So is die lewe

Hy skreeu so hard as wat hy kan.

0
297
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Dis diep Desembermaand. Mnr Swart loop in die hoofstraat van sy dorp. Hy weet nie waarheen hy loop nie, hy loop sommer maar net. Loer hier by ‘n winkelvenster in, tel daar ‘n item van ‘n rak af op, bekyk dit, en sit dit weer terug. Sy gedagtes is besig, maar hy weet nie eintlik waaraan hy dink nie. Een versie uit Van Wyk Louw se digbundel herhaal in sy kop, soos ‘n mantra: en op die helder dag weet ek dat die Gryse by my bly/ek hoor sy draffie en ek voel sy wit oë agter my. Mnr Swart besef hy het moeilikheid: hy sal met iemand moet praat oor die Groot Gryse wat op sy spoor loop, soos ‘n Strandjutwolf. Maar met wie? Hy gaan sit op ‘n bankie en haal sy selfoon uit. Emergency calls only. En hy onthou dat hy uit lugtyd geraak het. Net soos wat hy huidig uit hoop en moed geraak het. Die goeters van sy lewe wat opgeraak het. Hoop, moed, lugtyd.
En meteens sien hy ‘n baie eienaardige ding, iets wat vroeër jare baie bekend was: ‘n outydse rooi telefoonhokkie, met glaskante en ‘n glasdeur. Mnr Swart skud sy sak, en voel ‘n paar los oulap daar. Nou sal hy kan bel, sal hy vir iemand kan vertel van die Groot Gryse wat sy keel toedruk, wat sy glimlag smoor, wat sy siel vermoor. Hy sal kan vra dat iemand hom kom help. Hy gaan in die telefoonhokkie in, en maak die deur agter hom toe. Hy skakel die eerste nommer waaraan hy kan dink: sy vrou s’n. Maar die telefoon sê dadelik: The subscriber you have dialed, is not available. Please try again later. Hy probeer die volgende nommer wat in sy gedagtes opkom: sy dogter. Maar die koue, genadelose handstuk van die telefoon herhaal weer sy rympie: The subscriber you have dialed, is not available. Please try again later. Mnr Swart wonder of hy hom verbeel, en of daar dalk so tikkie spot in die blikstemtoon was. Hy probeer nog een nommer: sy dominee s’n. Mnr Swart is ‘n getroue kerkganger en ouderling, hy praat dikwels met die dominee oor kerksake, en ken sy nommer uiit sy kop. Die blikstem reageer, asof leedvermakerig: Hierdie is die antwoordmasjien van ds Human. Ek is tans met verlof, en sal eers weer in Januarie beskikbaar wees. Geniet jou dag en geseënde kersfees.
Die koue sweet slaan regoor mnr Swart se lyf uit. Hierdie telefoonhokkie raak skielik vir hom te klein, te benoud. Op daardie oomblik sien hy sy vrou op die sypaadjie aangestap kom, reg by die telefoonhokkie verby. Golwe van verligting en blydskap spoel deur hom. Hy druk aan die deur om uit te gaan, maar die hokkie se deur sit vas, verseg om oop te gaan, asof dit gesweis is aan die raam. Mnr Swart slaan teen die ruite, eers met die plathand, en toe met sy vuiste. Hy skreeu so hard as wat hy kan. Maar sy vrou loop ‘n meter vêr by hom verby, en is glad nie bewus van sy paniek nie. Spoedig sien hy net haar rugkant soos wat sy tussen die skare op die sypaadjie in verdwyn. Nou raak mnr Swart heeltemal beserk. Hy slaan, skreeu, skop. Hy gooi sy lyf heen en weer teen die kante van die telefoonhokkie. Maar niemand hoor hom nie, niemand sien hom nie. Al hy herken baie gesigte van die mense wat teen die hokkie verbyloop. Sy kinders, sy kollegas, sy bure, mede-kerkraadslede. En hulle is almal salig onbewus van mnr Swart se geweldige beure en geroep. Sy enigste geselskap in die geslote telefoonhokkie is die Groot Gryse.
Later is hy moeg. Sielsmoeg. En hy hou op skreeu. Hy gaan sit op die vloer van die telefoonhokkie, met sy hande wat sy gesig bedek. Tussen sy vingers deur loer hy hoe strome mense by die telefoonhokkie verbyloop. En niemand lyk of hulle eers bewus is dat daar ‘n telefoonhokkie tussen hulle, op die besige sypaadjie van die hoofstraat, is nie. Vaag, asof dit nie gebeur nie, begin die telefoonhokkie ratel en beef. Mnr Swart word bewus daarvan dat die hokkie besig is om in die grond weg te sak. Hy sien hoe die mense op die sypaadjie hoër en hoër by sy gesigsveld verbyloop. En skielik is dit donker, hy is slegs bewus van die beweging van die telefoonhokkie na een of ander onbekende bestemming doer diep onder. Amper soos ‘n hysbak wat na die kelderverdieping toe gaan. Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het, kom die telefoonhokkie tot stilstand. En mnr Swart sien dat hy in ‘n diep, onderaardse grot is. In die lig van die enkele flou gloeilamp, sien hy dat daar honderde, indien nie duisende, rooi telefoonhokkies rondom hom is. Die mense wat in die hokkies naby hom is, se gesigte is ook vertrek van vrees, en diep pyn, net soos mnr Swart se gesig. Maar verder weg sien hy dat hulle gelaatstrekke nie meer sigbaar is nie, dat dit net grynsende skelette is wat gevoelloos met leë oogkaste die verte instaar. Op ‘n manier is almal se agterkante na mekaar toe gedraai, almal geisoleerd in hulle ontsaglike verlatenheid. Dis net die Groot Gryse wat in elke telefoonhokkie meewarig sit en grynslag.
En interessant, merk mnr Swart vir oulaas op, soveel van die telefoonhokkiegevangenes dra kersvaderhoedjies op hulle koppe. Party sit selfs met verweerde kersaankope in hulle geraamtehande.
Vir hulle is dit nie ‘n geseënde kersfees nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here