So is die lewe

In die wêreld waarin ons leef, skuil mense dikwels agter maskers

0
1171
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

“En teen die more / lê net die kreukels in my laken /en ek, met aktetas bewapen / herken die weerkaatsing van my oë se pyn / in die ruitglas van ‘n voorstedelike trein / my vriend, jy wat dink dat die donker bedrieg / kom dat ek jou wys hoe die lig kan lieg…” So sing Coenie de Villiers in sy lied Donkerlieg. In die wêreld waarin ons leef, skuil mense dikwels agter maskers. Hulle bou fronte om hulle wat anders lyk as dit wat werklik in hulle harte leef. Die Saterdag nog loop Hendrik Schoeman by die kerkbasaar in Delmas rond. So vêr as wat hy beweeg, van groep tot groep, skater mense van die lag vir sy gevathede. Almal geniet hierdie joviale, gewilde persoonlikheid. Oud-minister, miljoenêr-boer, bobaas storieverteller. Maar die volgende oggend vroeg ry hy met sy Mercedes tussen die mielies in en skiet homself. Want niemand het die pyn geken van Hendrik Schoeman nie.
Ons leef in ‘n genadelose wêreld, ‘n wêreld wat jou duidelik laat verstaan dat daar nie plek vir swakkelinge is nie. ‘n Wêreld waarin daar bitter min simpatie en begrip vir andere is. ‘n Wêreld waarin mense dikwels en maklik mekaar vertrap en kwes. Want iemand anders is die potensiële bekleër van sy pos. Of is sy groot meedinger vir bevordering. Daarom beskerm mense hulself deur fronte voor te hou, deur maskers te dra wat moet beskerm teen seerkry, wat swakhede en vrese moet wegsteek. Andere moet net nie weet wat ons werklik voel en dink nie. Koos du Plessis sê in sy gedig Repetisie: “Kom wyse, duiwel, leuenaar! / kom dromer, vrome, sot! / Dis lig! Besluit dan tog onder mekaar / wie dra vanoggend my gesig.”
Jy vermoed dat ‘n sekere persoon onder erge spanning gebuk gaan. Of ‘n huweliksprobleem het. Of groot stres ervaar by die werk. Of moeg is tot die dood toe. En as jy hom vra hoe dit gaan, antwoord hy jou: “Dit gaan goed, dankie.” Agter hierdie masker lê sy vrees om beskou te word as ‘n swakkeling of iemand wat ‘n mislukking van sy lewe maak. Wat hy nie sê nie, maar duidelik bedoel, is: ek probeer my bes. Ek oorleef naelskraap. In die werksituasie ervaar jy dit soms dat mense verskillende fronte het. Die geduldige eggenoot, die liefdevolle pa, word ‘n streng, rigiede kantoorhoof. Sy wat ‘n sagte, huislike moeder is, word by die kantoor ‘n geen-nonsens bestuurder. Die pa wat ure lank sal luister na ‘n driejarige kind se klagtes en stories, is op die man af en saaklik met die mense wat saam met hom werk. Die berugte en streng sammajoor in die weermag laat troepe in trane uitbars op die paradegrond, selfs senior mense loop druipstert uit sy kantoor. Almal vrees hierdie bekende figuur met die oë wat dwarsdeur jou kyk en die groot gedraaide snor. Maar sy kantoor is net langs myne. En ek hoor hoe praat hy met sy vrou op die foon. “Ja Moekie. Nee, Moekie. Dis reg so, Moeder.” En ek besef: sy front is ‘n masker om mee te oorleef in ‘n militêre wêreld. Mense is bang dat hulle nie sal oorleef nie. Dat hulle “weekdele ontbloot sal word” soos Wilma Stockenström skryf. Daarom dra hulle veilige maskers.
Ook in die huwelik leef vele mans en vrouens soms agter maskers vir mekaar. Hulle ken mekaar al so lank. Hulle is al twintig of dertig jaar getroud. Hulle praat oor die huis en die skuld en die kinders en die familie. Hulle ken mekaar se sit en mekaar se opstaan. Hulle sê dikwels en maklik vir mekaar as hulle kwaad is. Maar in die hartjie van die nag is hulle vreemdelinge vir mekaar. Hulle ken die uiterlike van die persoon langs hulle, maar lewensmaat se innerlike is dalk totaal onbekend. Sê jy vir jou huweliksmaat dat jy bang is, of dat jy soms wonder oor die dood, of dat jou liggaam begin oud word en jy nie meer kan doen wat jy graag wil nie, of dat die lewe soms te veel raak vir jou? Of het jy dalk al so gewoond geraak aan maskers dra dat jy dit nie eers afgehaal kry voor die persoon naaste aan jou nie?
Dalk is jou maskers lank, lank gelede reeds gevorm. Dalk het jy grootgeword in ‘n huis waar jy altyd gedruk is om die beste te wees, en dit het jou gedwing om rusteloos jouself te bewys in elke opsig. Dalk het jy iewers langs die pad seergekry toe jy verneder is, of die gevoel gekry dat jy net nie op dieselfde standaard as ander mense is nie. Dalk het jy geleer om nie mense te vertrou nie, omdat jy al te veel vertrap is deur andere. En dan steek jy alles weg onder ‘n masker van sinisme of meerderwaardigheid of jovialiteit. Dalk is jy altyd die grapmaker in die geselskap. Maar onder dit is namelose onsekerheid en pyn weggesteek. Maar hoekom sou mens werklik iemand anders probeer wees as wie jy is?
Volgens die BBC se Science Focus is die kanse dat jy geneties presies gedupliseer kan word, een in 70 triljoen. Dit alleen maak jou so uniek, dat jy nie maskers hoef te dra nie. Wees wie jy is, soos jou Skepper jou gemaak het. Praat, dink en doen met oortuiging. Bly by die waarheid. Jy is onvervangbaar. Dit maak die dra van maskers onnodig. – Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here