So is die lewe

Kobus besluit: ek kan nie meer nie. Hierdie dag was te lank.

0
399
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Kobus word die oggend wakker met ‘n gewig so swaar soos ‘n olifant op sy bors. Sy vrou kreun deur die slaap toe hy met haar praat. Ek voel nie lekker nie, sê hy. Sy vlieg vervaard op, en sê: Ek is laat vir werk! Ek sal moet gou maak! Sy verdwyn eensklaps agter die toe badkamerdeur in. Kobus sug, trek sy klere met moeite aan, en besluit om net koffie te drink. Vanoggend het hy nie lus vir ontbyt nie. Sy vrou skreeu haastig in die gang af dat hy ‘n lekker dag moet hê, en hy hoor haar motor straataf dreun. Die hele pad kantoor toe, terwyl hy deur die spitsverkeer worstel, is hy bewus van hierdie drukkende pyn op sy bors. Hy voel sweterig en angstig. Sê nou maar net…. By die kantoor gekom, groet hy sy kollega en kantoormaat. Ek voel nie lekker nie, sê hy. Weet jy hoe seer is my rug na gister se tennis, sê sy vriend dadelik. My armspier trek in ‘n spasma in, en dit kramp. Jong, ek sal meer moet oefen, en salf op my spiere smeer nadat ek gespeel het. En my neef het dieselfde ding oorgekom. Hy kon naderhand nie meer aan enige sport deelneem nie. Ek is so bekommerd dat dit dalk ‘n familieding kan wees.
‘n Rukkie later stap Kobus by sy afdelingshoof se kantoor in. Hy is sopnat gesweet, en voel duiselig. Sy hart klop wild, en hy is kortasem. Die pyn is ‘n dodelike klamp wat meedoënloos om sy borskas styftrek. Hy groet sy baas, en sê: Ek voel nie lekker nie. Het jy al daardie kontrak vir die onderdele van die myn bekyk, vra sy afdelingshoof in reaksie. Ons mag nie toelaat dat daar iets deurglip nie. Dis van kardinale belang dat ons aan elke fyn detail aandag gee. Ons moet fyn kyk en nog fyner luister. Hierdie kontrak is miljoene rande werd. Jy moet al die ander dinge los, en hierdie saak as prioriteit beskou. Jy mag nie toelaat dat enige detail jou aandag ontglip nie. Teetyd sak Kobus in die stoel neer in die personeel se lokaal. Sy ander kollega, wat sestien jaar terug saam met hom by die maatskappy begin werk het, en sy groot vriend geword het deur die jare, kyk na hom en sê: Jy is bleek, mater. Jy moet meer in die son kom. Wanneer gaan ons weer bietjie visvang? Ek voel nie lekker nie, sê Kobus. Sy vriend gaan net voort. Die manne trek nou grotes uit by Hartebeespoortdam. Ek het nou die dag op Facebook gesien een ou het ‘n meneer van ‘n karp daar gevang. Daar is blykbaar ‘n nuwe winkel in Harties, waar jy net die regte aas kan koop. Ons nooi my buurman saam, hy het ‘n boot, dan werk jy sommer aan jou sonbrand.
Kobus worstel deur die middag. Hy moet doelbewus fokus om sy konsentrasie te behou. Kort-kort is daar iemand by hom. Maar skynbaar sien niemand raak hoe kortasem hy is, of hoe natgesweet hy is nie. Sy kantoormaat ryg so tussen die werk deur ‘n paar blondinegrappies in. Kobus probeer nie eens glimlag nie. Lyk my jy ken al my grappe, sê sy kantoormaat. Jy smile nie eers nie. Ek voel nie lekker nie, sê Kobus. Het jy al hierdie een gehoor, vra sy kollega terstond, en rammel nog ‘n paar grappe af.
Uiteindelik is dit huistoegaantyd. Maar hulle weeklikse kantoorfunksie na werk is juis vandag, en almal is soort van verplig om iets te gaan drink. Kobus sleep homself met moeite voort na die kroeg op die boonste verdieping, en bestel water met ys. Sy lyf brand net soos sy keel. Lyk my jy het ‘n lang dag gehad, sê die kollega langs hom. Ek voel nie lekker nie, sê Kobus. Het jy gehoor Toetie gaan dalk gepos word, vra sy kollega. Jong, lyk my iets drasties moet in Springbokrugby gebeur. Ek wonder of Rassie ‘n beter job sal doen as afrigter? Kobus sluk sy water met een lang, gulsige sluk af. Sy kop draai, en die pyn op sy bors is oorweldigend. Die kroegman agter die toonbank vra hom of hy nog iets wil drink. Nee, ek voel nie lekker nie, antwoord Kobus. Het jy gesien dat Ford nou ‘n nuwe reeks Ranger op die mark bring, vra die kroegman. Ek dink dis ‘n goeie tyd om nou een van die vorige reeks te koop. Jy gaan groot bargains kry.
Kobus besluit: ek kan nie meer nie. Hierdie dag was te lank. Hy ry huis toe, en sukkel om te konsentreer. Sy hele bors pyn. Hy voel lam van sy ken af, deur sy arm tot diep agter sy borsbeen in. By die huis gekom, sien hy dat sy vrou alreeds in die kamer is, besig om haar voorbereiding vir die volgende dag op die skootrekenaar te doen. Jou kos is in die oond, sê sy. Ek is nie honger nie, ek voel nie lekker nie, antwoord hy haar. Weet jy, hierdie voorbereiding en admin mors soveel van mens se tyd, kla sy. Nie lank daarna nie, sit sy haar lig af, en sê: Nag lief, lekker slaap. Kobus trek sy pajamas aan, lê natgesweet in die donker en hoor hoe sy vrou se asemhaling meer en meer reëlmatig word, en oorgaan tot ‘n ligte snork. Ek voel nie lekker nie, sê hy vir die donkerte.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here