So is die lewe

0
908
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Pretoria-dink. En jy karmosyn in die sononder sit, soos Boerneef sê. Daardie diep, alleenverlang wat moeilik in woorde gegiet kan word. Daardie vêr dink wat jou wegvoer na onthou. Só helder, só intens, dat jy die Oktoberjakarandas van Pretoria in die lug kan ruik. Die jakarandablomme onder jou voete hoor bars as jy loop kampus toe. Die luglyn van Pretoria afgeëts sien vanaf Meintjieskop as die son sak, en jy en ‘n meisie wat jy probeer beindruk by die Uniegeboue ‘n kombersie op die grasperk gooi. En jy kaas en soutbeskuitjies met ‘n groot gebaar opdiep, saam met ‘n bottel wyn en geleende koshuisglase. Daardie diep dink aan gister wanneer jy stemme êrens, vêr in die wind kan hoor lag. Lank vergete, lanklaas gehoorde stemme. Mense van jou Tukshart wat jy in jou kop saamdra, waar jou spore ook heen mag gaan.
Die wintersaande in die taallaboratorium waar jy moet leer Duits praat: Ich, Meiner , Mir, Mich. En die meisie langs jou wat jou so mooi help. Saam met wie jy dan bibberend koshuis toe loop. En natuurlik jou arm om haar lyf sit om haar te beskerm teen die koue en Ander Gevare wat in die Donker skuil…. Die deurnaggesprekke in iemand se koshuiskamer oor die eienskappe van die Ideale Vrou (Vandag, in retrospeksie, weet jy daar bestaan nie so iets nie) Die onthou is bittersoet: die paar kere toe jy en jou maters in donker kerkklere teruggekeer het van die begrafnis van een van julle wat vroeg, tè vroeg, julle verlaat het na ‘n motorongeluk. En Händel se Dodemars van Saul wat oor en oor op die motor se kassetspeler weergalm om die hartseer bietjie te salf. Maar die lekker-onthou is, soos wat mens ouer word, veel meer as die sleg-onthou. Soos die lang kuiers om die teekan. En al die tokkelokke, wat hulleself onteenseglik beskou het as ontluikende Hegels of Heideggers, teugend aan pype, hoesend, borsfluitend, filosoferend oor die sin van die lewe. Daar móes ‘n pyp betrokke wees, want die groot teoloog Karl Barth het dan pyp gerook. Tot diè keer toe almal daar sit en wyshede kwytraak, en een opmerk dat die tee vandag darem snaaks smaak, en by verdere navorsing ‘n onnoembare voorwerp sien dryf in die tee wat deur die buurkoshuis, ons aartsvyand, daarin gegooi is. Of die keer toe daar ‘n sogenaamde “broekraid” teen die buurkoshuis geveg is. 720 adrenalien-gedrewe jong manne, net in hulle onderbroeke, takel mekaar vir ‘n klompie minute. Die koshuis wat die meeste onderbroeke ingesamel het as die fluitjie blaas, is die wenners van die geveg. Dan word kragte saamgesnoer, en die ander vier koshuise op Tuks se proefplaas word aangeval, in ‘n gedetermineerde soeke na mansonderklere, aan of van hulle lywe af. Op een so spesifieke geleentheid het daar vier onskuldige meisies op die malende massa manslywe afgekom: hulle was netjies aangetrek met sykouse en crimplenerokke, gewapen met twee kitare en ‘n blokfluit. En glad ingeoefen aan “Tell me why” en “Jy is my liefling” om te kom sêrrie vir die manskoshuise. Ek vermoed hulle het toe vir die eerste keer ‘n Volkswagen Kewer laat spin en gatomswaai, en tweedens naarstiglik by hulle koshuis gaan gryp na hulle kopieë van “Wat elke dogter wil weet”. Natuurlik nadat hulle emmers vol suikerwater vir die skok gedrink het.
Daardie spesifieke broekpaartie het ‘n effe bitter nasmaak gehad. Omdat adrenalien nie ‘n aan-en-afkraantjie het nie, is daar toe opsluit ‘n peleton gevorm, en die voornemende en gewese soldate het in Lynnwoodweg afgemarsjeer Tankotiekoshuis toe om te gaan swem. Natuurlik was daar nie gesofistikeerde kledingstukke soos swemkostuums of handdoeke of onderbroeke byderhand nie. En een van die manne, wat die vorige jaar sy diensplig as korporaal voltooi het, het kliphard met sy armystem geroep: “lieks, has, lieks, has, lieks, has links!!” Sulke militêre bevele, met soveel gesag geroep, het natuurlik die geneigdheid om tweeuur in die oggend mense deur hulle vensters te laat loer in ‘n beskaafde voorstad soos Brooklyn. Dit was immer die tyd van Rooi en Swart en Geel gevaar. Lang storie kort: die Brooklynpolisiestasie, en al die omringende stasies, se beskikbare vangwaens is volgestop met hierdie krygers. Dis nou diè wat nie vinnig genoeg kom wegkom nie. En so tien-tien is hulle in selle gestop waar ‘n konstabel pynlik netjies die leggers geopen en opdateer het. Wat opsigself ‘n ingewikkelde taak was. Want aangesien niemand enige klere aangehad het nie, het niemand uiteraard beursies in hulle sakke gehad om R10 borgtog te betaal nie. Kort-kort het daar uit ‘n sel ‘n vriendelike versoek na die konstabel gekom: “Generaal, vat julle kredietkaarte?” en, “Brigadier! Kan ek ‘n rekening oopmaak?” En ook: “Edelagbare, kan ek afbetaal?” Die betrokke konstabel moes ‘n spesiale toekenning gekry het vir buitengewone selfbeheersing en geduld. Nog groter konsternasie die volgende dag in die Hebreeuse klas: die dosent het die onsmaaklike gewoonte gehad om elke periode “roll-call” te hou. Toe hy daardie oggend in die halfleë klas name uitroep, het die dagstudente (diè wat nie in koshuise was nie) na elke afwesige se naam uitgelees is, geantwoord: “In die tronk, prof!”
Die koshuisvader het later al die betrokkenes in groepe na sy kantoor laat kom en die leviete voorgelees. “Dis julle laaste kans, julle heel, heel, laaste kans!”, het hy gebulder. Die een kryger het sy hand opgesteek. “Wat is dit?”, het die koshuisvader geblaf. “Ek het al my laaste kans gehad, prof!” kom die antwoord.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here