So is die lewe

“Ek gaan vorentoe.”

0
298
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Gogga. Dit was ‘n gevreesde toets vir elke soldaat van die ou Suid Afrikaanse lugmag wat ooit gekeur is vir offisierskursus. Baie staandemaglede wat aansoek gedoen het om offisiere te word, was alreeds jare lank onderoffisiere en adjudantoffisiere, met selfs oorlogservaring. Slegs uitgesoekte dienspligtiges kon gekeur word om saam met hulle op dieselfde kursus te gaan. Dit was van die mees veeleisende en gedissiplineerde militêre kursusse in die weermag, wat selfs tussen ‘n voornemende vlieënier en sy loopbaan gestaan het. Wanneer lugmaglede gehoor het dat julle op pad is “Gogga” toe, het daar ‘n flits van simpatie in hulle oë gekom, indien dit enigsins moontlik was om vir ‘n KO jammer te wees. Wanneer jy dan saam met Bravovlug in Januariemaand in ‘n kokend warm Wallmansthall afklim van die SAMIL af, begin “Gogga” vir jou ‘n werklikheid raak. Toegerus met jou volle militêre kit, stewels, staaldak, slaapsak, en waterbottel met ‘n liter water per dag, kry julle twee-twee nog verdere instrumente om saam te dra: houtpale en lorriebuitebande. En dan begin julle hardloop deur die bosse. Op en af. Heen en weer. Deur dongas en slote en gate. Dis warm, jy sweet. Die kit skaaf en die staaldak op jou kop brand vuurwarm in die son. Die houtpale is swaar en die buitebande is ongemaklik. Aanhoudende bevele word gebulder. En jy hardloop. Naderhand stop die spulletjie, sodat jy kan water drink. Dan is dit opstote en paaloefeninge. Dit hou net nie op nie. Ná twaalf moordende ure begin jy angstig wag dat rustyd moet aanbreek. En skielik kom die bevel om te stop. Hompe kos word in jou natgeswete staaldak gegooi, waaruit jy met jou pikstel (mes, vurk en lepel) eet. Daar is nie borde nie. En dan die bevel waarvoor jy wag: “Tente op!” In die donker, drie-uur in die more, word tente in ‘n rekordtyd opgeslaan, slaapsakke uitgerol en uitgeputte lywe val neer in ‘n diep slaap. Om vyf minute later deur ‘n newel wakker geskreeu te word met ‘n bevel: “Tente af! Pak!” En dan gaan dit maar net aan. Vir drie dae en nagte. Teen die tweede dag staan jy nat gesweet en oormoeg met ‘n kurkdroë mond en kyk hoe die offisiere ‘n yskoue blikkie Coke drink, met ‘n gebraaide tjop in die ander hand. “Teken af van die kursus, en kom kry vir jou Coke en braaivleis.” Die opsie om op te gee met die onsinnige oefening raak meer en meer aanloklik. Om die waarheid te sê, meer as 50% van die voornemende kandidaatoffisiere wat daar in die bloedige son staan, besluit om op te gee, en in die skaduwee te gaan sit en yskoue koeldrank drink en braaivleis eet. Hulle teken die dokumente wat hulle van die kursus af ontslaan, wat die marteling laat ophou, sonder huiwering. Diè wat oorbly, se lywe gaan meganies aan. Dit is lankal nie meer jou fiksheid of fisieke vermoëns wat jou laat aangaan nie, alleen maar die krag van jou denke, jou fokus. Jy stoei heeltyd met die sin van daardie skynbare sinlose oefening.
As jy jare daarna, nadat jy die goggas van jou lewe een vir een deurworstel het, terugdink aan jou ervarings, besef jy wat die sin daarvan was. Nie net moes offisiere uiterste druk kon teëstaan en besluite kon neem in ‘n kontaksituasie met die vyand nie, ook sou jy as mens die krag van jou denke leer ken in alle moeilike situasies van jou lewe. Die vlieënier van die Dakota gelaai met senior ministers en generaals, waarvan die stert tydens ‘n vlug in die oorlogsgebied afgeskiet is, moes sy kalmte behou, en die vliegtuig sonder insidente laat land. Daardie vaardigheid het hy by Gogga geleer. Of, eerder, sy vermoë om daardie druk te kan hanteer, het hy ontdek. Ons lewensgoggas se druk lyk dalk anders, maar is nie minder intens nie. Finansiële omstandighede, politieke verwikkelinge, jou kinders se welsyn en geluk, jou huwelik, jou werksomstandighede, jou gesondheid, al hierdie dinge kan jou eie persoonlike belewenis van ‘n Gogga word. Elke dag is mense besig om, oorlaai met lewensbagasie, heen en weer, op en af, deur dongas en slote op die paaie van die fenomeen genaamd lewe te hardloop. Iewers langs die pad raak ons vrag soms te swaar, skaaf die stewels en die staaldakke van lewe ons onhoudbaar seer, word die houtpale en vragmotorbuitebande van gister en eergister ‘n ondraaglike las. En dit is onteenseglik wáár dat daaR om elke hoek en draai versoekings is om af te klim van hierdie moordende lewensuithouwedloop met sy herhalende en soms onsinnige gebeure. Tye wat mense vir hulleself sê: “ek kan nie meer nie.” Tye wat hulle wil ophou probeer, ophou om nog ‘n kans te gee. Tye wat die toekoms net te vêr lyk, tè onbereikbaar.
Die sin van oorleef is opgesluit in die lugmag se Gogga. Jy is tot veel meer in staat as wat jy dink. Die Bybel sê jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee. Voorbeelde is daar baie. Joost van der Westhuizen het vir ons prakties kom demonstreer wat geesteskrag beteken. So ook Stephen Hawking, een van die briljantste wetenskaplikes van sy tyd, wat vasgevang was in ‘n beweginglose liggaam. Ludwig von Beethoven wat sy bekendste simfonie, die negende, geskryf het toe hy stokdoof was. Want hulle geesteskrag was groter as die klipperige pad wat hulle liggame moes aandurf, hul eie Gogga. Soos Tuks se leuse: Ad destinatum persequor. “Ek gaan vorentoe.” – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here