So is die lewe

“Sien my tog raak, hoor my, vat my hand!”

0
400
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Die Washington Post het op 12 Januarie 2007 ‘n interessante proefneming gedoen oor persepsies van mense. Terwyl pendelaars soos gewoonlik met die moltrein en die trein na hulle verskillende werksplekke toe skarrel, staan ‘n violis om 07:50 by L’Enfant, een van die stasies. Met ‘n denim, T-hemp en pet op sy kop, haal hy sy viool uit en speel vir 45 minute lank ses van die grootste Bach-werke. In die tyd wat hy speel stap 1097 mense by hom verby. 20 mense gooi geld in sy vioolkissie, ‘n bedrag van $32. Niemand het besef dit is Amerika se bekendste violis, een van die wêreld se grootste violiste nie, naamlik Joshua Bell, wat in 2007 aangewys is as die beste klassieke musikant in Amerika. Oral waar hy optree in die wêreld is die kaartjies uitverkoop, geen sitplek is oop as hy speel nie. Hy speel op ‘n Stradivarius-viool wat in 1713 gebou is en $3,5 miljoen werd is. 63 mense loop by hom verby voordat een man vir ‘n oomblik hom in die oë kyk, en net aanstap.
Soms, soos vanaand wanneer die reën sag neersif hier op die weskus, en die winter besig is om sy laaste stuiptrekkings te skop, is dit maklik om aan hierdie storie te dink. Jy vra jouself af: Is my lewensmusiek ooit gehoor? In die afgelope tyd het ek ‘n oud-skoolmaat vir die eerste keer in veertig jaar na matriek weer gesien, en ook ‘n oud-kollega van die SAW Logistieke Kommandement van meer as twee dekades gelede. Ons het gekuier, gelag, en ook met heimwee teruggedink aan húlle wie se spore intussen doodgeloop het. (Ja, en bietjie geskinder ook!). Daar is vele sulke mense op ons pad: van plekke waar jy gewoon het, gewerk het, vriendskapskringe waarin jy beweeg het, wat nie meer bestaan nie. Hoeveel mense het al langs jou pad verbygeloop, terwyl jy, soos Rob Bell op hulle alledaagse sleurgang staan en jou wysies speel? Wie het werklik die lewensmusiek gehoor wat jy gespeel het? Van die duisende mense met wie jy te doen gehad het, hoeveel van hulle onthou jou, het kennis geneem van wat jy gedoen en gesê het, wie van hulle se lewens is aangeraak, of meer nog, verander, as gevolg van jou? Topol in Fiddler on the roof sing: “ Each one of us is scratching out a simple tune / without making too much noise.” So is ook die pad waarop ons loop. Ongemerk, soms ongehoord, speel ons ons musiek op ander mense se besige lewensstasies. Hoeveel van hulle kyk op, en sien jou raak? Hoeveel onthou jou, glimlag omdat dit juis jý was wat hulle pad gekruis het? Of dit nou vier dekades gelede was, of net hierdie week wat verby is?
Maar by dieper nadenke besef ek dat hierdie ‘n onbillike vraag is. Want dit wat jy as onbenullig beskou, het hy dalk by diè mense vasgesteek wat jou pad gekruis het, waar ook al. En wat jý as belangrike note ag in jou lewensmusiek, is dalk vir ander minder belangrik. Klein dingetjies wat jy doen en sê, soms sommer op die ingewing van die oomblik, steek dikwels by mense vas, dit word hulle asiel teen die lewe se verniel. Jý kan die kers wees wat die donkerte verdryf in iemand anders se lewe, onbedoeld, sonder dat jy dit eens weet. Daardie handdruk, of drukkie, sê soms meer as duisend woorde. Wanneer jy ‘n groot persoonlike spasie het, soos ek, dan vermy jy fisiese kontak. Maar soms, net soms, oorweldig ‘n drukkie, of aanraking van jou skouer, of iemand wat jou hand vashou, jou. En dit bring ‘n dimensie in jou bestaan wat jy nog nooit verreken het nie. Soms skreeu iemand se hele wese uit: “Sien my tog raak, hoor my, vat my hand!”. Onuitgesproke versugtinge, goed weggesteek. En dalk was jý net daardie persoon wat juis dit gedoen het, wat deur een, enkele gebaar of optrede, onuitwisbaar iemand se lewe aangeraak het. En toe hierdie lig vir my opgaan, onthou ek vele voorbeelde. Mense wat jy raakloop, wat vir jou sê: “jy het een dag vir my gesê…en dit het vir my so baie beteken.” Gister het ek ‘n bejaarde egpaar besoek wie se kleindogter in ‘n motorongeluk oorlede is die vorige nag. Deel van my pligte as tydelike aflospredikant. Ek het my gewone musiek gemaak, by wyse van spreke, uitgevra, gesimpatiseer, en ‘n gebed gedoen. En die tannie, 91 jaar oud, was in trane. “Jy het vir my só baie al beteken,” het sy vir my gesê. “Jy het my twee keer in die hospitaal besoek toe ek siek was.” Ek kon dit nie eers onthou nie. Dit was my lankterug aflospligte. Maar daardie musiek wat ek gemaak het op haar lewensstasie, het haar laat opkyk. Ek het daar uitgeloop met die kosbaarste geskenk: ‘n bottel tuisgemaakte kerrienoedelslaai. Ek het besef: As mens een persoon se lewe aanraak net omdat jy iewers op hulle pad musiek gemaak het, jou voetspore êrens getrap het, jou vingerafdrukke gelaat het in iets eenvoudigs wat jy gedoen het, het jou lewe betekenis. Daardie 1097 mense wat verby jou geloop het terwyl jy jou wysies gespeel het, is minder belangrik as daardie èèn wat opgekyk het. As soveel mense ‘n groot gebeurtenis soos diè een op die stasie in Washington kan misloop, hoeveel klein dingetjies gaan nie by ons verby nie? Moet nooit ophou musiek maak nie. – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here