So is die lewe

0
1505
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Ek wil nooit weer ‘n engel wees nie. In die Sondagskoolkersopvoerings was die kinders wat skaam was, of nie kon mooi toneelspeel nie, altyd gekies om engele te wees. Of herders. Jy het net daar op die verhoog gestaan en mooi lyk met ‘n wit laken om jou gedrapeer en ‘n stralekrans van bloudraad en blinkertjies op jou kop. Ek was selfs in skoolkonserte ‘n klip gewees. Toe moes ek net stilsit en sjarrap. En ‘n padda. Daarvoor het ons spesiale opleiding gekry na skool by die juffrou: ons moes op ons hurke leer spring. Dit laat my dink aan die seuntjie wat gekies is om die herbergier in die kersverhaal te wees. Hy moes net ‘n paar woorde sê as Josef en Maria aan die deur klop: “Hier is ongelukkig nie plek nie.” Maar die aand, met die volgepakte saal wat kyk na hierdie hartseer toneel uit die kersverhaal, gaan hy toe sommer aan op eie inisiatief en sê vir Josef en Maria: “Maar kom in vir ‘n lekker dop!”
In die regte wêreld is daar baie engele om ons. Hulle het nie wit lakens om hulle gedrapeer nie, en lyk soos gewone mense, oud, jonk, man, vrou, plooie, hoe ook al. Maar oral waar hulle gaan, raak hulle mense se lewens diep. Met hulle woorde, hulle deernis, hulle sagtheid, hulle voorbeeld. In Trichardt was daar tannie A, mees getroue bywoner van eredienste, Bybelstudies en seniorburgerbyeenkomstes. Altyd so ernstig, opreg en uit die hart gelowig. As mens haar vra hoe dit gaan, was daar een standaard antwoord: die oud kan nog gaan, maar die derdom! Sy het met haar geel karretjie gery tot sy amper negentig was. Almal het geweet dat hulle maar moet aftrek as tannie A aankom, want sy het oral, altyd, ryvoorrang gehad. Want daar was maar insidente. Die paneelkloppers op die dorp het haar karretjie gereeld na insidente teen geringe kostes van sy plooie gestryk. Ek meen die laaste keer wat sy haar kar bestuur het, was pas nadat sy dit teruggekry het van ‘n bakwerkherstel af. Om haar dankbaarheid te wys, bak sy toe vir die eienaar ‘n sjokoladekoek, en op pad om dit na sy besigheid toe te vat, ry sy in die paneelkloppers se bakkie vas. En haar kinders het wyslik besluit dat sy nie meer moet bestuur nie. Dit het nie haar entoesiasme gedemp nie. Ek kry nou nog trane in my oë as ek die geboë figuurtjie onthou wat een Dinsdagoggend, vooroor gebuk deur baie jare, kerk toe geloop het met haar Bybel onder die arm vir Bybelstudie. Gelukkig was daar vinnig ‘n span wat haar op en af vervoer het.
En daar is ook vele ander. Te veel mense om van te vertel, te min plek om te skryf. Lieflike, pragtige mense wat elke dag tussen ons loop, en ons lewens tooi met wysheid en humor. In Olifantsfontein was daar ook so engel. Sy kon die wonderlikste stories vertel. Soos oor diè dag toe sy haar laerskoolseuntjie verloor het in ‘n groot winkel in die nuwe Mall. Hoe sy op en af gehardloop het tussen die rakke om hom te soek, en haarself net die verskriklikste dinge wysgemaak het. En uiteindelik sien sy daar voor die speelgoedrak staan ‘n witkopseuntjie met ‘n blou skoolhempie en grys skoolbroekie, net soos haar kind. En op die plek is sy baie kwaad, en lig haar hand in die hardloop solank vir ‘n vet klap op die boud. En sy voer dan ook haar Bybelse tugtigingsopdrag met ‘n duidelike doelgerigtheid uit op sy agterstewe. Maar toe hy begin huil, hoor sy onmiddelik dis nie haar kind se huil nie. Ook nie sy gesig nie. En skielik haal sy ‘n groot brandweerlorrie van die speelgoedrak af. Sjuut, sê, sy. Tannie koop vir jou ‘n lorrie. Hou jy van die een? En dan lag sy vir haarself, asof dit die eerste keer is wat sy diè storie vertel.
Ook die trotse, fier en regop kommandement sammajoor met sy draaisnor. Sy oë was priemend, dit kon enige skuldige soldaat se knieë lam maak as hy net na jou kyk. Dan bely hulle sondes en oortredings wat hulle nie eers gepleeg het nie. Stafsersante en sammajore, ook selfs offisiere, het gebewe as hy op sy streng militêre manier met hulle praat. Korrektheid en gesag het uit hom uit gestraal. Op ‘n keer het ons kommandement die vryheid van Jan Kempdorp gekry, en die bevelvoerder, die kommandementsammajoor en ek as kapelaan het met ‘n klein Cessna afgevlieg Noord Kaap toe. Hy het aangedring om sy uniform te dra, want, het hy gesê, as hierdie affêring val, moet die Vader weet dat hy ‘n netjiese, parate sammajoor aan diens was.
Maar ek het ‘n ander kant van hom leer ken. Sy kantoor was langs myne. As sy foon lui, blaf hy amper sy van uit. Sammajoor G! En dan die verandering in stemtoon. Dis sy vrou. Hallo Moekie, dankie vir die lekker broodjies wat jy ingesit het!
Die engele om my en jou. Kyk mooi uit vir hulle. In jou straat, die pompjoggie by die vulstasie, die vrou agter die winkelkasregister. Ons is nie hier om op die verhoog van die lewe te staan met ‘n wit laken om ons soos ‘n Sondagskoolkonsert nie, maar om vir mekaar om te gee, sag te wees, deernis te hê. Luister! Hoor jy dit? Om jou is die gefladder van duisende engelvlerke.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here