So is die lewe

‘n Groot skare kinders het gekyk hoe Sappi die pak slae van sy lewe kry.

0
596
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Toe tref kerstyd ons mos ook toe hier op die Weskus. Dit besef ek toe ek in die Mall in ‘n bekende winkel instap en ‘n kort, vet elektriese kersvader my welkom heet met sy skuifeldansie. Die ene liggies en kekkellaggies, sy flitsende neus so rooi soos sy rendier Rudolf s’n. En skielik spoel die ou, ou gevoel van kersfees deur my. Kersfeeste van jou lewe. Is dit nog dieselfde, wonder jy. En hoe gaan dit vanjaar wees?
Miskien was dit die hartseerste Kersfees wat ek ooit beleef het. Daardie een. My brein trek ‘n deur oop van een van die kamers in my kop waar ek lanklaas ingegaan het. Doelbewus nie wou ingaan nie. En terwyl Stille Nag in die winkel speel, onthou ek weer. Sy naam was Johan. Arm seuntjie uit ‘n arm gesin. Op laerskool al was hy die een wat altyd alleen was, eenkant gesit het. Niemand wou met hom speel, of hom in hulle span gehad het nie. Eendag, toe ek speeltyd my kosblik oopmaak met my grondboontjiebottertoebroodjies, was hy skielik langs my. Kan ek asseblief een kry, ek is so honger, het hy gesê. En so het ek op ‘n manier sy beste vriend geword.
So gaan toer ons in standerd vier Natal toe. En hy wou bitter graag saam, want hy het nog nooit die see gesien nie. Maar sestien rand, wat die toer gekos het, was net te veel vir sy pa. Hy begin toe om in mense se tuine te werk, karre te was, middag na middag, totdat hy sy toer kon betaal. Met groot opgewondenheid het hy in die bus met sy kartontassie gesit en kyk wanneer kom die see. Maar toe ons by Margate aankom, wou niemand gehad het hy moes saam met hulle in die kamer slaap nie. Jy stink, jy was nooit nie, het die kinders gesê, met monde vol sjokolade en biltong wat in oorvloed saamgegee is van die huis af. En so kry hy skielik ‘n bynaam, Sappi. Die naam van die papierfabriek in Springs wat soms so vreeslik gestink het as die wind verkeerd waai. En daardie vakansie het die wind vir Johan verkeerd gewaai, want op die ou einde moes hy op die vloer in die kombuis slaap, want daar was nie vir hom ander plek nie, en hy was te bang om vir Meneer te sê. Die eenkantseuntjie. Al wat sy oë laat blink het, was die see. Een keer op hoërskool, toe hy die gespot en verniel nie meer kon vat nie, het hy een van die belhamels uitgedaag vir ‘n vuisgeveg in die parkie. Natuurlik was dit groot nuus! Sappi gaan met Carl baklei. (Wat, terloops, later op die grens gesterf het). ‘n Groot skare kinders het gekyk hoe Sappi die pak slae van sy lewe kry. Sappi se afsondering was verseël daarna. Sy kersie het uitgewaai.
Toe skryf ons matriek, en ons word agttien jaar oud. Die toekoms lê en wag vir ons almal. Verder studeer was vir Sappi nie ‘n opsie nie, hy moes weermag toe. Vir die eerste keer in sy lewe nooi hy ‘n vriend uit na sy verjaarsdagpartytjie toe, so paar dae voor kersfees. Vir my. Daar was koek en tert en groen koeldrank en lekkers. En as jy ‘n homp deurgewerk het, skep sy ma nog ‘n gul porsie op jou bord. En sy pa sê: eet, voor die oorlog kom! En ons het geëet en gepraat oor alles wat wag. Maar die blink wat die see in sy oë gebring het, was daardie aand nie daar nie. Laataand op sy agttiende verjaarsdag, met vuil glase en vuil koekbordjies nog in die wasbak, hang Sappi homself in die motorhuis op. Toe is ook dit verby. Daardie Kersdiens, ‘n paar dae daarna, het ek in die kerk gesit, ‘n puisierige seun met donsbaard, en gehuil toe Stille Nag gesing word.
Nie lekker goed om te onthou as jy in die hysbak ry, tussen klomp mense met hulle vol trollies nie. ‘n Gedig spring op in jou kop: jou kamer ruik na salf/boererate/samboksalf vir spiere/Lennons se druppels/pille vir die en daai/jy omring jouself/met perskoppe wat soos jy/die dood probeer vermy/jy bekyk jouself in die mall se hysbak se spieël/jy het oud geword/jou oë is moeg/jou skouers hang/jy sê vir jouself:/my magtig/ek is alles/wat ek eens gesê het/ek nooit gaan word nie.
En ek weet skielik wat ek hierdie kersfees gaan doen. Ek gaan baie Kersmusiek speel op die radiostasie waar ek ‘n omroeper is. Nie musiek oor jingleklokkies en sleë nie, maar musiek oor die Kind van Betlehem. Vir al die Sappi’s in die wêreld gaan ek Kersmusiek speel. Oor die Een vir wie daar nie plek was in die herberg toe hy gebore is nie. Die Een wat in ‘n krip in ‘n stal moes slaap. Die Een wat gespot en gespoeg is. Die Een wie se dissipel Hom verloën het vir dertig silwerstukke. En die res van sy dissipels weggehardloop het toe Sy swartste uur aangebreek het. Een het selfs drie keer in een nag ontken dat hy Hom ken. Die Een wat so eensaam was dat Hy aan die kruis uitgeroep het: Eli Eli lèma sabagtani. Elkeen wat eensaamheid en verwerping ken, moet in hierdie Kerstyd Sy woorde hoor, amper soos ‘n sagte fluistering in die wind: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
En ek gaan aan Johan dink.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here