Olimpiese spele wink vir Leanco

“Ek is dalk nie die beste nie, maar ek is bereid om die hardste te werk."

0
296
The Bulletin Newspaper

Op dié stadium is 2020 se Olimpiese spele net ‘n droom, maar Leanco Stans (20) van Bethal is vasberade om dit ‘n werklikheid te maak.
En dit lyk ook nie na ‘n verregaande droom nie want sy was reeds verskeie kere Suid-Afrikaanse kampioen en ook twee keer die Afrika-Kampioen. “Na my beurs deur UWW (United World Wrestling) in Finland hierdie jaar, het dit my net meer gemotiveerd gemaak om te probeer kwalifiseer vir die Olimpiese spele,” het die blondekop gesê.
Sy het ook al aan die Jeug Olimpiese spele deelgeneem en spog met Senior Protea kleure . “Ek is dalk nie die beste nie, maar ek is bereid om die hardste te werk. Daar is nie ‘n “nee” of “ ek kan nie” in my woordeskat nie,” het sy gesê.
Dat sy bereid is om hard te werk is duidelik na haar onlangse opname in die Commonwealth span vir wie sy in Desember in Johannesburg sal deelneem. Leanco het ook onlangs aan die Junior Wêreldkampioenskappe en die Junior en Senior Afrika kampionskappe deelgeneem.
Sy is in Sandton gebore en het op ‘n jong ouderdom saam met haar oudste broer, Luanco (18) begin stoei. “Ek het nog nooit teruggekyk nie, alles wat ‘n man kan doen, kan ‘n vrou ook doen,” het sy gesê.
As lid van TUKS se stoeiklub is dit ook haar droom om stoei in Suid-Afrika te ontwikkel en sy wil graag BSc Genetika studeer, maar die volgende mikpunt is kwalifikasie vir die Commonwealth Spele van 2018.
Om dié mikpunt te bereik oefen sy tans by Ion Bacio stoeiklub in Limpopo. “Dit is ‘n uitdaging om oefenmaats te kry want daar is bitter min senior meisies wat aan stoei deelneem” het sy gesê.
Leanco, wat in 2016 aan Morgenzon Landbou Akademie gematrikuleer het sê die senuwees knaag maar as sy die stoeimat betree. “’n Duisend en een dinge gaan deur jou gedagtes.”
Sy is ook ‘n kranige leser wat hou van perdry, Brasiliaanse Jiu-Jitsu (‘n tipe gevegskuns) en soetgoed. “Ongelukkig het ek die verkeerde sport vir my soettand gekies.”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here