So is die lewe

“Meneer, niemand het my ooit so hard gewetter soos meneer nie”.

0
111
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Die skrywer Roald Dahl het ‘n verhaal geskryf met die naam SKIN. ‘n Man, Drioli, het ‘n jong vriend gehad wat ‘n kunstenaar was. Een aand het Drioli, sy vrou en die jong kunstenaar so lekker gekuier dat al drie naderhand te veel gedrink het. In die vrolikheid oorreed Drioli die kunstenaar om ‘n skildery van sy vrou op sy rug te tatoeër. Toe die kunswerk afgehandel is, was die kunstenaar so tevrede daarmee dat hy sy naam onderaan die tatoeëring geskryf het: Chaim Soutine.
Die vriende se paaie het toe daarna geskei, en soos die jare aangegaan het, het die storms van die lewe oor ou Drioli gegaan. Uiteindelik het hy ‘n straatloper geword in Parys. Een aand dwaal hy deur die strate op soek na ‘n slaapplek, toe hy op ‘n kunsuitstalling afkom. Onmiddelik het hy die styl herken; dit was die uitstalling van sy ou vriend, Soutine. Daar was belangrike gaste by die uitstalling. Hy het tussen die gaste ingestap, sy hemp uitgepluk en geskreeu: ek het ook ‘n Soutine. Die geskokte gaste was eers verbaas en verontwaardig oor die vuil boemelaar se optrede, maar een het die styl van die tatoeërmerk op sy rug herken. En daar was dit ook: Soutine se eie handtekening. Die galeryeienaar het begin om die een aanbod na die ander te maak vir die skildery. Hy het Drioli hemel op aarde beloof as hy daardie skildery chirurgies sou laat verwyder. Hoewel Drioli gewaarsku is dat dit sy lewe gaan kos, het hy saam met die gretige koper verdwyn. ‘n Paar weke later het die koerante berig van ‘n nuwe Soutine wat op die mark verskyn het van ‘n vrouefiguur wat op ‘n baie unieke medium geskilder is. Van Drioli het niemand weer gehoor nie.
Sommige ervaringe is so onlosmaaklik aan jou verbind soos ‘n tatoeëring op jou vel. Die plekke waar jy gebly het, jou ervarings, die mense wat jy liefgehad het. Om dit te verloor, is om soos Drioli op te hou bestaan. Daar is baie herinneringe wat op jou ingegraveer word. Een wat vanjaar spesifiek uitstaan, is die veertigjaar-reünie van ons matrieks wat in Oktober voorlê. 1978 was die jaar van Grease, van Queen se We are the Champions en Van Halen se You really got Me. Al die musiek waarteen ons dominee ons ernstig gewaarsku het. Soos ook teen Lexingtons en Richelieu. Ons het gedroom van Ford Capri’s. En oor die meisies van die skool langsaan wat ons net op ‘n afstand kon begeer. Ons naaste se skool se meisies. Dit was die tyd van ‘n onbeperkte toekoms. Weermag of swot of werk. Wat jy ookal sou kies, jy kon dit gaan doen. Die lewe het oop voor ons gelê. En ons klompie Oos Randse seuns was divers, soms wêreldwys, soms bitter naief, manne van ‘n seunskool in ‘n myn- en nywerheidsdorp wat dikwels onderwysers se ergste nagmerries waargemaak het. Nie dat hulle ons nie in toom kon hou nie. Ons biologie-onderwyser, Dawid Breet, was bekend as die rottangkoning. Hy kon man-alleen 99 matrieks in hulle spoor laat trap. Op ons vorige reünie het die manne tou gestaan om hom te groet. Baie van hulle was self al aan die ouerige kant. Ek was nog besig om te sê: “Meneer, niemand het my nog ooit so hard geslaan soos meneer nie”, toe kom die volgende ou, oud eerstespanslot: “Meneer, niemand het my ooit so hard gewetter soos meneer nie”. “Meneer” is nog steeds sy eretitel, met groot respek aangespreek. Ek het diè keer onthou toe ons maande tyd gehad het om prente van herbivore, omnivore en karnivore te versamel, vir ‘n baie belangrike taak. Die uwe het oudergewoonte vergeet, en die oggend op pad skool toe onthou dat dit D-dag in die biologieklas is. Gelukkig het ons ‘n almanak in die huis gehad met 12 foliogrootte kiekies van sjimpansees in verskeie posisies: met pakke klere aan, met brille op en sigare in die mond, agter tikmasjiene. Ek het een van die kiekies uitgesny, en vir die wis en onwis, ‘n tweede een. My vriend, ook ‘n Brits (met ‘n s), het daardie spesifieke oggend toevallig dieselfde dilemma as ek gehad: gebrekkige logistieke voorbereiding vir Operasie Diereklassifikasie. Maar, as gevolg van my mededeelsaamheid, was hy toe ook gereed vir die genoemde projek met ‘n kiekie van ‘n sjimpansee wat, mens kan maar sê, in ‘n menslike hoedanigheid verskyn. Ons sit toe selfvoldaan met ons sjimpanseekiekies, want volgens ons diep insig in die soölogie is ‘n sjimpansee al drie, herbivoor, omnivoor en karnivoor. Ons het onsself beskou as baanbrekers in navorsing oor dierekunde, vernuwende denkers. Met ‘n snedige gesnork, soos mr. Bean, het ons langs mekaar gesit en kyk hoe ons klasmaats hulle drie hopies uitpak. En die onderwyser wat van stoel tot stoel loop en raadgee en komplimenteer op hulle kiekies. Die laaste wat ek kan onthou nadat hy my triomfantelike uitstalling bekyk het, is: “Britz, gaan wag vir my in die pakkamer.” Vooroorgeboë, beangs en vreesbevange skuifel ek toe na die voorraadkamer, terwyl ek agter my die bulderende stem hoor: “Brits, jy ook!” As hy vanjaar op die weersiens weer daar is, wil ek graag vir hom sê: “Dankie meneer, dat jy die lewe op my vel getatoeër het. En jou naam daaronder geteken het met die rottang. Nou kan ek vir die wêreld wys: Ek het ook ‘n Breet! Daarsonder sou my lewe veel armer gewees het. Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here