So is die lewe

Die musiek is tragies-hartseer, dramaties. Die woorde verruklik mooi.

0
358
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Om ‘n omroeper te wees op ‘n radiostasie, klink baie romanties. As jy na jou radio luister, klink dit of hulle woorde sommer so maklik vloei. Elke woord netjies ingemessel in ‘n muur van stories en nuus en sport en vertellings en aanhalings. Maar in werklikheid is dit baie moeilik. Om ‘n program vooraf op te neem, is maklik, want dan kan jy die stotter en verkeerde woordkeuses uitredigeer. Om “lewendig” op die lug te gaan, is ‘n ander storie. Dit vat ure se noukeurige navorsing en voorbereiding, en intense konsentrasie. Die wye wêreld daarbuite luister met ‘n fyn oor na enige teken van rassisme, obseniteite, godsdienstig omstrede stellings, politiek inkorrektheid, ens. Dink maar hoeveel omroepers die afgelope tyd in die nuus was oor uitlatings wat hulle gemaak het. En dan ook die moeiliker deel: as jy laataand voor die rekenaarskerm sit, en al beweging wat jy sien, is die monitors en volumebeheer en die speellys, en jou enigste gehoor is die mikrofoon voor jou. Dan dink jy soms aan die vroeë jare van Radio Jakaranda, rondom 1985, toe ‘n gewilde deurnagomroeper een oggend in die hartjie van die nag gesê het: “Ek mors my tyd. Daar is niemand daar buite nie”. Hy het alles in die ateljee afgesit, en huis toe gegaan. Groot opskudding, en hy moes vir depressie behandel word voordat hy weer kon uitsaai.
Maar die impak van radio op mense se lewens is elke dag verrassend. So speel jy ABBA se Andantè Andantè. “Take it easy, with me, please. Touch me gently, like a summer breeze”. En die boodskap kom in die ateljee deur: “Jy ken my nie. Maar dankie vir hierdie lied. Ek huil terwyl ek vir jou skryf. My man het my alweer geslaan. My oog is toegeswel, en my lip gebars. Ek is ‘n adjunkhoof by ‘n hoërskool. En ek het moreoggend ‘n belangrike vergadering.” Jy speel “Alleenheid” van Coenie de Villiers. Hy sing: “om die alleenheid te ontwyk, koop ons boeke en musiek, drink ons whiskey in die donker, luister Bach, hoor hoe iemand langsaan lag”. En die Watsapp kom van die ou tannie. Sy is al jarelank ‘n weduwee, en haar kinders het alle kontak met haar verbreek. (Terloops, sy is verbasend tegnologies vaardig vir iemand van in die sewentigs). “Liefie,” sê sy, “ek maak gou vir ons twee ‘n broodjie en lekker tee”. En twee minute later: “skuus Engel, ek was gou badkamer toe. Maar ek luister heeltyd na jou.” En jy weet jou stem op die radio, jou onsigbare teenwoordigheid, word die harnas teen haar eie oorweldigende eensaamheid. En nog later: “Ek is verskriklik lief vir jou”. Haar eensame lewe, haar gepredestineerde ballingskap is onoorkombaar. Op ‘n ander program praat jy oor weermagtye. Jy speel “Ballad of the Green Berets”, ook “Oshakati, Wamboland.” Die troepe se kenwysie. En daar kom ‘n e-pos deur in die ateljee, effens onsamehangend. “Ek was daar. In die Bos. Ek het lyke gesien. Baie. Ek het iemand geskiet. Ek het hom in die oë gekyk voordat ek hom doodgeskiet het. Hy kyk nou nog elke dag en elke nag vir my. Oral waar ek gaan. Ek wil hom net verwoes. Ek gooi hom met koppies, glase. Selfs met die kombuisstoel. Hy wil nie weggaan nie. My vrou en kinders weet nie hoekom ek so bang en kwaad is nie. Niemand weet iets daarvan nie. My vrou slaap in ‘n ander kamer omdat ek snags so skreeu in my slaap, omdat die nagmerries my kranksinnig maak. Ek was net agttien jaar oud. Maar brandewyn help. Dit help baie om te vergeet. Dis al wat help. Wou maar net vir jou sê.”
Tydens ‘n klassieke musiekprogram in Pase speel jy Bach se Matteus-passie, die roerende gedeelte waar Jesus se dooie liggaam ter ruste gelê word in die graf van Josef van Arimitea. Die musiek is tragies-hartseer, dramaties. Die woorde verruklik mooi. “Ruht wohl, ich weiss, einst gibt der Tod mir Rüh.” En toe kom daar ‘n oproep deur in die ateljee: “Hei tjomma, hê jy nie vi’ ons ‘n lekka raat vir spuitpoep nie?” Maar die belonings is ook daar. Net ná ‘n direkte uitsending van ‘n erediens, laat weet iemand: “Ek was as kind laas in die kerk. Maar ek het vanoggend my lewe in die diens aan die Here oorgegee. Dankie. Dankie. Dankie. Ek weet nou my Verlosser leef!”
Jy bied ‘n program aan oor depressie, en die reaksie is so oorweldigend, oorspoel met rou, verskriklike stories wat met jou gedeel word, dat jyself tydens die lewendige uitsending begin huil. Want jy dink aan die RSM wat een aand, lank terug, teen ‘n boom geleun het in ‘n tydelike basis, omring deur ‘n klomp dooies en gewondes. Hy het met sy hand beduie. Padrè, welcome to the real world,” het hy gevoelloos, afgestomp, emosioneel verrinneweer, gesê.
Ter wille van jou eie oorlewing moet jy soms net wegkom, net wegbreek van die “real world”. Jy klim vroegoggend, terwyl dit nog stikdonker is op die Weskus, op jou motorfiets, en ry sommer ‘n koers in. Lambertsbaai, Clanwilliam toe. Maar die mis is dig, en dis gevaarlik. Daarom stop jy by ‘n Ultracity se Wimpy vir ‘n koffie. Jy is die enigste persoon daar. Die personeel is moeg, nagskof gewerk. Jy is omring deur moeë mense, dink jy. Terwyl jy jou koffie drink, kom die kelnerin verneem: “Is alles in orde, meneer?”. “Als is reg,” lieg jy.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here