‘n Pienk kar vir kanker

“Die kankerprojek is nie net ‘n projek nie, ek glo dit kom uit God se hand. Hy wil hê ons moet vir ander omgee en ek sou dit nie kon doen sonder die gemeenskap nie.”

0
718
The Bulletin newspaper
Tracey van Wyk by haar Hyundai i10 wat sy laat oorverf het om mense bewus te maak van kanker.

“As mense my kar in die dorp sien, moet hulle weet hul moet omgee vir mense met kanker.” So het Tracey van Wyk, voorsitster van ATKV Kosmosrand gesê.
Haar vriend, wat ‘n plaaslike paneelkloppers besit, het dit as ‘n guns vir haar gedoen om mense meer bewus te maak van kanker.
Haar reis het ongeveer 9 jaar gelede begin toe die ATKV dames planne beraam het om ekstra geld in te samel om kankerpasiënte wat met fondse sukkel, by te staan. “Een van my vriendinne in my gebedsgroep het borskanker gekry en my ander vriendin se seun is oorlede aan kanker. My suster is ook met borskanker gediagnoseer,” het Tracey gesê.
Sy en’n vriendin het toe Cancer friends begin wat besoek aan onkologiese eenhede afgelê het.
Die twee het ook as CANSA vrywilligers aangesluit. “Ek het gesien wat my sussie nodig het en waarmee sy sukkel. So het ons begin om sakkies te maak waarin dreineringssakkies kan kom. Die projek het net gegroei en gegroei, maar toe hoor ek van kankerpasiënte wat stad toe moet gaan vir behandeling, maar nie oor die nodige fondse beskik nie. Die ATKV Kosmos het besluit om jaarliks te beoog om die prys vir Mpumalanga se mees omgee tak te wen, iets wat al meer as een maal gebeur het. “Ons werk vreeslik hard deur die jaar sodat ons fantastiese goed kan doen om sodoende meer geld te hê om kankerlyers te ondersteun met die prysgeld wat ons wen,” het Tracey opgewonde vertel.
“My dogter, Yolandie, het eendag vir my gevra of ons nie iets moet doen om geld in te samel nie toe droom ek een nag dat die hele Secunda vol pienk strikke is. Ek het die volgende dag ‘n rol pienk organza gaan koop en ons het begin strikke maak. My man het gevra wat my visie is en ek wou net so 200 of 300 strikke verkoop en toe ons weer kyk is dit ‘n ontploffing en ons omset van die strikke was daardie jaar R80 000.” “Die kankerprojek is nie net ‘n projek nie, ek glo dit kom uit God se hand. Hy wil hê ons moet vir ander omgee en ek sou dit nie kon doen sonder die gemeenskap nie.”
Hulle verkoop jaarliks strikke en daar is verskeie kleure vir verskeie kankers. Septembermaand se strikke is geel en verteenwoordig kinderkanker. Blou strikke is vir mans, geel vir kinders, pienk vir borskanker, pers verteenwoordig enige kanker. Sy het ook met plaaslike dokter, Dr Raman gereël om gratis papsmere vir mense te doen wat nie medies het nie. “Hy het die hele dag uitgeboek en ons het drie kankerpasiënte opgetel in dié proses,” het Tracey huilend gesê.
Tracey het ook baie ander projekte vir kanker georganiseer en dit is ‘n vooruitsig om te sien waaraan sy volgende gaan dink. “ God se wonderwerke is so groot. Ek het al baie pasiënte vroegoggend stad toe gevat vir behandeling en sover soos ons ry het die mis opgelig tot ons deur is, net soos die Rooi See voor die Israeliete oopgemaak het,” het Tracey vertel.
“Al die dank en eer kom God toe…”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here