KSA kamp in Secunda uit

Kampplekke is Vrydag volgens ‘n 80’s tema opgemaak, gassvryheid was aan die orde van die dag en in die agtergrond het ou treffers soos “Dans met die rooirok” opgeklink.

0
217
The Bulletin
Die komiteelede van KSA Suid-Oos is v.l.n.r. Ria van Staden (Smous), Johan van der Westhuizen (Rally sameroeper), Magriet van der Westhuizen (Sekretaresse), Gerrie Steenkamp (Tesourier), Ilonka Dalton (Skriba) en Barend Buitendag (voorsitter).

Kamp Oase by Lake Umuzi het die naweek behoorlik gewemel van opgewonde KSA Suid-Oos Streek kampeerders wat hul eerste kampbyeenkoms vir vanjaar op eie bodem afgeskop het.
Kampplekke is Vrydag volgens ‘n 80’s tema opgemaak, gassvryheid was aan die orde van die dag en in die agtergrond het ou treffers soos “Dans met die rooirok” opgeklink.
Hoewel sommige lede reeds Donderdagaand kamp opgeslaan het, het registrasie eers Vrydagaand 18:00 plaasgevind. Daar is ook 50/50 en tombola gespeel.
Saterdagoggend was daar, tot groot teleurstelling van vele, geen bewyse van die vorige aand se smullekker vetkoek en maalvleis te vinde nie en kampeerders het maar self ontbyt gemaak. Hoewel die weer die hele dag effens onvoorspelbaar was, het lede nietemin bymekaargekom om aan grasveerpyltjies, rolbal en ‘n braaibroodjiekompetisie deel te neem.
KSA Suid-Oos streek is 38 jaar gelede gestig en bestaan uit 16 lede tussen die ouderdomme van 28 en 68. Dié groep kamp een keer ‘n maand en hoewel karavane in die verlede ‘n vereiste was, het dié reël verander en deesdae kan jy saam met mede-kampeerders uitspan in ‘n tent of selfs in jou bakkie.
Elke kamp het ‘n tema waarvolgens jou kampterrein opgemaak word en elke lid kry ‘n kans om sy lyf “marshall” te hou en koning te kraai oor ‘n kampnaweek se reëlings en aktiwiteite. Ter wille van ‘n goeie gees en gesindheid, neem lede tydens kampe aan prettige aktiwiteite deel waarvoor hulle natuurlik trofees kan wen. Een van dié trofees is die “ek-sal-nie-weer-stout-wees-nie” trofee.
Die voordele daarvan om aan dié organisasie te behoort, is nie net pret en plesier nie, maar ook dinge soos sekuriteit en padveiligheid. “Dis ‘n kameraadskap waar jy ‘n goeie vriendekring opbou,” het Barend Buitendag, KSA SO streeksvoorsitter, gesê.
KSA SA gaan oor die 2018 paasnaweek in Richardsbaai kamp tydens die jaarlikse rally. Alle streke kom tydens dié geleentheid bymekaar en sover gaan daar reeds 210 karavane die langpad aandurf.
Sluit gerus by hulle aan as jy volgende maand van 23 tot 25 Feb saam met hulle by Malonjeni naby vereeniging wil gaan kamp.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here