So is die lewe

“Boetie, nou moet ons hol,” skreeu hy vir sy broer. “Dis die Antichris!”

0
277
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

PG du Plessis se program saam met Jan Spies, Spies en Plessie, was oorspronklik bedoel om ‘n meer ernstige geselsprogram te wees. En toe vertel Ollie Viljoen hulle van ‘n interessante ou van Clanwilliam wat hy raakgeloop het. En hulle besluit om hom te nooi om te kom saamkuier op hulle geselsprogram. Niemand het eintlik geweet wat om te verwag nie. En toe, een aand, is hy daar in die ateljee. Met ‘n armyjas aan, en ‘n baard. En ‘n Namakwalandse aksent, so half binnesmonds. En hy trek weg met ‘n skreeusnaakse storie wat later legendaries geword het: “Ek is ‘n rekkie. Ek is rof. Ek maak my broek met ‘n geelslang vas”. PG en Jan Spies se monde het oopgehang. Tolla van der Merwe het die kuns van stories vertel in Afrikaans heeltemal kom verander.
Maar daar is vele storievertellers in al die streke van ons land, mense wat nie noodwendig op televisie kom nie, maar aan wie se lippe gehang word as hulle iets vertel. By kerkbasaars, by vergaderings, by veilings, in die teekamer, waar ook al. Manne wat ‘n verhaal kan inkleur met smaak. Die waarheid is soms ‘n byproduk in hulle stories. Daar was die een ou in Springs saam met wie ek as student nagskof gewerk het in die glasfabriek. Sy gunstelingstories was altyd oor die plaas. So vertel hy dat daar ‘n boom op sy oom se plaas was met so dik stam, dat tien manne hande vasgehou het as hulle hom omsingel, dan was daar nog nie genoeg mans nie. ‘n Reuse boom. Die boom het langs ‘n koringland gestaan, vertel hy. En dit was die probleem: elke keer as die koring ryp word, is daar swerms voëls wat die koringare kom vreet. En as hulle die voëls verjaag, gaan sit hulle eenvoudig in die boom. Sy oom vererg hom toe bloedig en besluit om elke tak, takkie en blaar in daardie boom met gom te smeer, en as die voëls weer daar gaan sit as hulle verjaag word, het hulle, wat die voëls is, uiteraard ‘n probleem. Sy oom maak ook toe so. En toe daar “derduisende” voëls vassit op die boom se takke, stap sy oom bakkie toe om die haelgeweer te gaan haal. En die voëls, synde nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie, sien toe deur die oom se bose plan met die geweer. En hulle begin gelyktydig hulle vlerkies klap, en toe gebeur ‘n onvergeetlike ding. Hulle trek daardie groot boom wortel en tak uit die grond uit, en vlieg weg met hom. Daardie aand was daar ‘n hoofberig op die Tanzaniese televisie, vertel hy, oor die VVV wat daardie dag gesien is. En al die tyd was dit die vraatsige voëls met sy oom se groot boom wat Europa toe gevlieg het. ‘n Ander keer praat ons in die diep donker nagskofure oor duiweboerdery. ‘n Man praat ernstige dinge drieuur in die more. En hy vertel van ‘n ou wat sy duiwe van Devon af gestuur het Kaapstad toe vir ‘n wedvlug. Die eerste prys was ‘n Peugeot 404. ‘n Ander jaloerse ou het egter die ou van Devon se duiwe se vlerkpenne geknip, sodat hulle glad nie kon terugvlieg nie. En die Devonman sit op sy stoep en wag. Geen duif iewers nie. Al die ander duiweboere het al ingeklok, maar hierdie ou se duiwe is net weg. Pryswenner kampioenduiwe. Slím duiwe. En sowaar, so drie of vier maande na die wedvlug, sit die ou bedremmeld op sy stoep en treur oor sy duiwe. En wragtig, doer langs die teerpad, sien hy stoffies trek. Dit was toe sy duiwe wat al die pad teruggeloop het van Kaapstad af. Die enigste probleem was, vertel my nagskofkollega, dat daardie duiwe net súlke swere onder hulle pootjies gehad het. En hy beduie met sy hande iets so groot soos tennisballe.

In die Noord-Kaap het ek wonderlike, wáár stories gehoor. Soos by oom Willie, wat op 95 nog alleen gewoon het, en vroegoggend al sy tuintjie geskoffel het, kierie in die een hand. Een van sy stories was oor die eerste keer wat hy as jong seun ‘n motorkar gesien het, vroeg in die vorige eeu. Hy en sy boetie was op ‘n afgeleë deel van die Karoo besig om skaap bymekaar toe maak, toe hulle hierdie vreemde geluid hoor wat die stilte breek: doef-doef-doef. “Wat is dit?”, het sy broer grootoog gevra. “Nee, ek weet glad nie”, het oom Willie geantwoord. “En toe”, vertel hy, “sien ons hierdie perdekar-ding sonder perde in die pad afkom. Die ding raas. En voor het hy twee nèt sulke groot oë”, beduie hy waar die ligte gesit het. “Boetie, nou moet ons hol,” skreeu hy vir sy broer. “Dis die Antichris!” En hulle los die skaap net daar vir die Dier uit die aarde om te verslind.
En dan die ander twee vriende wat in die veld ry en stry kry oor wie die beste na sy diere kyk. Naderhand smoorkwaad vir mekaar. Die een besluit om dadelik sy jarelange boesemvriend by die opstal te gaan aflaai. Toe hulle die plaaswerf binnery, sê die een wat afgelaai word vir sy gewese vriend: “Kyk hoe lief is my hond vir my!” Hy skreeu toe vir die basterbrak: “Boelie!”. En hy sê: “Kyk hoe bly is hy om my te sien!” Maar Boelie tjank tjou-tjou-tjou, en hardloop om die hoek weg, stert tussen die bene.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here