NG Rondekerk reik uit na gemeenskap

Op die einde van die dag bly ons mense met emosie, met harte, met begeertes, hartseer en lag, maar vanaand as jy die deure toe maak, sit jy met ‘n rou mens wat ook maar probeer om binne ‘n klomp dinge staande te bly en ek bid vir daardie oomblikke, daardie mens.

0
441
The Bulletin Newspaper

Die NG Ronderkerk het Dinsdagoggend ‘n gemeenskapsleier ontbyt gehou.
Die reuk van heerlike kos het gaste verwelkom en kon geruik word tot in die parkeerarea.
Tafels was pragtig versier en daar is baie moeite gedoen met dié ontbyt wat gehou is vir leiersfigure in die gemeenskap. Ds. Henry Stopforth, leraar van die kerk, het gaste verwelkom. “Ons is dankbaar vir die werk wat julle doen en elkeen hier is in een of ander manier in ‘n leierskap, sturende en ‘n dienende posisie. Daarom is dit ook belangrik dat ons iewers hande vat en mekaar in die oë kyk. Ons wil saamstaan, ons wil vir julle bid, ons wil hande vat. Dit is ‘n groot deel van ons hartklop, ons is op ‘n manier vreemdelinge van mekaar, maar tog is ons broers en susters” het Henry gesê.
Skoolhoofde, die SAPD, die brandweer, Sasol, Medi-Clinic en selfs die burgemeester is genooi hoewel nie almal opgedaag het nie.
“Jy kan dalk nou aan geen manier dink hoe ons op die stadium vir jou van hulp kan wees nie, maar as die dag opduik kan jy maar weet waar jy kan aanklop vir hulp,” het Henry gesê.
Hy het ook ‘n diep, eerlike en openlike gebed gedoen voor ontbyt bedien is. “Here, U ken elkeen wat vandag hier sit intens, U is elkeen se Skepper, se Maker. Of elkeen wat hier sit U so intens ken weet ek nie, maar die wonderlike is dat U genade toevouende genade is en dat U persoonlike paaie met elkeen stap. Ek bid vir elkeen se rou hart, se totale lewe, se emosie. Ons is besig met sake elke dag, baie keer kliniese, koue dinge. Op die einde van die dag bly ons mense met emosie, met harte, met begeertes, hartseer en lag, maar vanaand as jy die deure toe maak, sit jy met ‘n rou mens wat ook maar probeer om binne ‘n klomp dinge staande te bly en ek bid vir daardie oomblikke, daardie mens. Omhels hul en werk konstant met ons harte dat ons binne ons rolle meer tyd by U sal hê.” Hy het God ook gedank vir elke seëning, gesondheid en verantwoordelikheid.
Na gebed is ontbyt, voorberei deur die bekwame personeel van Kardoesie Tuisnywerheid saam met koffie en sap bedien. Smaakvolle pap, sous, eiers, spek, wors, sampioene en varsgebakte brood is voorgesit. Na ‘n kort, maar gesellige kuier het mense verdaag met ‘n boodskap wat moeilik vergeet sal word, veral as hul vanaand die deure toemaak.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here