So is die lewe

Die laaste broodboom veg nog dapper.

0
547
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Vanaand dink ek aan die oom wat by die biddag vir reën in ‘n uurlange gebed vir die Hemelse Vader ‘n volledige verslag oor die droogte op sy plaas gegee het, met ‘n beskrywing van elke kamp, elke bees en skaap se toestand, en toe sommer ook Hom herinner het aan die vereistes van die koöperasie oor voggehalte voordat hulle mielies en koring aankoop. Hy het in detail in sy gebed ‘n reënvalverslag van die afgelope vyf jaar gegee, uiteindelik gevra: “Here, wat het ons dan aan U gemaak? Kom ons praat ‘n slag reguit!” (Uit Chris Barnard: Chriskras)
Daar is deesdae ‘n ander oom wat preek met ‘n groot Stetsonhoed op sy kop wat sê dat die Here kwaad is vir die mense van die Wes Kaap oor hulle baie sondes, en daarom reën dit nie hier nie. Maar dit verstaan ek nie, want daar is baie mooi kinders van die Here ook hier in die Wes Kaap. En vir die sondaars se skuld het die Vader in Sy genade mos al klaar plan gemaak op Golgota. En daar waar die reën so lekker val, in Mpumalanga en Gauteng en Kwazulu-Natal, daar is tog ook seer sekerlik hier en daar ‘n sondaar?
Vanaand voel ek net soos daardie oom by die biduur. Veral nadat ek deur my tuin geloop het hier by my huis op die Weskus. Meer so omdat ek gister Kaapstad toe gery het en gesien het hoe die veld lyk. Die skaap en bees staan beteuterd en kyk na mens, jy kan amper sê met moedelose oë, in droë wit sand. Daar is net hier en daar die oorblyfsel van ‘n stoppel wat uitsteek. Hulle wag vir boere om hulle te kom voer. Want dit is die enigste kos wat oorgebly het. Geen natuurlike weiding bestaan meer nie. Jeremia 14:4 is tans ontstellend van toepassing op die Wes Kaap: In die hele land het daar geen reën geval nie. Omdat die grond niks oplewer nie, is die boere moedeloos, hulle koppe hang. Ek voeg by: pistool aan die sy.
Ek wil vanaand ook pleitend met die Vader praat- mèèr as ‘n gebed, eerder ‘n smeekkreet of ‘n klag. Want die droogte is erg hier in die Kaap. Ongelooflik ernstig. Erger as wat enige wetenskapsfiksieskrywer sou kon beskryf. Vir jare lank reeds hoor ons dat toekomskundiges voorspel dat ‘n Derde Wêreldoorlog sou kon uitbreek as gevolg van water. En nèè, dis heeltemal te vergesog, het baie mense gedink. Dis nie eens moontlik denkbaar nie. Selfs sterker gedagtes daaroor is geopper. Dis verspot. Belaglik. Maar in die Wes Kaap begin daardie voorspellings al hoe meer sin maak. In die winkelsentrums is daar nie meer water in die openbare badkamers nie. Jy moet maar jou draaie loop by die huis, voor en na jy winkel toe gaan. Dis maar swaar vir ons waterpilverbruikers. En in baie winkels is die rakke met gebottelde water leeg. Alles uitverkoop. Hulle wag vir nuwe voorraad. En daar waar wel bottelwater is, is daar kennisgewings: Slegs twee per klant. Sommige restourante gee nie meer ys nie. Hulle toilette is droog. Teen elke paal en in elke openbare gebou en winkel word jy gebombardeer met plakkate: Ons het ‘n krisis! So jy leer maar om elke tweede dag vir ‘n minuut en ‘n half te stort, om jouself nat te maak, die krane toe te draai en dan in te seep, en vinnig af te spoel. Want in totaal is daar maksimum vyftig liter water per dag per persoon. Vir alles: stort, kos maak, toilet, wasgoed was, skottelgoed was. En die water word opgevang om die toilette vier keer ‘n dag mee te spoel. Dis al wat toegelaat word. Motors is nie meer geel en wit en rooi en groen nie, maar almal bruin van die vuil. Baie motorwasbesighede se deure hier het gesluit. Swembaddens is of halfpadvol en lyk soos ertjiesop, of heeltemal leeg. Almal vrees Dag Zero, wanneer die krane gaan opdroog.
Ek dink aan PG du Plessis se storie in sy reeks Koöperasiestories oor die meisietjie wat die bome kon hoor huil. Ek sou vanaand aan die Vader wou vertel dat ek ook die plante in my tuin hoor huil. Hulle stemmetjies het een-een minder geword. Die drie wat nog heserig geroep het, is my lieflike twee broodbome en my boomvaring wat ek nog met hergesirkuleerde grys water natgegooi het. Die groot boomvaring wat ek so gekoester het, het al maande terug opgehou probeer. En die afgelope twee dae het die een broodboom ook stil geraak. Sy eens trotse blare wat elke jaar ‘n nuwe kroon met groot afwagting uitgestoot het, het geel geword, gaan lê en asem uitgeblaas. Die laaste broodboom veg nog dapper. Maar die tekens is almal daar: sy blare word geler en geler, en hang al hoe meer. Die grasperkie voor die huis, wat een jaar terug twee keer ‘n week gesny moes word, lyk nou soos Langebaanstrand. Onthou dat jou kinders emmertjies en grafies saambring as jy by my kom kuier. Hulle kan sommer sandkastele voor in die gewese tuin bou.
Gelukkig stuur die Here engele op ons pad, mense wat omgee en help waar hulle kan. Soos mense in Secunda en Trichardt wat 150000 liter water ingesamel en gestuur het met vragmotors deur SASOL voorsien. Ek sou my gebed kon afsluit: Dankie Here, dat ons U kan sien in die hande van ons naaste. Dankie! Baie dankie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here