So is die lewe

Ek het nooit weer gejag nie.

0
227
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Iemand vertel die afgelope tyd vir my van haar pa wat baie ernstig siek was. Terwyl hy in die intensiewe afdeling gelê het, het hy herhaaldelik gesê, later gesmeek, dat hy eerder wou sterf. Die intensiteit van die pyn en die aanhoudende lyding het hom totaal gebreek. Op ‘n stadium het hy sy vrou pleitend gevra om sy pistool te bring, sodat hy self ‘n einde kan maak aan sy lyding. Die hoogs ontstelde tannie het die versoek natuurlik geweier. Hy het swaar gesterf, ‘n paar oomblikke voordat sy dogter uit die Kaap by die hospitaal in die Noorde van die land kon arriveer. Uiteraard was dit ‘n diep ontstellende ervaring vir almal naby aan hom. Die dualisme: aan die een kant die seer en skok oor sy afsterwe, en aan die anderkant die magtelose toekyk hoe jou geliefde die mees ondenkbare vorm van lyding deurgaan, totdat jou eie toleransievlakke tot op sy uiterste beproef word. Elkeen wat al aanhoudende, onhoudbare pyn moes deurgaan en afhanklik geraak het van andere se versorging, of wat met ‘n geliefde dieselfde pad geloop het, word diep geraak deur so ervaring. Hierdie kwessie het onlangs weer aan die lig gekom hier in ons land.
Prof. Sean Davison (57), direkteur van die organisasie Dignity South Africa, is in Kaapstad gearresteer omdat hy die 43-jarige dr. Anrich Burger, ‘n kwadrupleeg, bygestaan het om selfdood te pleeg. Burger het ernstige chroniese pyn ondervind, en was feitlik totaal onbeweeglik na ‘n ongeluk. Hy het herhaaldelik en uitdruklik die wens uitgespreek om te sterf. Uiteindelik het die professor hom bygestaan om sy wens te vervul. Davison, wat ook in Nieu Seeland gearresteer is in 2010 nadat hy sy 85-jarige terminaal siek ma bygestaan het om selfdood te pleeg, word van moord aangekla. Hierdie kwessie lok wyd uiteenlopende reaksies uit. Verskeie standpunte is ter sprake. Daar is vele Christene wat redeneer dat die keuse tot lewe en dood net by God berus, en dat enige menslike ingrype daarin inmenging met die soewereine wil van God impliseer. Hierdie teologies-etiese standpunt het uiteraard baie meriete. Maar dan is daar ook die menslike ervarings: versorgers van mense wat totaal afhanklik van hulle geraak het, besef naderhand radeloos en hoogs gefrustreerd dat niks wat hulle doen, die pyn van hulle pasiënte kan verlig nie. En dan is daar die ervaring van die pasiënt self. Aanhoudende pyn is ‘n vretende, vernietigende ervaring. Dit verwoes alle lewensgenot en toekomsverwagting. Pyn beroof jou. Dit steel jou rasionele denke, en verklein jou wêreld tot die bed waarin jy lê. Hede, verlede en toekoms word ingebrand in een enkel ervaring van onuitstaanbare swaarkry. Wanneer jou daaglikse roetine van opstaan, stort en aantrek ‘n marteling begin raak, jou asem kort is en jy net vir klein entjies mobiel is, begin die perspektiewe van lewe en dood vir jou anders te lyk as diè van ‘n filosoof agter sy lessenaar wat akademiese essays skryf oor genadedood. IL de Villiers skryf in sy gedig Pyn (Manna oor die duine: 1974) “Ag, my God! / Ag, my God! Dit het vandag teruggekom. / Vlymskerp. / Aanhoudend. / Ek is moeg.” Hierdie eerste strofe van sy gedig som dit presies op. By vele ernstige siekbeddens en sterfbeddens het ek presies dít ervaar. Daardie moegheid wat ‘n mens oor die kranse van kan-nie-meer-nie stoot.
Hoe moet jy daaroor dink? Elke individu se blootstelling en ervaring aan sulke situasies slyp uiteindelik maar hulle denke en standpunte. Ek meen dat mens, soos in alle kontroversiële sake, versigtig moet wees om vinnige en oppervlakkige uitsprake te maak, veral as jyself nog nooit direk of indirek betrokke was by so ‘n lydingsproses nie. My standpunt hieroor is in die natuur gevorm, lank voordat dit ‘n etiese kwessie geword het. Ek onthou, een spesifieke dag in die jagveld. In die Noord Kaapse gemeente was dit vir jare tradisie, volgens ‘n kerkraadsbesluit, dat die predikant op die gemeente se plaas twee springbokke mag skiet. Sommige het gesê die besluit is geneem in die oorlogsjare, toe die gemeentetjie gesukkel het om die predikant se traktement te betaal, en op so wyse wou kompenseer vir sy vleisvoorraad. Dit was ook nie duidelik of dit twee springbokke per seisoen was, of per maand nie. Ek kon nooit die besluit opspoor nie, slegs mondelinge weergawes daarvan, maar het ook geesdriftig gejag, binne my gegewe regte. My geweer het ook uit die oorlog dateer: ‘n ou weermag .303 met opwipvisier. So tussen die boere met hulle moderne, uiters effektiewe jaggewere moes ek my skiet ken. En die .303 patrone het verwoesting gesaai, dit was swaarkaliber-ammunisie. Op dáárdie dag, alreeds diep in Meimaand, en steeds bloedig warm, het ek onder ‘n kameeldoringboom in die jagveld gesit. Geweer gelaai, water en biltong byderhand, en gewag op die troppie bokke. Iemand sou hulle te perd aanjaag, en dan sou ons elkeen op ons prooi kon aanlê. Ek het die gedreun van hoewe gehoor, en die stof gesien soos die trop naderbeweeg. Op my maag, een oog toe, het ek korrel gevat op een groot ram, met mooi horings. Toe die skoot klap, het hy net sy lyf geruk, en weggehardloop. Ek het hom gekwes. Nou het ure se spoorsny begin. Uiteindelik het ek hom gekry, grootogig angstig in die lang gras, deur die longe geskiet, en bloed wat borrel by die wond uit. Sy oë het my gesmeek. Ek het die geweer teen sy kop gedruk en die skoot afgetrek. Ek het nooit weer gejag nie. – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here