So is die lewe

Die wydsheid van die kaal karoo word ‘n warm karos vir ‘n koue hart.

0
773
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Hierdie storie klink onwaarskynlik, so ook die plek waar ek sit en skrywe, genaamd Plooysburg, maar dis die waarheid. Baie toeriste sak naweke en vakansietye op die weskus toe om die blou lug, die wit sand, die soel, luilekkersomersdae met die vlieërbranderplankry en groot seiljagte wat stadig oor die blou water van die strandmeer skeur, te geniet. By vele restaurante sit vakansiegangers tot laatnag op die sypaadjies en lag en kuier. Op die oog af heel idillies. Maar dikwels raak jy, ‘n weskusinkommer uit Mpumalanga, onrustig, en raak die weskus se deugdes wat so besing word in soetsappige liedjies, vir jou effe oordrewe. Jy raak akuut bewus van die spreuk: “Repois alleurs.” Rus is elders. Dan galm Coenie de Villiers se lied “Daar’s ‘n plek wat ek van weet, sonder sorge, sonder pyn, sonder leed”, harder as enige weskusliedjie oor bokkoms en snoek. Want vir my is die wêreld groter as Langebaan en Kaapstad. Vir die meeste gebore Kapenaars bestaan die wêreld uit die Kaap, dan mooi berge by die Paarl, en anderkant die berge is dit Johannesburg. Sommer ‘n plek, waar baie Kapenaars nog nooit was nie.
So vat ons toe die N1 verby Worcester, noord. In Kaapse definisie is ons nou in Johannesburg. Maar anderkant Matjiesfontein raak die omgewing bykans ongemerk anders, kaler, meer weerloos. By Laingsburg verby, daar oor die brug waar die groot vloed van 1981 oorgespoel het, sak die Grote op jou toe, die karoo. Die bordjie “Moordenaarskaroo” vertel al klaar iets van hierdie uitgestrekte landskap, die verlatenheid van ‘n onherbergsame aarde waarin die misdadigers uit die Kaap vroeër jare kon wegraak, veilig uit die visier van die geregsdienaars. En dan, eensklaps, is jy in ‘n ander wêreld, met ‘n vermoedenis dat jy iets van die ewigheid begin beleef, die plat aarde wat beklemtoon word deur ‘n koppie of ‘n rant hier en daar, waar die waterringe uit oertye verklap dat hier miljoene jare gelede ‘n groot see of meer was. Die wydsheid van die kaal karoo word ‘n warm karos vir ‘n koue hart; dit verplaas jou vanuit ‘n afgemete, voorspelbare voorstedelike bestaan na ‘n ander lewe, waar tyd en ewigheid saam met jou beweeg, soos die telefoondrade langs die pad. Anderkant Leeu-Gamka ry jy kilometers vêr langs die Blou Trein, en sien treinreisigers wat by die vensters sit en die wondermooi landskap van niksheid betrag met ‘n bottel Kaapse rooiwyn wat afglip soos satyn. En so loop jou pad, jou reis na vrede: Beaufort-Wes, Drie Susters, Victoria-Wes, Strydenburg, Britstown, Hopetown verby. Die stilte van die karoo is mooier as die grootste simfonie. “Hemingway and I, felt deeply in love with the land”, het Peter Sarstead oor Afrika geskryf. En jy besef: jy is vir hierdie deel van God se aarde, sonder berge en see en wit strande, hartstogtelik lief. Oplaas, laataand, arriveer jy by jou private stukkie hemel op die soom van die Groot Karoo. Wanneer jy ná twaalf ure op die pad stop voor jou beskeie nagmaalshuisie uit die ou tyd, raas die stilte sÓ dat jou ore suis. Miljoene karoonagsterre betrag jou nuuskierig vanuit ‘n pikswart, liglose hemel. Wanneer jy die voordeur van jou eeu-oue huisie oopstoot, en sien dat alles twee jaar na jou laaste kuier nog presies op hul plek is, ondanks die feit dat die huis geen wagte of diefwering of sekuriteitsligte het nie, weet jy: jy het vrede gekry. Jy is in die voorportaal van die hemel. God is net ‘n hartklop vêr. Die ewigheid kom lê volledig in jou. Eensklaps. Onteenseglik. Die enigste tekens van lewe laataand op die klein dorpie is die jakkalse wat hartseer weeklaag, net hier anderkant jou, die pikswart donkie wat in die stofpad verbyloop, en die koedoes wat langs die begraafplaas staan en wei. Omdat jy moeg is na die lang rit, los jy sommer jou skootrekenaar, selfoon, (wat in elk geval nie hier werk nie), en jou kamera op die stoeptafel. Moreoggend sal dit steeds daar wees.
As die son opkom, lyk die dorpie presies dieselfde as wat jy onthou. Die bekende ou huise, die rant wat beskermend die paar geboutjies toevou. Die begraafplaas met sy ou grafte van vorige geslagte. Die rye onbekende kindergraffies wat waarskynlik uit die Groot Griep, of selfs die Anglo-Boereoorlog dateer. Wanneer jy met jou wandelstok tussen die grafstene deurloop, word dit jou as oud-dominee se persoonlike pelgrimstog na die verlede. Die legendariese oom Kellie en tannie Hester onder die groot klip uit die veld wat die oom persoonlik laat aanry het, jare voordat hy oorlede is, omdat hy geglo het niemand anders sal dit kan doen nie. En die ander legendariese oom wat eendag in Kimberley voorgekeer is omdat sy hond bo-op sy skouers gelê het terwyl hy bestuur. Toe die verkeersbeampte hom aanspreek, sê die oom verontwaardig: “Maar hierdie is ‘n opregte jakkalsvangerhond!” Die beampte antwoord toe: “Maar oom, hier is nie jakkalse in Kimberley nie!”. Waarop die oom antwoord: “Dit wys jou watter goeie jakkalshond dit is.”
Dit raak nou spitsverkeer hier. Daar is die afgelope uur twee donkiekarre en een bakkie in die stofpad verby. Die passasiers wat hulle hoedens lig en hartlik groet. Die plaaslike mense uit die ou jare wat een-een kom klop, en groet, en verneem na elkeen van jou kinders se welstand, en jou breedvoerig inlig oor die verloop van hulle lewens. Ek is van mening dat Dawid Psalm 8 hier, in die karoo, geskryf het. Ds Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here