Kinderhuis geseën met passievolle huismoeder

Haar passie vir die kinders in haar sorg is duidelik sigbaar in haar houding teenoor die kinders vir wie sy sedert begin November ma speel.

0
1311
The Bulletin Newspaper

Die lewe het vreemde draaie geloop met Thea van Rooyen, die nuwe huismoeder van Janelle kinderhuis in Evander.
Haar passie vir die kinders in haar sorg is duidelik sigbaar in haar houding teenoor die kinders vir wie sy sedert begin November ma speel.
Thea is in Pongola gebore en kan Zulu ten volle verstaan en ook kommunikeer in dié taal. Sy het aan Hoërskool Grootfontein in Namibië gematrikuleer, maar toe dinge in dié land warm raak, het sy die trein na Kleinmoes gevat en dis by dié stasie waar haar lewe verander het.
Sy het haar tasse deur die treinvenster aan die stasiebevelvoerder, Rian van Wyk gegee. Die twee is later getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore. Sy het haar verpleegberoep by Kleinmoes hospitaal begin, maar het later vir 17 jaar as kraandrywer vir Yskor gewerk.
Thea is afbetaal en het in 20012 haar eie babahuis met 21 HIV+ babas begin.
Thea, wat intussen geskei is, is nes haar ma, gediagnoseer met borskanker en het in 2004 ‘n dubbel mastektomie ondergaan, maar ‘n week later was sy weer op haar pos. Vir 6 maande daarna het sy bestraling en chemoterapie ontvang. Die verkeerde chemo is aan haar gegee en sy het 100% gehoor en 30% sig aan haar linkerkant verloor. “Met die Here se genade, is ek vandag ten volle genees,” het Thea gesê.
Sy het haar babahuis oorgegee aan AFM kinderhuis en het sedertien as huismoeder van verskeie ander kinderhuise gedien. Sy was ook betrokke by die Salvation Army in Pretoria waar sy met kinderhandel en mishandelde vroue gewerk het.
Thea het ‘n kinderhuis in Vrede, wat haar dogter tans behartig en het na Evander gekom om haar liefde hier te kom uitdeel en die liefde in dié huis is omtrent aansteeklik.
– Gwendie Venter

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here