So is die lewe

Die bekende ballade lui: “tussen treine, tussen stasies, lê daar basies net die leë spore.” Daais maar al.

0
389
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Reuke, smake en geure kan jou in ‘n oogknip terugvat na ‘n ander tyd en ander plek van jou lewe. Die geur van skerp gespeseryde geregte na ‘n toegesneeude Oos-Turkye. Die smaak van maalvleis met baie tamatie in na die Casbah-padkafee in Brakpan. Die reuk van sonbrandolie en spookasem op ‘n stokkie na die Pavilion in Durban. Klanke doen dieselfde. Kris Kristofferson sing in Sunday morning coming down “somewhere far away a lonely bell was ringing/and it took me back to something that I have lost somehow, somewhere along the way.” Die klank van ‘n eensame kerkklok op ‘n Sondagoggend trek jou uit die hier-en-nou na ‘n voorstedelike Springs toe, of na ‘n stowwerige dorpie in die Karoo. Of na Trichardt, die Hoëveldse dorpie wat Sondaeoggende sy roes lê en afslaap na die vorige nag se gedoef-doef, motors wat wegtrek en bande wat skreeu op die teerpad, motorfietse wat teen hoë revolusies wegtrek. En ook, met skrikwekkende reëlmaat, die geluide van ambulanse of polisievoertuie. Maar in Trichardt, en Springs, en baie ander plekke in die land, word sintuiglike herrineringe vasgeknoop aan treine wat rangeer. Laataand op Trichardtstasie hoor jy hoe die treine teen mekaar stamp, en voel hoe die aarde daarvan vibreer. In Olifantsfontein het die trein direk langs die huis geloop, en as sy geluid hoorbaar geword het in die vêrte, het die kindertjies gehardloop om vir die masjinis te waai. Maar my kleintydherrineringe is meestal vasgeknoop aan die stoomtreine op Springsstasie. As klein seuntjie hoor jy laataand hoe die lokomotief begin stoom uitblaas, sy fluit wat twee keer waarsku, en dan die versnellende wiele wat tjoef-tjoef-tjoef, vinniger en vinniger. Soms gly die wiele as gevolg van die swaar vrag steenkool, dan begin die geluide weer van voor af. Jy lê in jou bed, knus en veilig, skoongeskrop na die buitespeel, grootoog in die donker, en luister na die koesterende geluide van die staalkolos wat jou vertel daar is ‘n wêreld wat nie vanaand slaap nie, buite jou kamer, beweging, mense wat werk. En voor jy aan die slaap raak, glo jy jou enigste probleme in die groot, wye heelal, is die karretjie wat jy laas maand met jou sakgeld gekoop het, wat weggeraak het.
Die gekoesterde, veilige enklave van gister en eergister se lewe. Laerskoolkinders wat op hulle eie tydens die Randse Paasskou Johannesburg toe ry. Wat verwonderd by die treinvenster sit en kyk na die Oos Randse stasies wat verbyflits: Brakpan, Benoni, Boksburg, Germiston, Johannesburg. Dan word daar geloop na die skouterrein toe, met nie die minste aanduiding of ervaring dat dit gevaarlik kan wees vir laerskoolkinders om in Johannesburg se middestad te loop nie. Die hele dag loop jy en jou maters rond op die skou, versamel pamflette van enigiets wat uitgestal word, van swembaddens en stootskrapers, kitare en klaviere, voedselverwerkers vir ma, kraggereedskap vir pa en dan, veral: motorfietse. Suzuki’s en Hondas en Kreidler Florets en Yamahas. En my droomfiets waarna ek ure gestaan en kyk het met groot oë: Die BMW R70. Laataand loop julle terug stasie toe met sakke vol pamflette, arriveer met die laaste trein vir die aand in Springs, en loop terug huis toe teen middernag. Gevaarloos. Skurkloos, kaperloos, ontvoerderloos, moordenaarloos en verkragterloos was ons alledaagse bestaan as kinders. Helaas het daardie lewe, soos baie ander drome, opgehou bestaan. En niks vertel die verhaal van hierdie verskiete drome meer as treine self nie. Sondag se Rapport berig dat ‘n ontspoorde trein met 12 ysterertstrokke al amper twee jaar in die Oos-Kaap langs die spoor lê. By die Flonker-uitwykspoor naby Noupoort in die Noord-Kaap lê drie lokomotiewe, met al hulle trokke ontspoor. Voor diè ontsporing het ‘n elektriese lokomotief amper ‘n jaar lank op dieselfde plek gelê voordat dit uiteindelik in stukke opgesny is. Coenie de Villiers sing in Karoonag: “as die trein by Noupoort fluit/en dit wegraak in die wind/en ‘n tolbos iewers vaswaai teen die rand.” So het die vervloë veiligheid van treine weggeraak in die wind, die tolbos van kindweeservaringe iewers teen ‘n rand vasgewaai. Te veel treine is al in die Kaapse Metropool aan die brand gesteek, oor die een of ander duistere rede. Mense word op treine vermoor en in die ry van treine afgegooi. Gister lyk vandag anders, is anders. ’n Voormalige stasiemeester sê volgens die Rapportberig “Wie wil trein ry as jy sien hoe die lokomotiewe in die veld lê?” Inderdaad. Maar soos Joël 2 sê: Ou mense sal drome droom. Die reuke, geure en klanke van gister het jou gemaak wie jy is. Stel jou in staat om te waardeer waar jy vandaan gekom het. En posisioneer jou vir die pad vorentoe. Dit bly jou baken van hoop, omdat jy weet dat die lewe anders kan lyk as wat dit noodwendig tans is. Treinstasies was plekke van lewe. Van beweging. Jy het die lekkerste varsgebakte vleispastei met sous, skyfies en slaai, asook ‘n koppie koffie vir 25 sent gekoop by die kafeteria, terwyl jy op jou trein gewag het. Op die beste porselein en met silwer eetgerei bedien. Jy het jou vyfsentmuntstuk in die modellokomotief gegooi, en gekyk hoe die ratjies draai. Verwonderd oor hoe mooi die lewe kan wees. Stasies was die toevlug van mense wat ‘n lewe gehad het. En ook selfs van mense wat nie ‘n lewe gehad het nie. Baie van hulle het daar skuiling gevind. Die bekende ballade lui: “tussen treine, tussen stasies, lê daar basies net die leë spore.” Daais maar al. – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here