So is die lewe

Wat vrede bring, is die mense van al jou tuistes wat jy in jou hart saamdra. Mense wat die gat in jou borskas opvul. Jou tuistemense.

0
341
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Idillies. Die spierwit strande van Langebaan. Ouers en kleuters bou sandkastele in die helder lug. Die kobaltblou strandmeer en see vol statige seiljagte met sonbruin mense op die dek, teugend aan sambreeltjiepienk drankies, wat lui verby Dasseneiland vaar. Verskeie seilplankryers met vlieërs in helder kleure skeur oor die water. Toeriste sit tot laatnag by die straatkafees en lag. Wit dubbelverdiepinghuise teen die koppe staar almal blinkogig na die see. My woonplek die afgelope paar jaar. Ek betrag die spulletjie so op die einste spierwit sand en wonder: word mens se drome altyd waar? Hoe sou ek anders gedink het oor aftrede as ek vyf jaar terug geweet het wat ek nou weet? Ek dink aan Neil Diamond: “Well I’m New York City born and raised / But nowadays I’m lost between two shores / L.A.’s fine, but it ain’t home / New York’s home / But it ain’t mine no more / “I am”… I cried / “I am”… said I / And I am lost and I can’t even say why / Leavin’ me lonely still.” Mens se loopbaan, en die geleenthede wat op jou pad kom, vat jou soms na plekke waar jy nooit gedink het jy gaan wees nie. Soos baie korporatiewe mense, polisiemanne, onderwysers, soldate en predikante wat noodgedwonge dikwels moet verhuis. Jou aftrede en omstandighede vat jou daarenteen na die plek waar jy gekies het om te wees. Soms ook noodgedwonge. Dan kies jy waarheen om te gaan gelei deur jou insig op daardie oomblik. Die situasie in ons land het baie ouer mense beroof van die genot van hulle kinders en kleinkinders se teenwoordigheid. Een van die radiostasies waarby ek betrokke was as omroeper, het Afrikaanse luisteraars in 172 lande gehad. Mense wat lyk soos die bekende beeldhouwerk van ‘n man wat kop omlaag sit, hande tussen die knieë, met ‘n gat in sy borskas. Die Duitsers noem dit die “Heimats-erlangen”, die verlange na ‘n plek waar ek tuis is. Ons sien tans in ons land hoe ernstig en plofbaar grondeise polities geraak het. Mense soek grond, nie noodwendig om op te boer nie, maar net om, soos wat DJ Opperman in sy digbundel Komas uit ‘n bamboesstok skryf, penne in te slaan en te sê: “hierdie is Dirk se werf.” ‘n Adres. Maar daar is veel meer aan ‘n tuiste as bloot slegs ‘n adres. ‘n Tuiste is ‘n plek waar jy nie hoef uit te roep: “I am, I said” nie. ‘n Tuiste is ‘n plek waar jy ‘n halfuur vat om ‘n bottel melk te koop, omdat almal jou ken, en eers geselsies maak voordat jy kan wegkom. Dis ‘n plek soos in die Karoo, waar jy na die plaaswinkel toe gaan, met die groot afgedopte Joko-tee bord bokant die voordeur, die vrou agter die toonbank soengroet, jou pos kry, en jou tee, suiker en lekkergoedvoorraad aanvul uit die groot glasbottels wat op ‘n ry staan, (en jou skuld te laat opskryf in die boek), oor alles en almal te gesels en uit te vra, en haar dan weer te soengroet voordat jy huis toe ry. Die winkel wat net halfdag oop is, met ‘n handgeskrewe nota op ‘n stuk karton vasgeplak teen die petrolpomp. “As ek nie hier is nie sal Pieter by die ou pastorie jou help. As hy daar is.” In so ‘n tuiste is ‘n gemeente ‘n plek waar twee ouderlinge jou inwag op die stoep voor kerk, jou op die naam ken en vra hoe jy vorder met die plantery of stropery, of jy goeie pryse vir jou skaap op die vendusie gekry het. Elke man word met die hand gegroet en elke vrou word gesoengroet. ‘n Tuiste is ‘n plek waar jy weet: as ek vanaand gaan staan met my kar, kan ek vir Org of oom Hendrik of oom Willie bel. Of twintig ander. Hulle sal dadelik ry om my te kom help. ‘n Tuiste is nie noodwendig idillies mooi nie, dis ook ‘n plek waar SASOL se vlamme die rede is dat dit nooit regtig nag word nie, en die treine se geshunt diep in die nag jou laat omdraai met ‘n tevrede sug. ‘n Adres is anders. Daar weet jy, as ek nou siek word, of my kar breek langs die pad, is my moeilikheid geboek. ‘n Adres is ‘n plek waar jy by die kerk inloop, en ‘n vreemdeling by die deur knik halfhartig na jou kant toe om jou te verwelkom, want jy is slegs maar een van baie vreemdelinge wat glad nie tydens die diens oogkontak maak nie. Daar word nie teegedrink nie, en elkeen laat spaander so vinnig moontlik na kerk. Mense wat ouer word, beleef waarskynlik hierdie omgewingsverknogtheid meer intens. As jy jonk en opwaarts mobiel is, is jy veel meer aanpasbaar. Maar as jy lank op een plek gewoon het, wees versigtig om te verhuis na ‘n onbekende plek na aftrede. Al is die see blou en die strande wit daar. Jy vind dikwels dat jy na jare se verblyf steeds as “inkommer” en “buitestaander” beskou en hanteer word. “Die ou van Johannesburg.” (Volgens Kapenaars die stuk aarde anderkant die Hexrivierberge.) Al was jy nog nooit in Johannesburg nie. Ná ‘n paar jaar weet jy steeds nie wie voor, agter en langs jou bly nie. Wat vrede bring, is die mense van al jou tuistes wat jy in jou hart saamdra. Mense wat die gat in jou borskas opvul. Jou tuistemense.- Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here