Inwoner raak kreatief in Kunsvlyt-kompetisie

“Dit was nogal verbeeldingloos. Dit het my verwese, verward en bleek laat voel,” het sy gesê.

0
735
The Bulletin Newspaper
Leatitia, oftewel Tinkie, neem deel aan KykNet se Kunsvlyt kompetisie.

Letitia Pelzer (40), ook meer bekend as Tinkie, is eersdaags te sien in KykNet se Kunsvlyt kompetisie. Dié Secunda inwoner sal egter die episodes by vriende moet gaan kyk aangesien die kreatiwiteit haar op ‘n stadium so oorweldig het dat sy haar DSTV skottel met mosaïek beplak het.
“Alles wat nie beweeg nie staan die kans om gemosaïek te word,” het sy geskaterlag en dit is ooglopend dat sy ‘n passie vir kuns het.
“Ek hou van eksperimenteer en was nog altyd geïnteresseerd,” het sy gesê en dit is ook duidelik, want die huis oorkant ‘n plaaslike hoërskool is vrolik versier met ander se weggooigoed wat opgekikker is. Ander se ou bad word ‘n buitelugstoel en selfs haar huis se agterdeur is geskilder.
Leatitia se eerste projek was ‘n lapverf tafeldoek wat sy gebruik het tot hy vodde was. “Mens gee nooit jou eerste projek weg nie, dis jou leerproses.”
Sy is gebore in Upington en het haar hoërskoolloopbaan in Delmas voltooi. Dis ook op dié plattelandse dorp waar sy haar man, Kobus, ontmoet het. Na hul troue het die twee na Pretoria verhuis en in 2007 in Secunda kom nesskop. Hulle het twee seuns, Neelz en Joss.
Hoewel sy eintlik ‘n rekenmeester is, het sy ook by Medi-Clinic as adminpersoon gewerk en later by Sasol. Sy het gewoonlik net naweke geëksperimenteer maar hou haar deesdae voltyds met kuns besig en bied verjaarsdagpartytjies, kerkfunksies, vrouedae en jaareindfunksies aan waar sy belangstellendes meer leer van kuns en tegnieke. Sy het ook haar eie kunswinkel wat sy van die huis af bedryf.
Kliënte het vir haar gesê sy moet vir die kompetisie inskryf voor die sluitingsdatum in Januarie.
“Ons moes vyf verskillende projekte met verskeie tegnieke instuur vir beoordeling en ek het besluit om dit te doen om te kyk of ek onder die top 10 kan kom.”
KykNet se baas het 10 finaliste gekies wat weekliks gedurende die opnames van die episodes ander projekte gekry het. Die materiaal is verskaf en die kunstiges moes hul projek hiermee maak en so is ‘n wenner vir elke episode gekies. Die episodes is van 10 tot 24 Februarie in Carletonville opgeneem. “Ons het vet pret gehad en dit was hartseer om huis toe te moes kom want ons deelnemers het vreeslik geheg geraak aan mekaar,” het sy gesê. “Die grootste uitdaging was emosioneel en geestelik. Ons is almal getroud en jy bly as vrou en ma heeltyd bekommerd oor jou ouers, man en kinders en mens mis hulle.”
Deelnemers mag ook net effekleurige klere gedra het wat saam met die kamera sou werk. “Dit was nogal verbeeldingloos. Dit het my verwese, verward en bleek laat voel,” het sy gesê.
Die episodes is van 6 April om 18:00 op KykNet te sien, maar aangesien deelnemers ‘n vertroulikheidsooreenkoms moes teken, sal kykers maar moet wag en self kyk of sy as wenner gekroon sal word.
Gwendie Venter

The Bulletin Newspaper
Leatitia kan nie haarself op Kunsvlyt sien nie omrede sy haar DSTV skottel gemosaïek het.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here