So is die lewe

In óns tyd het kassetopnemers en filmteaters ‘n sièl gehad.

0
257
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Gesinsrestaurant. Mooi woord. Gesin. Dit bring prentjies in jou kop van ouers en kinders wat lag en gesels. En heerlike kos eet, terwyl hulle mekaar se geregte komplimenteer. En die heeltyd kuier. Maar die werklikheid van ‘n gesinsrestaurant, (ook ‘n etenstafel tuis of in ‘n sitkamer of ‘n vliegtuig, selfs deesdae in die kerk, tydens die erediens), lyk eintlik bietjie anders: twee ouer mense van verskillende geslagte, en jonger mense met ‘n kleiner postuur, wat ook van verskillende geslagte kan wees, sit saam aan tafel. En elkeen het ‘n instrument van sowat 7×3 sentimeter in hulle hande, en hulle druk teen ‘n verbysterende vaart knoppies op die affêring, dikwels totaal onbewus van die vreemdelinge saam met hulle aan tafel. Skynbaar noem hulle dit ‘n slimfoon, alhoewel dit ‘n ope vraag is of mense en geselskappe en omgewings daardeur slimmer gemaak word. Daarop is ‘n stroom van grappies en Bybelversies en skermgrepe van ander mense wat dom dinge doen en politici wat snaakse dinge sê op die skermpies van slimfone. Dit gebeur ook dat een van die teenwoordiges by die genoemde lokale uitbars van die lag, en soms die rede vir sy of haar skielike uitbundige humor deel met die persoon wat direk langs hom of haar sit deur die hoek van sigbaarheid van die slimfoonskermpie te verstel.
Dis wat tegnologie aan ons wêreld gedoen het. Facebook en twitter het seker van die magtigste media geword om inligting te versprei. Dit het ‘n tipe van verslawing geword. En dikwels is daardie inligting heeltemal vals, maar omdat dit deur prof. Google deurgegee is, word dit as suiwer evangelie aanvaar. En ons val so maklik vir sulke nonsens. Plaas bietjie op facebook ‘n akademiese artikel oor die Qumrangeskrifte se invloed op nuwe Bybelvertalings, en jy is gelukkig as jy een of twee “likes” kry. Maar maak ‘n plasing oor al die “bargains” by die mall, soos brandewyn vir R80-00, sê jy het “geshop tot jy drop”, en jy kry 438 “likes”, selfs van mense oorsee wat nie onmiddellike planne het om die betrokke mall te besoek nie. En dinge soos e-posse stuur en flieks kyk en musiek aflaai van Youtube af is so eenvoudig. Jy kan multimiljoenrand kontrakte stuur en ontvang van jou slimfoon af, en jy kan na die Briels of Guns-and-Roses luister op jou foon. Of op Netflix kyk na die gewildste rolprente. Jy kan selfs deur Bluetooth op jou foon die flieks op jou televisie speel. Jy kan met jou foon se GPS presies bepaal waar jy is, en hoe om by jou bestemming te kom. Jy kan voëls identifiseer, bepaal waar jou naaste dieselverskaffer is, hoeveel treë jy geloop het vandag, en selfs hoe erg jou graad van doofheid is. Alles met jou slimfoon.
Maar ek weet nie of ‘n slimfoon ‘n siel het nie. In óns tyd het kassetopnemers en filmteaters ‘n sièl gehad. Ek het vandag nog ‘n kasset (ook bekend as ‘n “tape”), wat ek in 1974 opgeneem het 23:55 een Vrydagaand op David Gresham se Top Twenty op Springbokradio. As jong hoërskoolseun was dit al verby my slaaptyd. En net nadat David gesê het: “And for the second week in the number one position, Elton John with Good Bye Yellow Brick Road”, het ek my draagbare kassetspeler se mikrofoon voor die hoëtroustel se luidspreker neergesit, en die “Aan/on” knoppie gedruk. Vir daardie oomblik het ek al van halfelf die betrokke aand gewag. En toe, júis toe, roep my ma vanuit die gang: “Gaan slaap nóú!” Ek het na diepe oorweging besluit om voorlopig nie te reageer nie, want ek het lank gewag om Elton se liedjie op te neem. Maar weer het haar dringende opdrag gekom om te gaan slaap. En ek het geleer deur pynlike ervaring: ongehoorsaamheid = moeilikheid. Ek het luidrugtig teruggeantwoord: “Ja ma, ek gaan nou!”. Natuurlik is hierdie hele konversasie verewig op band, en ek het jare later nog die spesifieke kasset geluister, insetsel en al. Ook in my ou Datsun se “tape deck”. Dit het nogal vir ‘n paar interessante oomblikke gesorg op universiteit as ek vir ‘n mooi meisie Pretoria se liggies gaan wys het vanaf die Uniegebou, en terwyl ons in vervoering na Elton John luister, die teerheid van die oomblik wreed weggeruk word deur my en my ma se destydse meningsverskil oor my slaaptydgewoontes.
Ook fliekkyk het ‘n sièl gehad, soos in filmteaters en inryflieks. Daar was nie DSTV en Netflix en sulke dinge nie. Een keer ‘n week, op ‘n Saterdagaand, was daar een fliek op tv. Nadat jou pa sorgvuldig in die Radio en TV-tydskrif die inhoud van daardie fliek nagevors het, kon jy toestemming kry of geweier word om te kyk. Ander programme met min tot geen kans vir seks, naaktheid of geweld, soos Haas Das en Wielie-Walie, kon jy en jou maters vryelik volg. Dallas was natuurlik verbode. Maar oor flieks: Toe Springs se eerste teater oopgemaak het, gaan kyk vier jong outjies na ‘n riller. ‘n monster jaag ‘n pragtige meisie deur ‘n woud. En hy kom nader en nader. Gelukkig is daar ‘n huisie aan die rand van die woud waarheen sy hardloop. Vier manne sit daarin en kaart speel. Die grammofoon speel kliphard, so hulle hoor nie die meisie wat hamer aan die deur en angsbevange skreeu nie. Die kamera wys die salig onbewuste kaartspelers. Ondraaglike spanning. Skielik spring een outjie in die stampvol teater op, en skreeu: “Maak oop daai d&%#@#e deur!

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here