Blou padlyne? Dis nie wat jy dink nie!!!

0
300
The Bulletin Newspaper

Gewonder hoekom daar blou lyne langs die dorp se strate geverf word? Wonder nie meer nie, want as jy dié strepe sien, moet jy weet die tyd vir die Pwc Kosmos 3-in-1 kom nader!
Dié uitdagende en prettige marathon vind op 10 Maart plaas en die roetes word deur “die blou lyn” aangedui.
“Die marathon was effens vervelig en ’n paar jaar terug het Bruce Fordyce kom deelneem en organiseerders uitgedaag om met iets nuut vorendag te kom,” het Johan Rosslee gesê.
Gewoonlik is daar oorsee ‘n wit lyn wat dié aanduiding gee, maar met bestaande padlyne kan dit verwarrend wees.
“Ons het geweet ons moet ‘n lyn maak, maar dit kon nie wit of geel wees nie, toe het ons besluit op blou wat ook die kleur van water is. Water word op sy beurt weer geassosieer met blomme,” het Johan gesê.
Die lyn is ook opgedra aan Josia Thugwane wat in 1996 die eerste swart Suid-Afrikaner geword het wat ‘n individuele goue medalje vir sy deelname aan die Olimpiese Spele in Atlanta verower het. Josia kom oorspronklik van Bethal, het al telkemale aan die Pwc Kosmos 3-in-1 deelgeneem en het selfs oorsee groot opslae gemaak met sy lang asem.
Die lyne word met water- verdunde PVA verf geverf, wat met tyd self weer afwas.
Die lyne word sedert middel Februarie geverf aangesien daar, ter wille van verkeer, net oor naweke gewerk kan word.
Die Pwc kosmos 3-in-1 belowe ook vir meer opwindende landskappe aangesien die roetes tussen die pragtige huise in die groen strook deurloop. “Dit laat mense van buite Secunda die dorp meer waardeer en ook die mooi deel van die dorp sien,” het Johan gesê.
So wat jy ookal doen op 10 Maart, maak net seker jy volg die blou lyn!
Gwendie Venter

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here