So is die lewe

“Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.”

0
427
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Koos du Plessis sing in sy lied Skadu’s teen die muur: “In swart of wit getooi / in stoet of konvooi / wonder elkeen hoe lank alles nog sal duur / en leef holderstebolder / want die kis wag op die solder.” Met hierdie lirieke gaan Koos terug na die Griekse filosoof Plato met sy begrip van waarheid en werklikheid. Hy beskryf die begrippe met die beeld van ‘n man wat in ‘n donker grot langs ‘n vuur sit en kyk na die skaduwees wat teen die wand flikker. Die vuur is die waarheid, en die skaduwees die werklikheid, sê Plato. Die skadu’s is ‘n beeld van die werklikheid, ‘n afbeelding van die vuur, verwronge, maar onteenseglik.
Ek het iets van die werklikheid beleef in Kimberley die afgelope week, toe die stad vir twee dae afgesper is van die buitewêreld, en geen voertuig kon in- of uitgaan nie. Dit waarmee ons gekonfronteer is, was skrikwekkend: skares wat aanvanklik betoog teen swak dienslewering en korrupsie. Maar spoedig het dit oorgespoel tot grootskaalse plundery van winkels en besighede, wat ge-eskaleer het tot die afbrand van ‘n substasie, wat groot dele van die stad sonder elektrisiteit gelaat het. Daar is gedreig dat die munisipale watertenks volgende gaan wees. Dit het gepaard gegaan met ‘n staking by ‘n selfoonmaatskappy, wat vele sonder kommunikasie met die buitewêreld gelaat het. Feitlik al die besighede het toegemaak, en mense is gewaarsku om in hulle huise te bly. Al die winkelsentrums is ontruim en gesluit. Ons, wat van ‘n klein dorpie waar daar niks is nie, na Kimberley gereis het vir brandstof en kosvoorrade, was diep ontnugter. Ons moes met leë brandstoftenks en inkopiesakke terugkeer vanaf die blokkades buite die stad, met ernstige stres oor hoe ons sou kon oorleef en reis oor vêr afstande sonder kos en brandstof. Verskeie betogers en polisielede het in die hospitaal beland. Dit was ‘n voorsmaak van vele wetenskapsfiksie-literatuur, soos Karel Schoeman se Na die geliefde land, en Koos Kombuis se Hotel Atlantis, wat skrikwekkend realisties geword het. Mense wat ly onder misdadige roofbendes, ontwrigting en vernietiging van infrastruktuur, en wydogige vrees in die strate.
Maar ek het ook die waarheid, in Plato se terminologie, leer ken. Die vuur wat agter die werklikheid skyn. Armoede, frustrasie, werkloosheid, koue en honger is ‘n hoogs plofbare brandstof vir woede. In ‘n klein drievertrekhuisie het ek nege inwoners getel, wat oor vier geslagte strek. En ouma Miekie, vêr oor die negentig jaar oud, verlam in die onderlyf, wat op ‘n kaal sementvloer haarself voortsleep, want daar is eenvoudig nie geld vir ‘n mat nie, nog minder vir ‘n rystoel. Die sementvloer moes so koud soos ‘n yskas gewees het. Wanhoop en uitsigloosheid het soos ‘n donker mis om daardie huis gehang. Soos oor baie ander. Meer as wat mens sou wou tel. Elke benutbare spasie in die huise word vir slaapplek gebruik. Die longdrop is doèr anderkant, een vir klomp mense. Pap word gekook op ‘n sinkplaat buitekant, op brandhout wat bitter skaars is, omdat elke beskikbare boom alreeds afgekap is. Daar is nie plek in die huisie vir kosmaak nie. Dit het ek op vele dorpies gesien. Die surrealistiese werklikheid van swaarkry. Soos ‘n Picasso-skildery met sy groteske, verwronge gelaatstrekke, staan aanmekaargeflansde huisies. Dikwels word armoede beskou vanuit die veilige enklave van ‘n lugversorgde viertrekvoertuig. Verbygaande, vlietende beelde wat vinnig vergeet word. Selfs in die wonderskone Ceres, omring deur sneeubedekte berge, met temperature in die minus teen laatmiddag, het die sinkhuise twee meter van die besige hoofpad gestaan. Jy sou aan die wasgoed teen die drade kon raak as jy jou hand by die motor se venster sou uitsteek. Kaalvoetkinders met snotneuse bedel by die stopstrate en robotte. Sakkies gom word gesnuif as ‘n pantser teen die koue, die wanhoop en die ewige niks wat voorlê. Ou mans en vrouens grawe in asdromme op soek na die oorblyfsels van restaurantetes uit oordadige borde kos wat soms twee of drie keer teruggestuur is kombuis toe omdat die vleis óf te gaar, óf te rou óf te koud sou wees. Of kindertjies wat hulle kos net deurmekaarkrap, en net so los.
‘n Baie duidelike illustrasie van Plato se denke dat die waarheid en werklikheid nou verwant is. NP van Wyk Louw het geskryf: “Moet ek vir iemand nog iets sê / in hierdie land / wat luid van alle stemme is / en blink en brand / of, waar die goue lug al lank die aasvoël dra, / koud ‘n gedoemde waarheid weet / wat niemand vra?”
Wat is die antwoord? Mens sou simplistiese antwoorde kon bedink. Jy sou kon sê dat elkeen verantwoordelikheid vir sy eie dade moet aanvaar. En dat jy hard gewerk het vir dit wat jy het. Ek wonder daaroor. Want ook hier is ‘n dualiteit. Ek het al met ‘n swart karwag gepraat wat ‘n meestersgraad het. En met wit pensioenarisse wat hulle lewe lank hard gewerk het, maar bitter swaarkry op hulle oudag. Of gegradueerde mense wat noodgedwonge by hulle ouers moet bly, want daar is nie werk nie. So is daar vele mense, uit alle rasse, van wie gesê kan word soos wat Adam Small skryf in sy digbundel Kitaar my kruis: “die Here het gaskommel / en die dice het verkeerd gaval vi’ ons / daai’s maar al.” Die antwoord kom, ten slotte, ook van Koos Doep: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.” Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here