Hoërskool Secunda stel nuwe Departementshoof aan

Sy het later by Ligbron Akademie vir Tegnologie skool gegee, en daar onder die baie bekwame Lenie van Zyl gewerk.

0
915
The Bulletin Newspaper

1 April is vir baie ‘n dag van grappies. Vir Hoërskool Secunda was dit egter ‘n dag om hulle erns met die akademiese opvoeding van hulle leerders te beklemtoon en ‘n nuwe departementshoof: Wiskunde, is aangestel!
Stephnie Kroucamp (nuwe departementshoof: Wiskunde) is iemand met ‘n passie vir onderrig, veral vir onderrig in Wiskunde. Met hoofvakke Chemie en Plantkunde het Stephnie haar BSc graad by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) voltooi. Ander vakke het ingesluit Wiskunde en Dierkunde.
As jong student het sy by Hoërskool Linden geproef. Sy het na haar studies by Hoërskool Linden aangesluit en Wiskunde gegee onder die wakende oog van Henna Schwartz ‘n legende in Wiskunde kringe. Henna was haar groot inspirasie, en sy het baie by haar geleer. Sy het later by Ligbron Akademie vir Tegnologie skool gegee, en daar onder die baie bekwame Lenie van Zyl gewerk. Die ondervinding wat sy daar opgedoen het, is vir haar van onskatbare waarde.
Stephnie se passie vir onderwys het egter nie daar begin nie. Sy wou van kleins af ‘n onderwyseres word, en so het haar pa sy motorhuis vir haar ingerig as ‘n klaskamer. Hier het sy dan vir die buurt se kinders klas gegee in die skoolvakansies. Sy het selfs huiswerk gegee en baie ongelukkig geraak as hulle dit nie doen nie, en hulle derhalwe daaroor gestraf. Van die ouers het later by haar ma gekla en gevra dat sy liefs die straf moet los!
Stephnie het as student verskeie prestasies behaal en net ‘n paar word hier genoem:
Een van RAU se top presteerders in 2002.
Beste plantkunde student in 2002 en 2003.
Dameskoshuisvoog in 2005.
As onderwyser het sy die volgende toekennings ontvang:
Beste graad 12 uitslae in Wiskunde: Klub 100 (2013)
Beste graad 12 Wiskunde uitslae in Gert Sibande (2014) asook beste presterende Wiskunde onderwyser in Gert Sibande (2015).
Die lys hou aan en aan.
Stephnie se droom is om elke kind te help om sy volle potensiaal in Wiskunde te ontwikkel, om na die beste van sy/haar vermoë te presteer. Sy wil ook graag voortbou op die goeie resultate wat Martie de Beer behaal het.
Hoërskool Secunda kan uitsien na ‘n opwindende Wiskunde toekoms!

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here