So is die lewe

Hulle is helde, een en almal van hulle

0
347
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Hoop jy het ‘n geseënde Feestyd beleef! Die reuk van sonbrandolie, mengeldrankies en braaivleis het sterk in die lug gehang hier in Langebaan. Skape is ter slagting gelei op die bikinistrande van Kaapstad soos Ou Testamentiese offers. Tussen laggende vakansiegangers, kindertjies op wit strande met plastiekgrafies en emmertjies, hordes bote, seiljagte en vlieërryers op die strandmeer, laatnagkuiers by die huise en baie klappers met oujaar, was dit ‘n heerlike vakansieseisoen vir alle besoekers. Alles keer nou na normaal terug, en daar is nie meer reuse 4×4’s met noordelike nommerplate wat oral onwettig geparkeer is nie. Jy kan by SPAR ingaan sonder om onderstebo gestamp en bykans ter aarde bestel te word deur ‘n beboepensde oompie in ‘n Speedo wat die laaste afslagspanspek voor jou wil gryp. Maar daar het ander rook ook in die lug gehang. Vele brande hier in die Kaap het aandag getrek. Die historiese dorpie Wuppertal is grootliks deur brande verwoes, baie huise in St Francisbaai in die Oos-Kaap het deurgeloop, so ook Rooi-els, Bettiesbaai en George. Facebook het baie plasings gehad van die geweldige vlamme wat met moeite onder beheer gebring is deur dapper vuurvegters, brandweermanne en vroue, sowel as helikopters en vliegtuie. Na bewering is van hierdie brande gestig deur oorywerige klapperskieters wat hulle aan geen reëls gesteur het oor die afvuur van vuurwerke nie. Dit was tragies om te sien hoe verslae mense staan en kyk na die ruïnes van wat eens hulle huise was, met al hulle aardse besittings verwoes. En mens het weereens besef onder watter geweldige druk noodpersoneel moet werk tydens die tye wanneer ander mense sorgeloos ontspan en vakansie hou. Dit geld vir mediese personeel, verkeersmense, polisiebeamptes, asook ander noodsaaklike dienste soos munisipale werkers wat moet sorg dat klein vakansiedorpies se oorlaaide rioleringstelsels en elektrisiteitsvoorsiening nie onderbreek word nie. In Durban alleen is meer as agthonderd kinders van hulle ouers geskei op die strande, en dit het ‘n groot poging geverg deur nooddienswerkers om hulle weer verenig te kry. (Op ‘n ligter noot: een facebookprentjie wys massas Chinese iewers op die strand, en sê dat dit makliker is om ‘n nuwe kind te maak as om die ou een te soek!). En dan natuurlik die brandbestrydingsdienste. Daar is baie verhale oor die diep menslikheid van diè mense. Soos hierdie een, wat jy gerus kan gaan Youtube. In Phoenix , Arizona , het ‘n 26 jarige ma gestaan en kyk na haar seun, Billy, 6 jaar oud, wat besig was om te sterf aan terminale bloedkanker. Alhoewel haar hart stukkend was, wou sy hom bemoedig. Sy vra hom toe wat sy drome is as hy groot is. “Wat wil jy eendag word as jy groot is?” vra sy hom. Wat nie moontlik was nie, die leukemie was vêr gevorderd. Maar sy wou hom toelaat om te droom. “Mamma, ek wil ‘n brandweerman word as ek groot is,” was sy antwoord. Sy het geglimlag en gesê: “kom ons kyk of jou droom waar kan word. “ Later daardie dag het sy na die brandweerstasie gegaan, en die hoof van die brandweer, Bob, ontmoet. Sy het haar situasie verduidelik, en gevra of haar seuntjie kan saamry om die blok in ‘n brandweerwa. Brandweerman Bob het gesê: “ek kan beter doen as dit. Laat hy seweuur Woensdag stasie toe kom, en ons sal hom ‘n ere-brandweerman maak vir die hele dag. Hy kan saam eet, vure gaan blus, die hele ding. En gee ons sy groottes, dan laat maak ons vir hom ‘n regte brandweerpak met ons embleem op, met hoed en rubberskoene, die lot.” Drie dae later het Bob vir Billie kom oplaai, hom sy brandweerklere laat aantrek, en hom na die brandweerwa gevat. Billie het op Bob se skoot gesit en saam die brandweerwa bestuur terug stasie toe. Billie was in die sewende hemel. Daar was drie vure daardie dag om geblus te word, en Billie het saamgegaan na al drie toe. Hy het elke keer met ‘n ander voertuig saamgery, die brandweerwa, die paramedikus se kar en die ambulans. Hulle het selfs agterna ‘n video-opname van hierdie seuntjie in aksie saam met die brandweerwa gemaak wat op die plaaslike televisiestasie gewys is. Drie maande later was hy sterwend in die hospitaal. Sy familie wat by hom was, het brandweerman Bob gebel en hom gesê daarvan. Die brandweerhoof het gesê: “Ons is daar binne vyf minute. As jy sirenes buite die hospitaal hoor, stel almal gerus dat daar nie ‘n noodgeval is nie. Dis net die brandweerstasie se manne wat een van hulle wonderlikste lede vir oulaas kom groet. En maak die kamervenster asseblief oop.” Omtrent 5 minute later het die brandweerwa voor die hospitaal gestaan, en die leer opgehys tot by Billie se kamervenster. 16 brandweermanne het met die leer opgeklim tot in sy kamer, en hom gedruk en vertel hoe lief hulle vir hom is. Vir oulaas het Billie gevra: “Is ek nou regtig ‘n brandweerman?” En die brandweerhoof het geantwoord: “Billie jy is. En die een wat die vlamme van die hel uitgeblus het, Jesus Christus, hou nou jou hand vas.” En Billie het vir oulaas sy oë toegemaak. Kom ons onthou hierdie mense wat werk as ons op die strand of langs die swembad lê. Ook die oorwerkte jong kelners wat op feesdae honderde mense vriendelik moet bedien, selfs die puntenerige tannie wat haar kos drie keer terugstuur omdat dit nie perfek na haar smaak is nie. Hulle is helde, een en almal van hulle. –           Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here