So is die lewe

As jy deur plekke soos Hillbrow of Seepunt ry, dan beleef jy die alleenheid, die verlatenheid wat oor baie mense toesak op ‘n Sondag

0
535
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Kris Kristofferson sing: “There is something in a Sunday that makes a body feel alone”. Inderdaad. Sondae is refleksietyd, seertyd, verlangtyd, alleentyd vir baie mense. Vroegoggend al sien jy dit. In stede, in dorpe, op die platteland. As jy dan iewers heen moet ry, is die strate stil, meestal verlate. Een-een loop kettingwinkels se werkers na hulle werksplekke toe. ‘n Eensame drawwer hardloop starend, skynbaar onbewus van die groot verlatenheid om hom. Die besige strate van die vorige aand, toe restaurante vol was, karre orals geparkeer was, is nou doodstil, amper soos ‘n skedel wat meewarig gryns. Net leë bottels en plastieksakke en omgeryde robotte getuig dat hier wèl mense was, mense wat op ander dae as Sondag bestaan. As jy deur plekke soos Hillbrow of Seepunt ry, dan beleef jy die alleenheid, die verlatenheid wat oor baie mense toesak op ‘n Sondag. Mense met verflenterde klere wat in restaurante se asblikke grawe waar ander mense se oordadigheid weggegooi is. Mense met plastieksakke vol besittings waarin hulle hele lewe is. ‘n Tandeborsel, ou Bic-skeermes, deurgeskifte waslap, verflenterde trui, dalk Zambuksalf vir die een of ander ou seerplek. Selfs dalk ‘n ID-boek of verweerde fototjie van lank, lank terug. Toe hy, of sy, nog ‘n blinkoogkind was wat tussen pappa en mamma gestaan het. Met drome wat later deur die lewe verniel is. Die foto is hulle vashou aan hoop, hulle harnas teen identiteitsloosheid. Ek is ook mos iemand, meneer. Mense wat survive met ‘n helse lot pyn, soos Johannes Kerkorrel sing in sy lied Hillbrow. As jy by die robot stop en ‘n flenterkaalvoetkind, brandmaer, halfpad verkluim, vra jou: “Geldjie vir ‘n broodjie, my Lanie?” besef jy dat jy eintlik min verstaan van die lewe.
Dis nie net hulle, die ontbeermense, wat daardie Sondaggevoel het nie. Want sit jy langs Langebaan se strand Sondagvroegoggend of laatmiddag, sien jy dit ook. Die luukse motors wat daar geparkeer staan, verkondig dat hierdie nie brugslaapmense is nie. Maar dieselfde gevoel van Sondagalleen is in hulle, ingeteel, geneties vasgelê. Die middeljarige dame wat teen die see loop en kyk oor die branders, wie se alleenheid nie grense het nie. Miskien het sy en haar man hier kom aftree, en skielik, eensklaps, is hy weg. Soos die seerkrymense, is ook haar man se foto haar enigste hegtingspunt aan ‘n ánder lewe. Sy ontydige afsterwe was nooit deel van hulle planne nie. Want dis menslik om te wil leef asof eindelose tye op jou wag om geniet te word, om saam te wees, te ontdek, te reis, te geniet. Miskien dink sy aan die grootpaaie en voetpaaie van haar lewe: wortels wat lê in ‘n stowwerige Karoodorpie, of iewers op die Hoëveld. Hulle troue iewers in ‘n plattelandse kerk, ‘n uitdagende loopbaan wat sorgvuldig beplan is om op aftrede by die see uit te loop. Ontnugterde kinders wat nou in Australië of Kanada bly. Oorblywende familie wat vêr is. En nou is dit, op hierdie Sondagmiddag, net sy en die see. En die meeue wat haar angstig dophou om te kyk of sy nie dalk vir hulle ‘n ietsie te ete gooi nie. Ten minste sien iemand haar raak, of eerder, iets wat ook asem haal, en beweeg, en geluide maak, soos Jan Rabie skryf. Op die stoep van die restaurant sit ‘n man. Hy teug stadig aan sy glasie wyn. Suig diep aan sy sigaret. Hy het die wêreld se tyd, hy is nie haastig nie. Want hy het eintlik nêrens om heen te gaan nie, behalwe die eenmanwoonstel waar hy minimalisties lewe. Bank, TV in die sitkamer. Enkelbed met laaikas. Ou Supersonicradio waarop hy na RSG luister. En stapels boeke. Maar hy lees nie eintlik meer nie. Hy het sy lus daarvoor verloor. Hy blaas die rook stadig uit, en mymer oor hoe irrelevant ‘n meestersgraad word as jy in elk geval niks anders oor het nie. Geen loopbaan, gewese vrou wat nou gelukkig getroud is met iemand anders, kinders wat wie weet waar is. En hy, wat eens ‘n gerekende man was, wie se loopbaan sy lewe opgeslurp het, wat stories oor reise na Istanbul en Brugge en Amsterdam en Washington kan vertel, is op hierdie Sondagmiddag slegs ‘n onbekende, anonieme wyndrinker wat sit en kyk hoe die son agter Schaapeneiland ondergaan. Hy probeer onthou hoe dit voel om te lag. Niemand stel belang in ‘n ou man met ou stories nie. Hy kyk na die pa en die ma wat op die strand saam met hulle witkopdogtertjie ‘n sandkasteel bou. Met torinkies en gragte en dryfhoutbruggies. Hy onthou hoe hy en sy vrou en kinders ook in ‘n ander lewe sulkes gebou het. En die hoogwater daardie selfde nag nog daaroor gespoel het. As hulle die volgende dag gaan kyk het, was daar niks oor nie.
Saam met hom in die restaurant is daar lawaaierige stadsjuppies. Hulle tokkel almal op hulle selfone, en wys vir mekaar die prentjies op Facebook en WhatsApp van verweerde katte en babelasmense wat kerm en kreun: “No, not Monday again! I don’t want to go to work. Wake me up when Friday comes”. Hulle lag luidrugtig. Die een snaakser as die ander een. In die hoek sit ‘n ou en kitaar speel en sing: “How can you tell me that you’re lonely? Let me take you by the hand, and lead you through the streets of London. I’ll show you something to make you change your mind”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here