So is die lewe

“Brothers,’ I said, ‘o you, who having crossed a hundred thousand dangers... you must not deny experience of that which lies beyond the sun, but to be followers of worth and knowledge.”

0
128
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Dantè Alighieri, die bekende Italiaanse digter, beskryf in sy Goddelike Komedie hoe hy deur nege konsentriese vlakke van die hel beweeg, op soek na die wese van die mens se bestaan, vergesel deur die Romeinse digter Virgil. In hierdie nege vlakke kry hy te doen met soveel van die euwels wat vandag nog in ons samelewing bestaan, soos trots, lus, gierigheid, wraak, geweld en bedrog. Die besoek aan hierdie vlakke van hel is nodig, skryf Dantè, om mens bewus te maak van die oorwinning van die Goeie in jouself. Die wêreld, soos ek en jy dit elke dag beleef, lyk ook verskillend vanuit verskillende perspektiewe. Die omgewing waarin jy bestaan, is dalk voorstedelik, beveilig en in stand gehou. Maar neffens jou, nader as wat ons dalk ooit kon besef, is daar ‘n ánder wêreld, ‘n skadubestaan van gefolterde mense wat ‘n eksistensie van ontbeer beleef. Jy sou dit “hel” kon noem. In Durban, daar naby die hawe, het ek dit die eerste keer ervaar. ‘n Ou, vervalle fabriek is deur ‘n organisasie ingerig as skuilplek vir haweloses. Geld is uiteraard skraps, en die gevorderde fases van verval is in sy ekstreme vorms daar teenwoordig. Daarom die bemande staalhekke by die ingang waardeur jy loop: nuuskieriges moet buite bly, en die weerlose, gefolterde siele moet binne gehou word. Die hele kompleks is swak belig, bedompig, gevul met reuke van menselywe van elke oorsprong en geslag. Selfs in die badkamers is daar skimagtige figure wat langs die toilette op goiingsakke slaap en jou stom, grootoog dophou. Daar is eenvoudig nie genoeg plek nie. Aandete was ‘n klonterige homp wit massa wat in konfytblikke geskep is, en gulsig geëet is met plastieklepels. Mense van alle kleure, oorsprong en geslag in kettings van haweloosheid, dwelms, alkohol, gesinsgeweld kom soontoe op soek na asiel teen die lewe se verniel. Jy hoor die gehoes, die kreune van pyn, jy sien die verwoesting van ongeneeslike terminale siektes wat om hulle hang soos ‘n mistigheid. Motors wat daar naby verbysnel op pad werk toe, winkelsentrums toe, vakansie toe, is glad nie bewus van die vlakke van hel in daardie ou gebou waarin lewe homself elke dag afspeel nie. Ek het ook hierdie alternatiewe wêreld beleef in Hillbrow. In middernagtelike evangelisasieuitreike op Saterdagaande het ons die seèr mense gesien wat in die diepste hole van Johannes Kerkorrel se plek wegkruip. Die nagklubs en kroeë vol verweerde en vermiste mense. En al het ons probeer gèè, ons drome, ons sente, ons klere vol gate, ons ontoereikende troos, ons stom teologie oor God se grootheid en genade, ook vir hulle, die uitgestotenes uit die samelewing, het ons, met ‘n heimlike sug van verligting teruggekeer na ons veilige klusters in suburbia, warm, veilig, dig en ondeurdringbaar. Soos wanneer jy jou motor se elektriese ruit toemaak wanneer die bedelaar by die robot vir jou geld vra, jy dan stip voor jou kyk en wag dat die robot groen slaan sodat jy met die nodige spoed kan wegry, wèg van die aanslag op jou gewete, wèg van die appèl wat gemaak word op jou begrip van iets wat jy nie verstaan nie. Jy sou die alternatiewe wêrelde, die konsentriese vlakke van lewe wat Dantè “hel” noem ‘n klomp name kon gee. En, as jy jou oë net oopmaak, sal jy hulle elke dag raaksien. Dis soms skreiend: By die Kaapstadlughawe land stralers van regoor die wêreld. Toeriste, besigheidsmense, noem maar, wat leef in hulle eie, alternatiewe wêreld. Wat heen en weer klief deur die blou lug in luukse stralers, wat saggies suig aan koue witwyn of wisky en ys aan boord, terwyl hulle deur die gratis koerante blaai om te lees wat in die werklike wêreld aangaan. Húlle heimat is een van geldmaak, geniet, presteer, uitstyg bo die gemiddelde. Maar ry jy net by die lughawe uit na die N2 toe, hetsy na Kaapstad of Somerset-Wes, is jy omring deur hierdie alternatiewe wêrelde, wat in Dantè se terminologie, konsentriese vlakke van hel genoem sou kon word. Plakkershutte so vêr as wat jy kyk. Soms minder as ‘n liniaallengte teen mekaar gebou. Sommige teen sterk deinings, sodat mens wonder hoe op aarde enige mens teen so skuinste sou kon slaap. Daar is geen privaatheid of waardigheid nie. Soms selfs drie of vier geslagte, ses, sewe, agt mense in een makuku. En as uitroepteken van die ellende: rye en rye plastiektoilette aan die kant van die plakkershuise, teenaan die teerpad. Nie eens in die privaatste van menslike behoeftes word jou waardigheid gerespekteer nie. Die antwoord op hierdie vraagstuk is eenvoudig. “Ek weet nie.” Elke politieke party in hierdie land het uiteenlopende standpunte en oplossings om hierdie alternatiewe wêrelde te probeer hanteer. Miskien moet mens jouself afvra wat jý daaraan kan doen? Jy kan tog nie mensalleen ‘n verskil aan almal se lot maak nie. Maar jy kan die nood van die man of vrou wat vir jou werk, wat in ‘n ander wêreld as jyself leef, probeer verstaan en aanspreek. Weet jy wat is sy/haar van? Waar bly hulle, watter straat? Hoe lyk hulle huislike omstandighede? Watter van die opgegaarde goed in jou motorhuis kan hulle dalk gebruik? Al daardie klere wat te groot of te klein vir jou geword het; kan hulle dit nie dalk beter gebruik nie? Laat Dantè die laaste woord spreek:“Brothers,’ I said, ‘o you, who having crossed a hundred thousand dangers… you must not deny experience of that which lies beyond the sun, but to be followers of worth and knowledge.”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here