Jénine, Spierbouer van formaat

Sy is in die ope bikini afdeling as 4de beste ter wêreld aangewys.

0
625
The Bulletin Newspaper

Dit het 7 jaar se dissipline en harde werk gevat, maar Jénine van der Merwe gaan binnekort die vrugte van haar toewyding pluk.
Dié 35-jarige Secunda inwoner en ma van drie, gaan op 7 April na Los Angeles, Kalifornië vlieg om aan die WBFF Pro-Am spierboukompetisie te gaan deelneem.
Sy mik vir ‘n eerste of tweede plek wat van haar ‘n pro sal maak. “As ek my pro kaart het, sal baie meer deure oopgaan en my die geleentheid bied om ander vrouens te help,” het sy gesê. Ongelukkig sal dié kaart ook beteken dat sy nie meer nasionaal kan deelneem nie, maar net internationaal.
Haar eerste spiertier(in) kompetisie was die Millennium Gold Plate wat in 2011 in Boksburg gehou is. Sy het dié kompetisie gewen. “Van daar het die gogga my net gebyt,” het sy gesê.
Sy het ook die WFF SA Novis kampioenskappe in 2011 gewen en is gekies vir die Protea span wat in Austia aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem het. Sy is in die ope bikini afdeling as 4de beste ter wêreld aangewys.
Jénine spandeer daagliks ‘n uur in die gym en oefen net gewigte. “Ek is allergies vir Kardio,” het sy geskerts. “Dit is ‘n bog storie dat ‘n vrou soos ‘n man sal begin lyk as hul gereeld gewigte oefen.” Ter voorbereiding vir Amerika, oefen sy tans 2 uur per dag. Voorbereiding neem 12 weke, oftewel, drie maande.
Jenine het steeds geoefen terwyl sy swanger was met haar en haar man, Neil, se jongste twee dogters, die 4-jarige Ava en 1 jarige Saige. Hulle ander doger is die 9-jarige Gabby. “My kinders is my lewe,” het sy gesê.
Die soet smaak van Jénine se harde werk is nie nét vir haar tot voordeel nie, sy help ook ander vroue wat wil aanhou spiere bou tydens en na hul swangerskappe. Sy gee heelwat raad op haar Facebook en Instagram profiele.
Dit is ook nie net oefen wat Jénine haar vietse voorkoms gee nie, sy eet ook gesond en haar dieët bestaan net uit “God gemaakte kos”.
Tussen haar besige skedule moet sy nog die geld bymekaarmaak om vir haar reiskoste van ongeveer R50 000 te betaal. Kontak die Bulletin indien jy ‘n bydrae wil lewer.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here