So is die lewe

“Go ahead in peace. Lest we forget.”

0
551
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Op 11 November 1918, om 11:00 die oggend, 100 jaar gelede, is ‘n skietstilstand onderteken wat ‘n oorlog op see, land en in die lug beëindig het. Die Eerste Wêreldoorlog. Gifgas, vliegtuie en tenks het die eerste keer deel van oorlogvoering geword. Miljoene soldate en burgerlikes is in die oorlog dood. Dit het gelyk of planeet aarde teen homself oorlog voer. Op ‘n gedenkteken in ‘n bos is die Clairière de l’Armistice –die Oopte van die Skietstilstand, waar ‘n betonblok is met die woorde: “Hier op 11 November 1918 is die verwaandheid van die misdadige Duitse Ryk verslaan deur die vrye volkere wat hy probeer verower het.” Hierdie oorlog was veronderstel om alle oorloë te beëindig. Maar 21 jaar later sou daar weer ‘n oorlog wees op daardie grond. ‘n Nóg meer skrikwekkende oorlog. Met nóg meer miljoene menselewens wat opgeoffer is. Die stil bos word jare ná die Tweede Wêreldoorlog ‘n kosmiese plek van verdwasing. Die spoorwegstasie Compiègne in daardie gebied was die plek waar miljoene mense na konsentrasiekampe vervoer is. Die laaste trein met gevangenes, mans, vrouens en kinders, vertrek op 17 Augustus 1944 na Buchenwald met 1 250 mense aan boord. Stef Bos sing: “Hier vertrok de trein / Hier op dit perron / Hier stonden de mensen / Met angst in hun ogen / Voor de reis begon / Hier was het leven / Daar was de dood.” So is ook ons Suid Afrikaanse landskappe gekenmerk deur oorlogsgedenktekens. Paardeberg, Magersfontein, Ungungundlovu, Bloedrivier, Kimberley, Pretoria. Selfs tussen Trichardt en Bethal en omgewing was daar groot veldslagte tussen die Boere en Britte. Vir drie myl het Buller se regterflank onder skoot van die Bethalkommando op Frischgewaagd gekom. Britse ongevalle was 36 (insluitend 7 dood en 3 vermis) en aan Boerekant is 3 man gewond. Nader aan ons eie tyd is natuurlik die oorlog in Angola. Mens sou kon vra: “Wat is die sin hiervan?” Daar is al vele boeke, verhandelings en referate hieroor geskryf. Daar sal in die toekoms nog vele navorsing wees, soos wat nuwe dokumente ontdek en argeologiese opgrawings gemaak word. Maar die een nalatenskap wat almal saamdra wat iewers in ‘n oorlog betrokke was, is ervarings. Hetsy goed of sleg. Meer as dit, ‘n kameraadskap wat altyd sal bestaan. Dit is bewys deur die gedenkdienste wat regoor die wêreld plaasgevind het verlede Sondag, die 11de November, ook hier in Suid Afrika. Deel van hierdie kameraadskap is die humor, die staaltjies, wat saamgedra word. Daarvan is daar oorvloed. Soos die Engelse luitenant wat op ‘n parade moes bid en lees omdat daar nie ‘n kapelaan was nie. Hy was swak Afrikaans magtig, maar moes in Afrikaans bid omdat dit Afrikaanse maand was, volgens die tweetaligheidsbeleid van die destydse SAW. Hy besluit toe op die gebed wat hy in die skool geleer het, die Onse Vader. Na die bevel aan honderde troepe, “pette af!”, bid hy toe: “Onse Vader… wat in die hemel is …lei ons vandag … deur die bosse…” Toe voel die RSM hom geroepe om net daar kliphard te skreeu: “Amen!” En dis die einde van die bidparade en die waardigheid van die seremonie. So kan elke gewese soldaat vir jou stories vertel oor byname, gebeure, mense, karakters. Selfs in turbulente en gespanne situasies het humor ‘n groot rol gespeel. Soos in die aanval deur die SA Veiligheidsmagte op ‘n groep in Angola. Die aanvalsmag was teen middernag in posisie en gereed. Radioseine is verbied en almal het in stilte gewag dat die oomblik aanbreek vir die bevel om aan te val. Net voor middernag kom ‘n stem oor die radionet: “Ek is nou vaak.” Die bevelvoerder is woedend en stuur diè boodskap: “Laaste stasie, identifiseer jouself onmiddelik.” Na ‘n hele rukkie kom die stem weer oor die radio: “Ek is darem nog nie só vaak nie.” Ekself het ook sulke komiese situasies beleef. Negentig persent daarvan kan nie in ‘n ordentlike koerant soos the Bulletin vertel word nie. Dis braaivleisstories. Maar een insident vertel ek altyd weer en weer. Iewers in die bos, tydens my lugmagjare, kom ‘n Bosbok, ‘n verkenningvliegtuig, met groot nood by ons tydelike basis aan. Hulle basis, waar die vlieënier vandaan kom, se bier het opgeraak. Twintig kaste bier word in die bosbok gelaai. Die vliegtuig moes op ‘n geskraapte grondaanloopbaan land en opstyg, en diè was baie kort en vol bulte. So, dit het groot kundigheid van die vlieënier geverg. Die oplossing was eenvoudig: die troepe hou die vliegtuig vas terwyl die revolusies opgewerk word, sodat die vliegtuig vinniger kan wegtrek om op te styg. En daar gaan hy met sy twintig kaste bier. Maar die Bosbok kom naby die einde van die aanloopbaan tot stilstand. “Nee”, sê die vlieënier, “twintig kaste bier is te swaar. Haal tien uit.” Die vliegtuig word teruggesleep en dieselfde opstygingsproses word herhaal. En weer rem die vliegtuig voor opstyging en kom tot stilstand aan die einde van die aanloopbaan. “Ek besef nou”, sê die vlieënier, “dat die vliegtuig dit sal maak. Laai vyf van die tien kaste wat julle afgelaai het, terug.” As deel van die weermagstories is daar ‘n skatkis van ervarings wat menswees gekweek het: drilparades, inspeksies, bosopleiding, kontakte, kameraadskap, huistoeverlang, dear-Johnny-briefies, sewedae pas. Ek onthou die een troep wat my kom vra het vir menslikheidspas, omdat sy vrou gaan kraam. “Wanneer kraam sy?”, vra ek. “Oor nege maande”, antwoord hy. Soos gehoor tydens ‘n uitklaarparade: “Go ahead in peace. Lest we forget.” – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here