Verlore en vergete tussen lang gras

“Dit is ‘n skreiende skande dat daar so baie mense daar is om te help en niemand kan eers ‘n dag afstaan om hul erfenis te behou nie"

0
1127
The Bulletin Newspaper
Die konsentrasiekamp begraafplaas soos hy vandag lyk

Louwrens, Roux, Joubert en Van Rheede is net van die families wat weens uitputting, honger en siektes gedurende die Tweede Anglo Boere-Oorlog in Standerton se konsentrasiekamp gesterf het.
Net ‘n handjie vol het die toestande in dié kamp oorleef en hoewel voorouers geveg het om oorlewing, lê dié se grafte nou toegegroei onder gras. Verwaarloos, vergete en respekloos.
Rudie Rousseau, ‘n inwoner van Randfontein, wat die land platreis en films oor konsentrasiekampe maak, soek nou samewerking uit eie geledere om dié begraafplaas te gaan skoonmaak.
“Dit is ‘n skreiende skande dat daar so baie mense daar is om te help en niemand kan eers ‘n dag afstaan om hul erfenis te behou nie,” het Rudie kopskuddend gesê.
Die datum wat in plek is vir die aksie is 10 Maart en volgens Rudie is die kamp in so haglike toestand dat hul moontlik die Saterdagaand sal moet oorslaap. Enige hulp sal waardeer word en Rudie is bereid om, as daar genoeg mense is, sy sewe jaar se wedervaringe met belangstellendes te deel.
Konsentrasiekampe het die lewens van 27 000 boer vrouens en -kinders tydens die oorlog geëis, maar min het ‘n so moeilike begin soos Standerton konsentrasiekamp gehad.
Inwoners van die kamp het in haglike omstandighede geleef en dis ook hier waar die sisteem vir beperkte porsies aan families wie se mans op kommando weg was, die eerste keer geimplimenteer is.
‘n Tekort aan persoonlike besittings en behuising, stukkende tente en Standerton se harde klimaat, relatiewe isolasie en kleigrond het omstandighede vererger.
Die erg besoedelde Vaalrivier was ‘n bron vir drinkwater en Standerton dorp was vuil en onhigiënies, wat bygedra het tot die ingewandekoors epidemie wat die kamp geterroriseer het.
Die koue, nat winter was intens en baie gevangenes het geen warm klere gehad nie en hoewel daar genoeg kole was om vuur te maak, was daar ‘n tekort aan beesmis en ander middele om die vuur te begin. Baie kampinwoners het begin siek raak en meestal aan pulmonêre siektes en ingewandskoors gesterf. Daar het ook later ‘n masels epidemie uitgebreek en water-en sanitasieprobleme het ook voorgekom. Die kamp is in Januarie 1903 finaal gesluit en meer as 800 vroue en kinders is in die begraafplaas ter ruste gelê. As jy bereid is om jou deel te kom doen en respek te toon aan die wat ‘n verskriklike dood in die kamp gesterf het, skakel die Bulletin vir meer inligting of volg Rudie Rousseau op Facebook. Gwendie Venter

The Bulletin Newspaper
Standerton se konsentrasiekamp destyds

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here