Man wat “kop verloor” in chirurgiese saal opgeneem

Daar was ook gereedskap soos skroewedraaiers in die grond gesteek en ‘n hamer, wat vermoedelik in die verwoesting gebruik is, is op die toneel gevind.

0
443
The Bulletin Newspaper
Die betrokkene het sy TV stukkend gegooi nadat die sekuriteitswag hom glo aangesê het om dit te doen.

Inwoners van ‘n woonstelkompleks in Secunda, dreig om te verhuis omdat hulle nie meer veilig voel met hul buurman in die omtrek nie.
Die Secunda polisie is verlede Maandagmiddag wéér ontbied na klagtes oor ‘n inwoner van dié kompleks. Ander inwoners voel dat die betrokke persoon ‘n lewensgevaar is na ‘n reeks voorvalle waarin hy ‘n werker van die kompleks geskop het en ‘n ander een in die kompleks rondgejaag het. Hy is ook bekend daarvoor dat hy saans in die kompleks rondloop en teen ander woonstelle se vensters klap.
Met die nuutste voorval het die betrokkene, wie se naam aan die Bulletin bekend is, sy platskerm TV op die plaveisel stukkend gegooi. Hy het ook sy wasmasjien en woonstel met swart spuitverf gespuit, sy yskas se deur afgeruk, spieëls en ornamente stukkend geslaan en selfs sy vrou wat hom onlangs verlaat het se gesig uit ‘n foto geskeur. Daar is ook nie krag in sy woonstel nie want hy het die kragboks uitgeruk.
Die betrokkene het selfs so ver gegaan om ‘n mop se steel te breek en die mopkop in die grond gesteek. Daar was ook gereedskap soos skroewedraaiers in die grond gesteek en ‘n hamer, wat vermoedelik in die verwoesting gebruik is, is op die toneel gevind.
Die betrokkene en sy vrou en kind het vroeër vanjaar in dié kompleks ingetrek. Hy het toe reeds sy werk by SASOL verloor.
Daar is aanvanklik vermoed dat hy op dwelms is nadat hy goed kwytgeraak het soos: “Ek hoor geluide oor die HD (hoë definisie)-netwerk”, “ mense loer my af deur die Wi-Fi” en selfs “ander inwoners maak my kwaad, hulle kyk saam met my tv en verander heeltyd die kanale met hulle afstandbeheerders”.
Hy het ook aan die Bulletin gesê dat hy die TV stukkend gegooi het omdat die sekuriteitswag hom beveel het om dit te doen. “Hy het my met die dood gedreig. Ek het geruik hy wil my doodmaak, hy het die reuk van eMba af gebring,” het die betrokkene gesê.
Die Secunda polisie is ‘n week vantevore ook uitgeroep om hulp te ontbied en hom te verwyder, maar het blykbaar gesê dat hul niks kan doen totdat hy nie sy huur betaal nie.
“Ons moet twee maande wag vir ‘n hofbevel om hom uitgesit te kry en ons kan nie langer wag nie, hy is besig om die ander inwoners te ontstel,” het Stephan Jonker, Finansiële bestuurder van die kompleks gesê. Hulle is ook bevrees dat hy nie aan die einde van die maand sy huur kan betaal nie. Die bestuur van die kompleks is bang dat hy eendag so kop kan verloor en in die voetspore van *Attie Muller kan volg.
Die betrokkene is in Evander hospitaal se Chirurgiese saal opgeneem. Dit is onduidelik waarom hy in dié saal opgeneem is. Die betrokkene het Donderdag gesê dat die hospitaalpersoneel nie met hom kommunikeer nie. “Ek weet nie wat soek ek in dié saal nie, hulle wil seker my brein opereer,” het hy gesê.
Nota:
*Die Bulletin het in 2015 en 2016 berig van Attie wat in April 2015 in Secunda strate ingevaar en met ‘n hamer op vreemde mense losgetrek het. Lourens de Lange (23) en Themba Tshabalala (40) is dood en 3 ander beseer.
– Gwendie Venter

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here