So is die lewe

“Enjoy the life that you live.”

0
912
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Daar is ‘n anekdote oor Leonardo da Vinci en sy skildery Die laaste avondmaal. Dit lui dat, toe hy sy beroemde skildery van Jesus en Sy dissipels rondom die pasgatafel bykans voltooi het, hy twee kolle oopgelaat het, met detail nog uitstaande: die gesigte van Jesus en Judas Iskariot. Hy het blykbaar sterk gedagtes gehad oor hoe die twee gesigte sou lyk. Jesus s’n moes liefdevol, vreedsaam, gedetermineerd, kalm en rustig wees. ‘n Gesig wat uitstaan, wat treffend alle sintuie vasvang. En dan Judas Iskariot s’n. Da Vinci het ‘n gesig van weemoed, bittere berou, skaamte, emosies soos woede, selfs haat, in gedagte gehad vir hom. En die skilder het lank gesoek totdat hy op ‘n dag, eensklaps, die gesig gesien het wat voldoen het aan sy persepsies oor hoe Jesus sou lyk. Presies net soos wat hy gehoop het, vreedsaam, liefdevol, selfversekerd, gefokus, suksesvol. Die man het ingestem om geskilder te word, en het poseer as beeld van Jesus se gesig. Dit het net die leë kol van Judas se gesig gelaat. En drie jaar daarna het Da Vinci hom gekry: verflenterd, bitterheid diep gekeep oor sy gesig, wange hol, gegroef deur namelose pyn, oë verwilderd, kwaad en ontnugter. Da Vinci het hom gevra om te poseer vir Judas. Die man het bitterlik begin huil. Sy woorde was: “Drie jaar terug het jy my geskilder as Jesus. Die lewe het teen my gedraai.” So is die lewe. Die Duitse filosoof Karl Jaspers het gesê dat mens sorgvuldig jou lewe kan karteer, maar dat die kans altyd daar is dat jou lewensskip op die rotse kan loop, ten spyte van daardie deeglike plan wat jy opgetrek het vir die roete voor jou. Dan kan jy slegs een van drie dinge doen: óf lag, óf huil, óf van vooraf begin beplan. Pink Floyd eggo hierdie gedagte. “Then one day you find, ten years have got behind you. No one told you when to run, you missed the starting gun.” So vinnig, te gou gaan die lewe verby. Voordat jy nog kon keer of koes. En soveel mense beland uiteindelik op ‘n ander plek in ruimte en tyd as wat hulle beplan het. Jy beplan jou aftrede op ‘n sekere tydstip van jou lewe, maar vind jou eensklaps in die situasie dat jy jou werk of jou gesondheid verloor, en ingelanseer word in ‘n onbeplande vakuum van niksheid, van opstaan elke dag en wonder wat nou, waarheen. En al die gewaande gemaklikheid waarmee jy sou leef op jou oudag, is weg. Soos ‘n skip in die nag verdwyn. Of jy beplan hoe jy en jou lewensmaat eendag julle drome gaan waar maak. Reis deur die land, deur Afrika, deur die wêreld. Maar eensklaps bevind jy alles het verwronge uitgedraai, met spanning, slapelose nagte, en ‘n gevoel van ontsaglike verlies. Jy kom agter dat jy stadiger loop, dat jy swak word, dat jou asem jaag as jy ‘n entjie geloop het. Jy kom agter dat jy kleiner word, meer broos, meer kwesbaar. Jou gedagtes begin al hoe meer dwaal na die verlede. Die pad agter jou voel baie langer as die pad voor jou. Jy kom agter die grootmenslewe tussen die afsetterskoot en die eindpaal is toe veel korter as wat jy verwag het. Coenie de Villiers sing: “Voor jou is die deur gesluit, agter jou is dit nag.” Só voel jy. Ekself beleef vanjaar ‘n veertigjaar matriekreünie, en ‘n dertig jaar finalejaars kweekskoolreünie. En dis skrikwekkend hoe oud, verweerd, en verdwaal baie van die gesigte op kiekies geraak het. Dit is nou diè van wie jy weet, van wie se doen en late jy nog op hoogte is. Soos Pink Floyd sê: niemand het vir jou gesê hardloop toe die skoot geklap het nie. Daarom het baie die wedren misgeloop. Want hulle het gedog die lewe gaan baie langer wees. Maar steeds bly hulle hoop dat die beste nog voorlê, dat die fortuin, geluk of sukses wat so hoog op hulle fynbeplande lewenskaart is, net om die volgende draai wag. Vandag het ek iets daarvan by twee mense uit verskillende fases van my lewe beleef. Die een wat sê veertig jaar is in ‘n oogknip verby. En die ander een wat verwese sê: “kyk hoe lyk ek.” Kris Kristofferson sing in The Pilgrim: “Once he had a future full of money, love and dreams / which he spent like they where going out of style.” Dit laat mens mymer in jou meer reflektiewe oomblikke, laat jou wonder waaroor alles uiteindelik gaan. En baie frases en gedagtes gaan deur jou kop.
Toe ek Langebaan inry, vang my oog ‘n groot advertensie by die gholflandgoed. ‘n Jong paartjie glimlag breed op die plakkaat. Hulle beeld straal alles uit van die gedagtes wat jy eens gehad het, die plekke waar jy eens was. Gelukkig, vol afwagting vir die goeie dinge wat op hulle wag, drome skitterend in hulle oë. En in groot letters geskryf: “Enjoy the life that you live.” En dit tref eensklaps: watter waarheid. Die lewe, jou lewe, is daar om gelèèf te word. In geloof, in hoop, en in liefde. In deernis en omgee in die volheid van die oomblik. En, as jou skip op die rotse sou beland, om elke dag opnuut jou kartering oor te doen. Al is dit treetjie vir treetjie. Leef jou lewe. Voluit. Non, je ne regrette rien, sê Edith Piaf. Nee, ek het geen spyt nie.- Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here