So is die lewe

“Etikette en toekennings is betekenisloos.”

0
212
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

My oorsprong lê diep in die vrugbare grond van ‘n Stellenboschse wingerd. Die Bolandse son, die reën en die bemesting op sy tyd was veronderstel om die druiwe waaruit ek gemaak is, te laat ontwikkel tot een van die mees gesogte kultivars. Ek was bestem om ‘n gesogte wyn te word, met ‘n deftige Franse beskrywing soos “Cabernet Sauvignon,” en ‘n uitsoeketiket, ‘n versamelstuk wat honderde rande op wynveilings sou behaal. Ek was veronderstel om in die Platters-wynhandleiding vermeld te word. Maar iewers het iets skeefgeloop. Uiteindelik beland ek toe as ‘n etiketlose R20-special by die Mooiberge-padstal tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Lank het ek daar gelê en stof opgaar, terwyl die duur, elegante wyne in trollies na die kassiere toe gestoot is. Tot op daardie dag wat iemand my gekoop het, nadat hy al die ander bottels opgetel, bekyk en weer neergesit het. Middeljarige man, wange diep gegroef, donker kringe onder sy oë. Vreugdelose uitdrukking op sy gesig. En my reis word een wat ‘n heel ander bestemming het as ‘n wynveiling, soos by ‘n hoërskoolreünie, waar iemand wat een of twee te veel gevat het, tot verontwaardiging van sy vrou hopeloos te veel op my sou bie om sy oud-skoolvriende te beindruk.
My misplaaste bestaan word voortgesit by diè man. In plaas van kristalglase by ‘n uithangdinee met kerslig, word ek strand toe gevat, en teen ‘n duin staangemaak. My Koper en sy Vriend skink my nie, maar gooi my inhoud onseremonieël in plastiekglase. “En toe,” vra Koper vir sy Vriend. “Hoe gaan dit met jou?” Vriend vat een slukkie van my, en kry so effense siddering in sy lyf oor die frankheid in my samestelling. “Hoe kan ek jou antwoord?”, sê Vriend. “Ek vat maar elke dag soos hy kom. Ek is gefrustreerd by die werk. My loopbaan lyk heel anders as wat ek gehoop het dit gaan wees.” Koper staar net na die see, terwyl hy stadig, slukkie vir slukkie, oor Vriend se woorde nadink. “Het jy toe ooit jou doktorsgraad klaargemaak?,” vra Vriend. “Nee,” antwoord Koper. “Daar het iets voorgeval.” Altwee staar nou na die see, en suig stadig aan my suurderige, effe ongebalanseerde smaak uit die plastiekglase. “Wat?” vra Vriend. Koper kry so blinkerigheid in sy oë, en kyk na ‘n groot vragskip wat vêr op die gesigseinder van die see lê en wag om by die hawe in te gaan. “Die lewe,” antwoord hy. “Ek het my werk verloor, en moes toe maar worstel om liggaam en siel bymekaar te hou.” Stilte sif vir so rukkie neer oor die twee manne. Die enigste beweging is wanneer hulle so nou en dan die plastiekglase na hulle lippe bring, of die inhoud daarvan opvul. “En jy,” vra Koper vir Vriend. “Jy was die briljantste student in ons klas. Ek was oortuig dat jy ‘n vol professor wou wees voordat jy dertig jaar oud is. Wat het gebeur?” Vriend druk sy bril teen sy voorkop vas met sy middelvinger. Hy knip-knip sy oë, en merk half terloops op: “Ek was maar net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek gewees.” Dan hang daar so paar oomblikke se swanger stilte in die lug. Seemeeue draai bokant ons, en krys hard, hulle kyk stip na ons om te sien of daar nie dalk ‘n vreetding is om op te raap nie. “To be or not to be, that is the question”, haal Koper met ‘n siniese glimlag vir Hamlet van Shakespeare aan. “Ja, beaam Vriend, “Heidegger het gesê mens leef deur jou keuses. En as jy verkeerd kies, is dit swem Jannie, swem!” Altwee lag skielik kliphard, want Leon Schuster se ou liedjies het vir baie binnepret gesorg tydens hulle studentejare. Toe hulle nog gebraai en gelag en musiek geluister en gedroom het.
“Sou jy jou lewe anders wou gehad het?”, vra Koper. “Dis moeilik om te sê. Ja, in die sin van dat ek baie meer kon bereik het in my loopbaan. En ja, in die sin van dat ek voel ek nie naasteby my potensiaal bereik het nie. Jy onthou Billy Joel se lied Pianoman: die kroegman wat sê: ”Bill I believe I could be a movie star, if I could get out of this place.” Hulle kyk nou vir mekaar. “En jy?’ vra Vriend. Koper suig aan nog so slukkie van my suurgeit, rol die wyn in sy mond rond. “Hoe meet mens hierdie dinge?” vra hy. “Ons was meer as drie dekades terug saam eerstejaars op universiteit. Ons het mekaar nie dikwels gesien deur die jare daarna nie. Dis maar die afgelope tyd wat ons weer kontak gemaak het. En hier sit ons vandag, en ons knoop ons borskaste vir mekaar oop. Ons het ‘n band van vriendskap, vertroue. Ons kan onsself wees. Ek kan vir jou hierdie batterysuur in ‘n plastiekglas gooi, (verwysende na mý!). En jy oordeel my nie op die uiterlike nie. Ek kan toekenningsloos, etiketloos met jou praat oor die lewe, oor letterkunde, oor musiek en poësie. En jy verstaan presies waaroor ons praat, en vul my kennis nog aan ook.” Vriend reageer. “Dit is waaroor lewe gaan, mater. As jy nou tien miljoen rand sterk was, maar geen benul gehad het wie Saint-Saëns, Vondel, Immanuel Kant, Van Wyk Louw en Berkhouwer is nie, sou jy ‘n beter mens wees? Maak etikette wat mense op jou plak, saak?” “Nee”, sê Koper. “Etikette en toekennings is betekenisloos.” En sit my versigtig regop. – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here