So is die lewe

    As mens maar net al die name kon noem met wie jy nog wou praat

    0
    1089
    The Bulletin Newspaper
    Ds Marius Britz

    Die hartseerste woorde, sekerlik, is: “Ek wou nog.” Dit begin met: “Ek sal nog bel. Ek sal binnekort.” As ek tyd het. Die risiko is dat hulle wie jy nog wou bel, skielik nie meer daar kan wees nie. Weg. Net weg. As mens maar net al die name kon noem met wie jy nog wou praat. John McDermott sing oor sy pa se dood: “I thought he’d live forever, he seemed so big and strong”. Maar hy het nie vir ewig geleef nie. “And I miss him, the old man”, sing McDermott. Ek en Dana Snyman, een van die grootste skrywers in Afrikaans, het so paar jaar terug gekuier in Vredenburg. Hy het navorsing gedoen oor predikante waaroor hy ‘n toneelstuk geskryf het genaamd die “Die wel en weë van ds. Tienie Benade”, met Frank Opperman as akteur. Ek het ‘n paar staaltjies aan hom vertel oor my ervaringe in die bediening, wat hy daarin gebruik het. Dana het fyn geluister tydens ons gesprek. Hy het die ongelooflikste detail van ons urelange gesprek neergeskryf, en selfs ongemerk ‘n foto van my hande geneem waar ek ‘n pakkie suiker oor en oor rondrol. En oor ons koffiekuier in sy boek “In die blou kamp”, geskryf (p.28) Ek het voorgeneem ek gaan by hom kuier in Jacobsbaai. Ek het hom ‘n paar keer weer gesien daarna, en telkens my voorneme bevestig. “Ek kom nog”, het ek belowe. “Ons gaan lekker kuier”. Intussen het hy groot pyn in sy lewe beleef. Ek kon sy pyn lees, en ervaar, maar ek het nooit daarby uitgekom nie. Of daarop gereageer nie. Vanoggend hoor ek hy trek weg vanaf Jacobsbaai, na Kaapschehoop. En ek wou nog by hom gaan kuier. En so kan mens vele name noem van mense by wie jy nog wou uitkom. Maar jy het nie. Jy raak te vasgevang in jou eie lewensdrama. Jou eie pyn, jou eie lewe raak in die pad. As ek die name moes noem van mense by wie ek nog wou uitkom, sal my 900 toegelate woorde vir hierdie rubriek veels te min wees. Ek kry vandag ‘n boodskap van iemand wat meer as ‘n kwarteeu terug deel van my gemeente was. “Ek moet asseblief jou vandag nog sien,” het sy gevra. Ek het geantwoord: “Ek kan nie vandag nie. Kan ons later?” Ek was nie besig nie, maar het nie kans gesien nie. Ek het nie krag gehad daarvoor nie. Ek het nie weer van haar gehoor nie. Intussen het ek my foon afgesit. Ek wil nie hoor nie. Nie nog ‘n keer nie. Iewers in die weermag was daar ‘n sammajoor wat elke dag in my kantoor was. Hy was moeg om te leef, en het aanmekaar gedreig om op te hou met leef. Uit desperaatheid, op ‘n Vrydagmiddag 17:30, het ek gesê: “Doen dit dan, as jy wil”. Daardie aand laat het die RSM my gebel en gesê dat hy dood is. Hy het dit gedoen.
    Wat sê mens? Ek weet nie. Toe ek jonk was, het ek gedink ek ken al die antwoorde. Noudat ek ouer en wyser geword het, besef ek ek weet eintlik min. Die woorde: “Ek dink aan jou”, en “sterkte”, beteken niks as jy dit nie opvolg nie. Beloftes en voornemens tel nie, net daadwerklike doèn.
    En ek worstel jare al met die vraag: sou ek nie dalk iets kon verander het nie? Iets aan die seer van die man wat ek een aand laat iewers op ‘n grondpad ontmoet het nadat hy my gesmeek het om hom te help. Ek het met hom gestoei om die 9-mm pistool uit sy hand te vat, dieselfde pistool waarmee hy later selfdood gepleeg het.
    Soveel mense wat alleen is, eensaam, desperaat, aan die einde van hulle kragte, kruis ons pad elke dag. Maar dikwels sien ons dit nie raak nie, of sien nie kans daarvoor nie. Die antwoord is eenvoudig. Dalk kon jy ‘n verskil maak. Soos Valiant Swart sing: “Dis ‘n stukkende wêreld”. Dalk kan jy. Of eerder, jy kan ‘n verskil maak. Nie met grade in sielkunde en beradingstegnieke nie. Maar eenvoudig net deur te wys: Ek gee om. Al maak mense foute, weet dat jy ook onvolmaak is. En deur te glo dat jou sondes vergeef word, kan jy ook vergewe. En met sagte oë na die wêreld gaan kyk.
    Moet nooit op die punt kom waar jy moet sê: “Ek wou nog nie”. Wanneer jy hierdie rubriek gelees het, besluit dat jy ‘n verskil gaan maak. Nie deur kennis van Freud se sielkunde nie. Maar deur net eenvoudig sag te wees. Hou jou geliefdes vas, druk hulle en sê: “Ek is lief vir jou!” ‘n Liefdelose huwelik, gesinslewe, werksomgewing is ‘n dodelike gif. Dit maak mense se lewens stukkend, en laat hulle bietjies-bietjies doodgaan. Moet nooit, maar nooit sê: “ek is nie lief vir jou nie”. Leer om lief te wees. Dis waaroor alles gaan. Jy kan ander mense se lewens verander deur self anders te word, deernisvol te wees. Kyk met Jesus se oë. Het Hy op sy martelgang in die Weg van Smarte na die spottende skare gekyk met liefde? Ek weet Hy het. Moenie die oorsaak wees dat jou huweliksmaat, jou mense, jou vriende, jou kennisse, ooit eensaam en sèèr is nie. Sien hulle Via Dolorosa raak. Jy, net jy, kan die verskil maak. Vermy ten alle koste die woorde: “Ek wou nog”.

    LEAVE A REPLY

    Please enter your comment!
    Please enter your name here