Kinders vind veilige hawe

“God sal voorsien vir die toekoms, dit is my roeping het Julie gesê. Hulle almal bly my kinders”

0
343
The Bulletin Newspaper

Sy is omring deur 20 kinders waarvan elkeen se storie verskil, maar dié kinders is dolgelukkig op die plaas van Julie de la Guerre buite Kinross.
Dié kinders is deur die liefdevole Julie van Tekoa Sending ingeneem nadat hul omstandighede so haglik geword het dat hul nie verder daaronder kon leef nie.
Hier leer die kinders om self klere te was, kos te kook en skoon te maak en daar word soggens en saans Bybelstudie gehou. Die ouer kinders help ook omsien na die jonges en almal word skool toe gestuur. Die kinders word met Christelike waardes grootgemaak en Julie berei hul voor om eendag vir God te werk. “Al die kinders is hier omdat hulle hier wil wees,” het Julie gesê.
Dit het begin toe God vir haar gesê het om haarself vir die evangelie te gee. “Ek het in ‘n baie slegte plakkerskamp ingegaan en so kinders leer ken. Ek het van huis tot huis gegaan om die evangelie te verkondig,” het Julie gesê.
Die sendelinge het eers tussen dorings kerk gehou en hul eerste kerk het afgebrand, waarna hul ‘n erf gekry het om ‘n kerk te bou. Vyf jaar later is die erf teruggevra en die sendelinge moes afbreek, maar nog ‘n dekade later het hulle weer ‘n kerk, met tuin en al.
Sy het na groot moeite ‘n erf in die middel van ‘n ou woongebied in eMbalenhle gekry. “Hulle het gesê ek kan daarmee maak wat ek wil, maar dit was ook ‘n ou ashoop waarop 2 sinkgehuggies gestaan het en dit was toe onder die bossies,” het Julie gesê.
Toerusting en masjienerie is gekry en vir 4 maande het twee manne geswoeg en gesweet om die erf skoon te kry. Na ‘n lang en uitgestrekte voorbereiding, is ‘n sinkkerk staande gebring. Hulle het later ‘n groter kerk op die grond gebou wat nou ook as ‘n kleuterskool dien.
‘n Vrou het Julie genader en gevra of sy ‘n tuintjie in die kerk se erf kan maak. Die volgende week was alle beskikbare grond opgedeel in kleiner tuine, maar inwoners moet die kerk bywoon as hul ‘n tuintjie wil hê.
Dit is duidelik dat dié kinders en haar sendingwerk vir Julie die wêreld beteken en kinders wat deur haar hande gaan is net so dankbaar vir ‘n warm slaapplek en kos en hoewel kinders groot word, vergeet Julie nie van hulle nie. “God sal voorsien vir die toekoms, dit is my roeping het Julie gesê. Hulle almal bly my kinders” het sy gesê. Gwendie Venter

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here