So is die lewe

0
441
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Prinses Diana was een van die bekendste gesigte in haar leeftyd, en sekerlik van alle tye. Haar lewe het mense gefassineer. En haar ontydige en tragiese dood na ‘n ongeluk in ‘n swart Mercedes in ‘n tonnel in Parys het die mensdom geruk. Miljoene mense was diep geraak deur haar begrafnis, en die hele wêreld het saam met Engeland gerou. Dit was ‘n verhaal met al die elemente van ‘n tragedie.
Soveel tragiese verhale speel daagliks rondom ons af met onbekende, onafgeneemde gesigte. Gewone mense wat elke dag verbete baklei om te oorleef in ‘n harde, ongenaakbare wêreld. Gesiglose mense van wie daar nie eens foto’s bestaan as hulle ophou leef nie. Soos my oom en tannie met hulle drie kinders. As ek Jim Reeves se Distant drums hoor, verplaas dit my onmiddelik in tyd en plek na daardie armoedige huis in Brakpan waar hulle gewoon het. Snaaks hoe musiek onthou in ‘n mens se borskas oopruk. Jim Reeves was vir my tannie Bok ‘n ontsnaproete uit daardie armoedige bestaan uit, weg van die kaal gloeilamp wat van die dak af hang, die leë koskaste, die armoedige klere, die steierplanke op ou motorbande wat moes dien as sitkamerbanke, die teleurgestelde verwagtings as my oom elke aand lyfseer en moeg terugloop huis toe na sy vergeefse soektog na werk. Jim Reeves en haar sin vir humor het asiel gebring teen die lewe se verniel. En al die kere wat die familie gehelp het om die kinders se magies vol te hou, het sy met waardigheid en humor hanteer. En nooit, maar nooit ophou hoop nie. Sommige kere het sy waarskynlik doelbewus anderpad gekyk. Soos dáárdie aand wat ek soos gister onthou. Hulle was by ons huis, desperaat vol hoop dat Pa vir Oom werk kon kry. Hulle middelkind het my pa, wat laat gewerk het by die fabriek, se bord kos uit die louoond gegaps, en onder die tafel sit en verslind. Letterlik verslind. ‘n Tienjarige kind wat deur ‘n verskriklike honger oorweldig is.
Uiteindelik het Pa en Oom twee ou Austin Cambridges iewers gekry, en stuk-stuk in ons agterplaas uit die twee een opgebou. Om nie as gesin oral hoef te loop nie, maar te kan ry, doen iets aan mens se waardigheid en selfrespek. En die nuutoorgeboude ou Austin het uiteindelik ‘n nuwe eksistensie, nuwe hoop, nuwe horisonne toegevoeg tot hierdie gesin se grou bestaan. Die enigste struikelblok was dat die motor padwaardig en gelisensieer moes word. Maar dit het nie die entoesiasme van hulle gesin gedemp nie! Hulle eie motor. Oom sou nie weer moes loop van winkel tot winkel, van besigheid tot besigheid, van fabriek na fabriek, op soek na werk nie. Hy sou nou kon ry met sy eie, eie motor. Na vele pogings het die Austin toe sy papiere gekry. En gespog met ‘n splinternuwe TO registrasie (Die ou Brakpan nommerplaat).
En toe die ondenkbare. Die ironiese, tragiese ondenkbare. Op pad huis toe met die motor, is Oom in ‘n groot ongeluk betrokke. Die gebeure raak wasig, maar bly steeds onuitwisbaar. ‘n Groot klomp mense, want Oom was een van baie kinders, en Pa se familie, sit die Verre Oos Randse hospitaal se gange vol. Oom het baie seergekry. Sy nek is gebreek. En die lewe verlaat hom stukkie vir stukkie. Die vlam in sy oë brand al hoe dowwer. Daar was niks wat nog vir hom, medies gesproke, gedoen kon word nie. Al was dit kort gelede wat een van die grootste mediese wonderwerke in die geskiedenis plaasgevind het toe die eerste hartoorplanting ooit deur ‘n jong dokter met die naam van Chris Barnard gedoen is.
Een van Oom se jonger broers het moedeloos daar op die hospitaalbank gesit, met sy kop wat hang tussen sy knieë. Die dokter het gesê dat almal maar die ergste moet verwag. “As ons net vir Chris Barnard hier kon kry”, het die broer vir niemand in die besonder gesê. En toe is ook dit verby. Pa het die drie verwese kindertjies eenkant geneem, en vir hulle gesê dat Liewe Jesus hulle pappa kom haal het. Daar waar hy nou is, kry hy nie swaar nie, hy word nie honger nie, en hy het nie werk nodig nie, want hy is heel dag besig om saam met miljoene engele God te loof, en Sy eer te besing. “Maar oom, wat nou van ons nuwe kar?”, het middelkind gevra.
Jare daarna loop ek deur Bloemfontein se ou begraafplaas, op soek na Tannie se graf. Die lewe se draaie het haar soontoe gevat, en sy is op 38 oorlede. Maar daar was niks, geen teken van ‘n steen nie. Nie eens die munisipale rekords kon vir my ‘n aanduiding gee van waar Martina Jacoba, alias Bok, ter ruste gelê is nie. Wat van oudste neef geword het, weet ek nie. So ook nie van kleinsus nie. Ek het eendag my vlugtig verbeel ek sien haar loop op ‘n sypaadjie in Boksburg. Maar van middelneef weet ek wel. Hy het, na jare se werkloosheid, uiteindelik werk gekry as ‘n taxibestuurder in Brakpan. Waar hy een aand in ‘n motorongeluk gesterf het. En na drie maande, onuitgeken, as armlastige, naamlose, identiteitlose iemand begrawe is. Ek, as jong predikantjie, moes dit vir ouma gaan vertel, nadat ek met ‘n groot soektog middelneef se spore gekry het. Van die dooies hoor mens wel, van die lewendes nooit weer nie. So is die lewe.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here