So is die lewe

Haar laaste pelgrimstog was die tien kilometer grondpad wat sy geloop het tot by die teerpad om te wag vir ‘n saamrygeleentheid Kimberley toe. In haar pyn.

0
409
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Somerset Maugham vertel in sy boek The Vendor van ‘n man wat in ‘n klein dorpie op die Engelse platteland vir jare gewerk het as koster by ‘n kerk. Op ‘n dag kom daar ‘n nuwe dominee, en hy sien dat die gemeentetjie ernstige finansiële probleme het. Die enigste oplossing volgens die dominee was toe om een van die personeellede te laat gaan. Die vraag was: wie? Toe hy deur die leêrs lees, sien hy dat die koster nie kon lees of skryf nie. Dit het sy keuse maklik gemaak. Hy sou opleiding as kriteria gebruik om die aflegging te regverdig. Nadat die koster gehoor het dat hy sy werk verloor het, was hy radeloos. Hy het huis toe gedrentel, en was skielik lus vir ‘n sigaret, ‘n gewoonte wat hy jare terug al gelos het. Hy kon nêrens in die buurt enige winkel kry wat sigarette verkoop nie. Hy besluit toe hy gaan ‘n tabakwinkel oopmaak. Die eerste winkel het so goed gevaar, dat ‘n tweede, ‘n derde en vierde gevolg het. Later was sy winkels regoor Londen en Engeland uiters suksesvol. Op ‘n dag het sy ouditeur aan hom ‘n stapel dokumente gegee, en gesê: hierdie is ‘n besigheidsvoorstel wat jou baie ryker gaan maak, en jou sakebelange geweldig gaan uitbrei. Lees dit! Ek kan nie, het hy geantwoord. Kan nie wat nie, het die ouditeur gevra. Ek kan nie lees of skryf nie, was sy antwoord. Weet jy waar jy vandag sou gewees het as jy kon lees of skryf, het die ouditeur stomgeslaan geantwoord. Ja, ek sou die koster van die kerk op daardie dorpie gewees het, het die man geantwoord.
Die grootste wysheid wat mens soms raakloop, kom nie van mense met titels of stringe grade nie. Ook nie mense met belangrike posbeskrywings en indrukwekkende cv’s nie. Dit kom dikwels van gewone, nederige mense wat die landskap van die lewe kaalvoet verken het. Ons het die voorreg om ‘n huis in die Bo-Karoo te hê, en so klein, kort vroutjie was vir jare ons huishoudelike bestuurder. Almal het haar geken as Milo. Min het geweet haar regte naam is Anna Grond. As ons daar gaan vakansie hou, of vriende en familie daar gaan oornag op pad Suide of Noorde toe, het sy met ‘n ysterhand gesorg dat alles onberispelik skoon en in plek is. En as daar dalk per ongeluk iets uit sy plek is, of gebreek is, het sy my onmiddelik gebel en met haar tipiese Noord Kaapse aksent gesê: Doemanie, waa is daai of daai ding? En as ons gery het, was alles weer silwerskoon gewas en gebêre. Sy het in ‘n armoedige drievertrekhuisie gebly, maar dit was kraakskoon. Sy kon met een aartappel, een ui en ‘n eier ‘n koningsmaaltyd saamslaan, en het twee kinders grootgemaak. Die feit dat sy nooit geleer lees of skryf het nie, was net ‘n probleem as sy vir my moes sê hoeveel krag daar nog op die meter was. Want sy was desondanks ‘n uitmuntende sakevrou. Sy was ook die koster by die plaaslike kerkie, en het gereeld Vrydagaande die kerkgeboutjie gehuur, en dan sangaande georganiseer waar die plase se werksmense in kore opgetree het. Dan het sy die geldjies wat sy elke maand afknyp, gebruik om hoender, lekkers, skyfies en aanmaakkoeldrank te koop. Diè is dan teen groot wins verkoop aan die deelnemers en toeskouers. En voor moreoggend se kerk het sy vroualleen alles opgeruim en gereed gemaak vir die erediens.
Maar haar suiwer taal, haar diep wysheid en haar nuuskierigheid oor alles was haar sterkste kenmerk. Een vakansie het ek gelê en kanaalhop doen, en op die Jerry Springer Show afgekom. Sy het oor my skouer geloer terwyl ek die vloekende, bakleiende spulletjie dophou, en sy vra my: Doemanie, van waffer kjerk is diè mense? Die taai kaalvoetvroutjie het skynbaar vir elke lewensprobleem twee oplossings gehad. As ek haar vra: hoe gaan dit regtig met jou, was haar antwoord altyd: Nee, ou Milo het geen moeilikheid nie. Op ‘n dag moes sy ‘n identiteitsboekie kry, maar omdat sy nie ‘n geboortesertifikaat gehad het nie, was dit ‘n administratiewe nagmerrie. Sy vra my toe om vir die Departement ‘n brief te skryf, en te sê dat sy is. Is wat, vra ek. Net dat ek is, sê sy. Unieke, lieflike, dierbare mens, soek by my ‘n getuigskrif om te sê dat sy ís.
En toe, verlede jaar, bel sy my een aand. Doemanie, ek is in die hospitaal, sê sy. Die dokter sê my wit bloed vreet my rooi bloed op. Ai tog, ou Milo, gaan jy ok wees, het ek haar gevra. Mens leef mos maar die lewe soos hy kom, was haar antwoord. Die volgende dag is sy dood aan leukemie. Haar laaste pelgrimstog was die tien kilometer grondpad wat sy geloop het tot by die teerpad om te wag vir ‘n saamrygeleentheid Kimberley toe. In haar pyn. Geen lees of skryfvermoëns nie, maar ‘n lewensgrote filosoof, rotsvaste mens en gelowige. Lewende getuigskrif van hoe die lewe geleef moet word, selfs deur donker dieptes. In haar armoede selfs voorsiening gemaak vir ‘n begrafnisfonds en ‘n “klip”, ‘n grafsteen.
Ek weet daar waar sy nou is, is daar geen getuigskrif nodig om te sê dat sy ís nie. Om die waarheid te sê, ek weet dat Iemand vir haar by haar geboorte gesê het: ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here