So is die lewe

Om te werk is jou voorreg, nie jou straf nie. Vergewe en vra om vergifnis. Verander jou worst of times in best of times.

0
462
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Een van die mees aangrypende inleidings tot ‘n boek is in Charles Dickens se “Tale of two cities.” Die teenstellings van lewe word skreiend beskryf: “It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of Light, it was the season of Darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair. We had everything before us, we had nothing before us, we were all going direct to Heaven, we were all going direct the other way- in short: that period was so far like the present period, that some of its noisiest authorities insisted on its being received, for good or for evil, in the superlative degree of comparison only.” Mens besef nooit die effek van verandering in jou lewe so goed as wanneer dinge soos verhuising, aftrede, die verlies van jou werk of gesondheid of ‘n lewensmaat, die leë-nes sindroom, hulle koue hande om jou hart druk en jou laat nadink oor ander dinge as waarom jou lewe gewoonlik gedraai het nie.
‘n Gewone, voorstedelike lewe bevestig homself in voorspelbare dinge wat oor en oor gebeur. Seisoene wissel mekaar af met reëlmaat; mense verskyn binne die periferie van jou bestaan. Jy glimlag oor geboortes en dope en troues, Jy glimlag oor matriekafskeide en gradeplegtighede. Maar ook, ongesiens, sluip die verandering van reëlmatighede plek-plek in: leë plekke begin gaandeweg voorkom. Gesigte begin ophou om te verskyn by vrolike geleenthede. Leë plekke by jou kersfeestafel. Jy hoef skielik nie meer op te staan om te gaan werk nie. Dit tref jou: daar is ‘n patroon van lewe, ‘n siklus wat voltooi word: jy is nie vir altyd nie: Gewone dinge is nie vir altyd nie. Dinge verander. Jou foto’s bewys dit. Soos Dickens sê: Jy het the spring of hope. Dae van lag en hoop. En jy het the winter of despair. Oomblikke van huil en wanhoop. En tussen die kom en gaan van gesigte in die verskillende fases van jou lewe ontdek jy iewers die sleutel van jou hart: Dit is ek: dit het my gemaak wat ek is. Jy mag ook dalk the best of times en the worst of times van jou lewe daarin raaksien: daardie swart en wit foto’tjies van jou kleintyd, toe ‘n pa en ma gesorg het, toe ‘n kortbroekpakkie en blink gekamde kuif die uiterste doelwit van jou bestaan was. En daardie laerskool- en hoërskoolfoto’s waar jou gesig byna onherkenbaar jonk verskyn tussen lank vermiste mense. En dan die grootmensfoto’s: mense met wie jy jou lewe gedeel het, met wie jy deurnagte gestudeer het, saam met wie jy gewerk het, saam gelag en gesing en gekamp en getoer en swaargekry het. En ook hulle raak een vir een weg; die een na die ander. Van diè van hulle wat sterf, hoor jy wel die een of ander tyd. Maar die lewendes verskif dikwels tot newels van onbereikbaarheid. In jou lewensfoto’s sien jy die verskillende fases van jou lewe, hoe jy ongetroud was, later getrou het, kinders gekry het, ouer begin word het, jou kinders getrou het. Hoe die siklusse van jou lewe voltrek is: alleen, twee saam, huis vol kinders, dan weer later twee saam, en uiteindelik, teen die einde van jou lewenssiklus, weer alleen.
Jou lewensinventaris is die duidelikste bewys hiervan: Ek was tot nou toe ‘n swerwer deur die lewe; ek het van fase tot fase getrek, of dalk van plek tot plek. Maar daar was beweging in my lewe. Beweging vanaf jonk en kragtig, vol hoop en planne, tot meer bedaard, wyser en meer versigtig. Dalk beweging van hoopvol na hooploos, vanaf bruisend en borrelend na sinies en morbied. Van waar die lewe voor jou lê, tot waar die lewe agter jou lê.
Daar is dus nie veel sin te kry as ek al my hoop vestig op dit wat ek hier op aarde kan bereik nie. In ‘n oogknip kan ek dit verloor. Soos wat gesigte en drome en name kan wegraak uit my bestaan, so is my aardse besittings en die roem wat ek wou verwerf, my suksesse en aansien en eer en al daardie dinge, eintlik maar niksseggend. Daar moet iets meer wees aan die lewe. Daar is ‘n legende dat Koning Tsjaka van die Zoeloes alwetend was. Een dag het ‘n kryger voor hom kom staan met ‘n klein voëltjie in sy hand. Hy wou die mite van die koning se alwetendheid uitdaag. “Hierdie voëltjie, leef hy of is hy dood?”, het hy gevra. Tsjaka het geweet dat, as die voëltjie leef, kon die kryger hom maklik dooddruk, en as hy dood is, kon Tsjaka verkeerdelik meen die voëltjie leef. Toe sê hy: “Die antwoord is in jou hand.” Die antwoord oor sinvol leef is in jou hand. Die tyd gaan so bitter gou verby. Daarom moet ons hierdie reis wat lewe genoem word, ten spyte van sy teenstellings, elke oomblik geniet. Dit is dalk die heel laaste maal wat jy die geleentheid het om iemand se hand te vat. Geniet jou kinders en kleinkinders elke oomblik. Wees lief vir jou huweliksmaat. Maak tyd vir jou ouers. Geniet jou vriende en werk aan jou vriendskappe. Om te werk is jou voorreg, nie jou straf nie. Vergewe en vra om vergifnis. Verander jou worst of times in best of times. – Ds Marius Brits

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here