasie blootgestel word. En dan die onverwagte, die ironiese. Slegs ‘n paar dae nadat Cornè uit haar Alcatraz ontsnap het, sterf sy in ‘n Pretoriase staatshospitaal. Die ontberings en swaarkry het haar liggaam en gees geknak. Haar seun word wees gelaat, en luisteraars oor die hele aardbol is verslae. Ek bied ure ná haar dood ‘n huldeblyk op die radio aan, met haar gunstelingmusiek, en klankinsetsels van haar programme en huldeblyke van al die omroepers. Ek kry dit nie reg om self ‘n huldeblyk op die lug te doen nie, want ek snikhuil. ‘n Paar dae later word sy vanuit ‘n gemeente in Pretoria begrawe, en ons saai dit lewendig uit. En ons laat haar vry, vry om na die Vader te gaan vir Wie sy so lief was. Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here