Wanneer die liefde runnik

Die dokter het gesê as sy van die perd af val of haar kop stamp kan sy haar oog verloor.

0
272
The Bulletin Newspaper
Salomé en Savanna ken mekaar al agt jaar

In Mei maand stap Salomé Joubert en haar perd Savanna agt jaar saam en die liefde tussen hulle groei steeds.
Van dresseer en spring tot skou, dié twee is soos Vinkel en Koljander. “Ek is baie lief vir Savanna, op ‘n manier het sy my leer perdry,” het die blondekop gesê.
Sy het as klein dogterjie saam met haar ma se vriendin op ‘n perd gery en beide haar oupas het perde gehad. “Ek dink dit is ‘n ingebore liefde,” het haar ma, Suzette gesê. “Sy het aangehou dat sy haar eie perd wil hê en ons het gedink dis net ‘n fase.”
Salomé is ‘n perderuiter van formaat en het verlede jaar so goed gevaar dat sy aan die Nasionale Kampioenskappe deelgeneem het, al het Savanna een van die vier kwalifiserende proewe gemis.
“Sanesa het vier skoue per jaar en dan word jou punte gekombineer en as jy ‘n sekere persentasie bereik het, word jy genooi vir die Nasionale byeenkoms. Ons het nie geweet sy gaan na die Nasionaal toe nie, dit was vir ons ‘n groot verrassing. Sy het ‘n skou gemis, maar haar punte was so goed dat sy elk geval genooi is,” het Suzette trots gesê.
In 2011 het sy vir die eerste keer aan ‘n skou deelgeneem, hoewel sy op die skou deur iemand gelei is. Alles was goed op dreef toe Salomé van hoofpyne begin kla het. Haar ouers het haar na die oogarts geneem en uitgevind dat haar retina sedert geboorte nooit vasgegroei het nie. Die dokter het gesê as sy van die perd af val of haar kop stamp kan sy haar oog verloor. “Teen die tyd het sy reeds 3 of 4 keer van haar perd afgeval en al wat ek kon dink is hoe geseënd ons is dat sy nie eenkeer iets oorgekom het nie,” het Suzette gesê.
Salomé moes gaan vir ‘n oogoperasie en hoewel sy drie weke af was, het sy en Savanna nog steeds tyd saam spandeer en mekaar geleer ken. “My grootse bekommernis was dat ek nie weer kan perdry nie en ek het nie altyd in die aande geslaap nie,” het Salomé gesê.
Marjorie Greyling, SANESA se hoofvoorsitter, het gehelp om Savanna te leer. “Ons het Savanna op tweejarige ouderdom gekoop. Die verkopers het gesê sy is reeds geskool, maar eintlik het sy niks geweet nie. Majorie het ‘n baie goeie werk gedoen.”
Salomé wat ‘n Hoërskool Secunda leerling is, wil eendag ‘n professionele perderuiter word.
Hoewel Salomé en haar familie op Secunda bly, loop Savanna in Bethal waar sy professionele versorging ontvang. Van ‘n tandarts tot ‘n stalkneg, Savanna is omtrent bederf.
“Die beste was om te leer spring want vir daardie paar sekondes verdwyn alles, maar die ergste was die afval deel,” het Salomé gesê. “Maar ek sal altyd weer opklim, want as ek afval is dit gewoonlik my eie skuld.”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here