Perdeskou reën bykans uit

Daar was ‘n totaal van 93 klasse waarin 106 perde moes deelneem

0
404
The Bulletin Newspaper

Dit was nat en modderig, maar mense van sover as die Kaap het van Donderdag tot Saterdag net buite Secunda bymekaargekom om aan Secunda Landbouvereniging se jaarlikse Streek Frieskampioenskappe deel te neem.
Dié perdeskou is op Genade Vlakspruit plaas gehou en bied die geleentheid aan ryers om te spog met hul stoetperde.
Daar was ‘n totaal van 93 klasse waarin 106 perde moes deelneem. Wel, dit was die plan en hoewel Donderdag en Vrydag volgens plan verloop het, het Saterdag se 23 klasse almal uitgereën.
“Die reën was ‘n groot uitdaging en daarom het ons besluit om die Frieskampioenskappe volgende jaar in September te hou,” het Gert Kuhn, organiseerder gesê.
Van dié 93 klasse was 65 Fries klasse en 28 Ope klasse. Albei het in-hand en ry-klasse ingesluit, maar daar was ook klasse vir karretjies in die Fries-klas.
Die beoordelaars was Le Roux Botha van Memel, Gert Voster van Vredendal en Willie Buys van Vredenburg. Hulle was ook beoordelaars by verskeie nasionale skoue. Riaan van der Merwe, ‘n Vredendal inwoner was die Baanmeester en Karien van der Merwe, ook van Vredendal, was die versamelringbeampte.
Die Secunda Landbouvereniging hou twee skoue per jaar. Die ander skou is die Secunda Landbouskou wat jaarliks in Maart plaasvind.
Die skoukommittee is reeds besig om die Secunda Landbou skou in Maart 2018 te beplan, wat perde, beeste en nog vele meer gaan insluit. Andries Vermeulen, sanger, storieverteller en TV aanbieder kom op 24 Februarie in Secunda kuier as deel van hul fondsinsameling tydens dié skou. Die kaartjies is reeds beskikbaar.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here