So is die lewe

0
594
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Party mense word met vrees vervul, en andere weer kry hoendervleis by die aanskoue en aanhoor daarvan: bikers op twee of driehonderd motorfietse wat deur die dorp se hoofstraat ry. Manne met fris bo-arms, en wilde baarde wat deur hulle donkerbrille die skare langs die strate beskou. Ek persoonlik, synde ‘n motorfietsryer myself, kry koue rillings van lekkerte. Veral as die boksermasjien Beem’s en die Harleys met hulle bekende poetoepap-poetoepap uitlaatpypsimfonie by my verbyry. Hierdie jaar se optog op die weskus was geen uitsondering nie.
Maar daar is ‘n groot rede vanjaar vir die optog: die bikers het oral langs die pad speelgoed soos teddiebeertjies, lekkergoed en geskenkies ingesamel vir die talle kinderhuise in die omgewing. Vir kinders wat van die begin van hulle aardse reis moes oorleef op die minimum, en toegewyde kinderhuispersoneel wat ten spyte van hulle harde werk, baie innoverende planne en baie opoffering dikwels sukkel om die nodige fondse te bekom om hierdie kinderhartjies ‘n klein bietjie te bederf. En saam met die knop in my keel toe ek sien hoe die mense hulle harte en beursies oopmaak, het ook ‘n stuk onthou gekom.
Ek was jare terug koshuisvader by ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes in Pretoria. As deel van my pligte moes ek Vrydae die bus bestuur wat koshuiskinders regoor Pretoria by hulle huise gaan aflaai het. Elke naweek was daar egter een kleuterseuntjie wat maar agtergebly het. Willie. Rooi krulhaartjies met ‘n sproetgesiggie en haasbekkie. Sy ouers het nooit gevra dat hy huis toe kom nie. Naweek na naweek moes die koshuismoeder maar hom oppas, of langs die swembad sit as hy daar rondplas, of hom op die swaai stoot. Maar een keer per kwartaal was daar ‘n “toe” naweek. Dan moes al die kinders huis toe gaan. Die koshuispersoneel het dan ‘n broodnodige afnaweek gehad.
Ek het op een spesifieke “toe” naweek weer die huistoegaanbus bestuur. Vroeg Vrydagmiddag, toe ek met die bus by die kleuterkoshuis verby ry, sit Willie alreeds daar met sy tassie en wag. Baie trots op ‘n groot tekening langs hom, pappa en mamma in kleuterskrif geskryf onder twee stokfiguurprentjies, en harewatte geplak op hulle koppe. Ek het sy leêr in die kantoor gaan haal om sy adres te kry, en besef dit is aan die ander kant van Pretoria, daar by die staalfabriek verby. Ek sou hom dus heel laaste moes aflaai. Toe ek stilhou by die kleuterafdeling, het hy styf langs my kom sit, bo op die bus se middelmannetjie, waar die rathefboom was. En versigtig sy pappa- en-mammaprent vasgehou onder sy arm. Na die gewone aflaaipunte is ek toe met die groot bus in Wille se woonbuurt in. Klein, nou straatjies. Rondloperbrakke en karwrakke wat die strate volstaan. En balspelende kinders wat sommer eensklaps voor jou verskyn. Maar Willie se gesiggie het gestraal. Hy gaan huis toe! Hy kon nie wag om sy pappa-en-mammaprentjie vir sy pappa en mamma te gee nie. Uiteindelik, na ‘n paar keer se verdwaal en groot moeite om die bus om te draai, kry ek die adres wat in die leêr geskryf was. En ek het skaars die bus afgeskakel, of Willie is uit, tas in die een hand en prent in die ander. ‘n Oopgesnyde karband het op die stoep gehang met ‘n mistroostige varing in. ‘n Steekbaardbrak het wantrouig geknor toe ons by die hekkie instap. Die beddings was kaal, so mismoedig soos die hele woonbuurt. Daar het ‘n motor op blokke gestaan voor die stoep, met die enjinkap oop.
Ek het aan die deur geklop. Willie het gestraal van afwagting. Uiteindelik het ‘n stug vrou die deur op ‘n skrefie oopgemaak, en sonder om te groet, vir my gevra: wat soek jy? Ek het gevra, is u mev So-en so? Nee, het sy gesê, hulle het al weke terug getrek. Oornag. Niemand weet waarheen nie. Hulle huur was agterstallig, en die water en ligte is afgesny. Sy het gekyk na die bruin staatsdiensleêr in my hand. Ek moet die huiseienaarkontak en hulle besonderhede vir hom gee, het sy beveel. Dis nie haar gemors hierdie nie.
Wilie was verslae. Die liggies in altwee sy blou ogies het net daar doodgegaan. Ek het hom opgetel en bus toe gedra. Pappa-en-mamma het daar op die stowwerige sypaadjie geval en bly lê, die wattehare vol sand. Hy het nie eers weer daarna gekyk nie. Die wêreld was skielik dof, vaal, verlate.
Die kleuterkoshuis was donker en gesluit toe ons terugkom by die skool. Die koshuismoeder was na haar kinders toe vir die naweek. Ek het Willie maar saamgevat na ons huis op die skoolterrein toe. My vrou, wat ‘n onderwyseres is, het hom een kyk gegee, en haar volle moederinstinkte het onmiddelik ingeskop. Geen verduideliking was nodig nie. Hy het daardie aand lekker kossies gekry, sjokolade, koeldrank. Die Maandag het die voltydse sielkundige en maatskaplike werkster by die skool elke moontlike kanaal opgevolg. Maar dit was tevergeefs. Willie se ouers het van planeet aarde af verdwyn soos ‘n groot speld. Die uiteinde was onvermydelik: hy sou tydelik in ‘n kinderhuis geplaas word in skoolvakansies.
Terwyl die motorfietse om my gebrul het, het ek onthou hoe ek daardie Vrydagaand gevoel het toe ek na die slapende rooikopseuntjie in ons spaarkamerbed gekyk het. “Wie weet hoe vêr moet my kindjie nog ganetjies,” het CJ Langenhoven geskryf. “Waar jy vanaand is, kan ons maar net raai,” het Koos Doep gesing.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here