Ek het nie geweet nie

“Al wat ek op daardie oomblik gedink het was om alles in my vermoë te doen om my kind aan die lewe te hou."

0
477
The Bulletin Newspaper
Dylan net na sy gebboorte

Dit was 7:20 en ‘n normale Donderdagoggend toe Retha Botha (27) van Evander in Oktober verlede jaar haar normale badkamer roetine gevolg het en bukkend met ‘n babaseuntjie uitgestrompel het.
Op 19 Oktober 2017 en 7 maande en 2 dae swanger was Retha dié betrokke oggend alleen by die huis toe sy skielik krampe kry. “Dit het nie gevoel soos kraampyne nie, dit was meer soos gewone maagpyn. Ek het besluit om te gaan piepie toe ek skielik ongemaklik voel. Die volgende oomblik was die helfte van sy kop al uit,” het Retha gesê.
“Ek het ‘n gil gegee en besef dis nou sulke tyd. Ek het opgestaan, ‘n handdoek gegryp en op my bed half regop gaan sit-lê. Terwyl ek my ma probeer bel het, is hy gebore. Hy het gehuil toe hy op die bed lê. Ek het hom dadelik opgetel en met ‘n handdoek toe gemaak en hom styf teen my vasgedruk. Alles het so vinnig gebeur dat daar nie tyd was om paniekerig te raak nie. Ek het die kalmste kalmte oor my gehad. Die Here was saam ons, Hy het ons deur alles gedra.”
Ma en seun het 3 weke en 4 dae in die hospitaal spandeer en Giving Hearts en ander gemeenskapslede het geskarrel om doeke en babaklere bymekaar te kry.
Hoewel hy gehuil het na geboorte en goed asemgehaal het, het ‘n paniektyd na ongeveer 10 minute na geboorte ingetree en Retha moes self ingryp om Dylan se lewe te red terwyl sy ‘n halfuur vir die ambulans gewag het. “Hy het begin blouerig raak om sy mondjie en al hoe moeiliker asem gehaal. Ek het hom liggies in sy gesiggie geblaas tot hy snak vir asem, dan is hy weer reg vir ‘n paar minute. So 10 min voor die ambulans gekom het, het dit vererger en die blasery het nie meer gehelp nie. Al waaraan ek kon dink om te doen is om my mond oor sy neus en mondjie te sit en so vir hom asem te gee.
Hoewel sy dink dat alles natuurlik gekom het, het sy erken dat sy baie geleer het op die program “I didn’t know I was pregnant.”
“Al wat ek op daardie oomblik gedink het was om alles in my vermoë te doen om my kind aan die lewe te hou.”
“Ek wil graag vir Alta Horn van Giving Hearts en die res van die gemeenskap baie dankie sê vir hulle ondersteuning tydens dié onverwagte tyd,” het Retha gesê.
Tans gaan dit baie goed met Dylan. “Hy het die 25ste Januarie die dokter gesien en sy brein funksioneer 100%,” het Retha vertel. Dylan is vandag, ‘n paar maande later, ‘n bulletjie van 5.3kg en blakend gesond.
“Uit die hele gebeurtenis het ek besef dat mens sterker is as wat jy dink. Met God aan jou sy is niks onmoontlik nie.
Gwendie Venter

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here