Hawelose steeds hoopvol vir toekoms

0
5712
Martin Barnard bly op straat.

Steeds positief en gelowig na lewe se harde houe

“Ek het verwerp gevoel, soos ‘n weggooihond.  Asof ek net in die pad is,” het  die 44-jarige Martin Barnard gesê oor ‘n situasie waarin ‘n man hom geld aangebied het indien hy Secunda sal verlaat.

Martin is die hawelose man wat saans onder PPS se afdakke slaap en bedags by die busstop in Nelson Mandela rylaan sit, in die hoop dat persone wat hom ‘n werk aangebied het hul beloftes sal nakom.  “Hulle het gesê ek moet hier wag, hulle het gesê hulle sal terugkom, maar ek weet nie of hul sal nie.  God sal besluit.  Hy ken my hart en Hy weet wat Hy vir my beplan het,” het Martin vertel.  Deur al die hartseer stories, is Martin besonder positief oor die lewe.  “Gister maak nie saak nie, vandag en more maak saak.  Eendag sal iemand verby die vuil klere kyk en besluit om my ‘n kans te gee.  Ek is baie handig en kan van bouwerk tot tuinwerk doen,” het hy gesê

Alles wat hy besit pas in ‘n 50kg sak.  Dit is ‘n vuil baadjie, 2 kussings, ‘n duvet, kombers en die klere aan sy lyf.  “Mense het vir my ‘n sak met hemde en broeke gegee, maar ek is dieselfde dag daarvan beroof.  Hulle het my tent gevat en selfs my Bybel.”

Op ‘n vraag hoekom hy glo met homself loop en praat het hy uitbundig uitgebars van die lag.  “Ek praat nie met myself nie.  Ek praat met my Koning Jesus, ek het nie ander geselskap nie.  Hier stop af en toe mense en kom knoop ‘n geselsie aan of bring vir my kos, ek geniet dit altyd baie,” het Martin gesê.  Min weet dié weldoeners dat hul aalmoese die enigste kos is wat hy kry.  “Ek is nie ‘n skelm nie, ek steel nie.  As ek nie kos het nie dan gaan slaap ek honger, maar ek is nooit honger nie want my siel is gevoed,” het Martin vertel.

Wat gaan hy Kersfees doen?  “Niks, ek sal seker maar hier sit”, het hy gesê.

Martin se storie is onduidelik en hy is self verward oor sy verlede.  “My ma het my eendag vertel ek is in Boksburg gebore en die volgende vertel sy my ek is in Mpumalanga gebore, so eintlik weet ek nie eers van waar ek kom nie,” het hy gesê.  Sy het hom ook glo vertel dat sy pa aan ‘n hartaanval oorlede is.  “Sy en my stiefpa het altyd rondgeswerf”.  Daar is dinge wat Martin so seer maak dat hy liefs nie daaroor wou praat nie.

Hy was getroud en het meisies gehad, maar dié het hom verlaat en al sy besittings saamgevat, huis inkluis.  Hy het sy werk verloor en is sedertien haweloos.  Volgens hom is hy die afgelope ongeveer 4 maande in Secunda.  Hy het broers en susters, maar dié kan hom nie help nie.

Hy bad met ‘n 2L bottel water, seep en ‘n waslap en as dit reën “bekruip die water” hom waar hy slaap.  Hy vertel hoe hy baie aande homself aan die slaap huil, maar soggens as hy opstaan is sy selfbejammering verby en dank hy God vir nog ‘n aand wat hy op die genadelose straat gespaar is.

Ongelukkig is daar ook ander stories van inwoners wat minder positief is.  “Hy bel mense en vloek hulle as hul nie wil geld gee nie, hy het ook een van my vriende bedrieg,” het ‘n persoon wie se naam aan die Bulletin bekend is, gesê.  Dié persoon is seker dat dit dieselfde man is wat gebel het, maar of dit waar is, is ‘n ope vraag want hy het nie bewyse dat dit wel dieselfde hawelose man was nie.

As jy meer van Martin wil weet, gaan maak gerus ‘n draai by hom.  “Ek sal enigeen wat my ‘n werk aanbied ewig dankbaar wees,” het hy gesê.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here