Johannes se talent verstom

“Ek wil eendag regoor die wêreld gaan optree en meer mense gelukkig maak,” het dié Secunda-inwonertjie gesê.

0
522
The Bulletin Newspaper

Hy het onlangs die gehoor van Sasol Hoëveldrif Eistedfodd se monde laat oophang toe hy met die wêreld se selfvertroue op die verhoog gaan staan het om Twinkle Twinkle Little Star op sy kwartviool te speel.
Min het die gehoor geweet dat dié aand deel was van voorbereiding vir die 5-jarige Johannes Petrus Coetzee se lewensdroom.
“Ek wil eendag regoor die wêreld gaan optree en meer mense gelukkig maak,” het dié Secunda-inwonertjie gesê.
Johannes het ná geboorte twee maande in die hospitaal se hoë sorg-eenheid deurgebring, maar vier maande later kon sy ouers opmerk dat hy ‘n aanslag vir musiek het toe hy ritme hou as liedjies speel. Sy liefde vir die viool het begin nadat hy na ‘n André Rieu-dvd gekyk het. Op 4 het hy sy eerste viool gekry, maar dié was nog te groot vir sy klein vingertjies en met sy 5de verjaarsdag het sy oupa, ouma en oumagrootjie hom verras met sy eie kwartviool.
Hoewel hy op dié stadium op viool konsentreer, stel hy ook in kitaar, klavier en xilofoon belang. Hy het sy liefde vir musiek van sy ouers, Willie en Amjé ge-erf. Hulle sing en maak ook musiek in hul spaartyd en een van die dae kan Johannes óók trougaste vermaak met sy spel.
Dié Eisteddfod was sy eerste en hy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n versie op te sê en “Pappa het ‘n growwe wang” uit volle bors te sing.
“Hy is ‘n genadegawe van die Here af en ons is baie trots op hom. Hy het ‘n droom en is gedissiplineerd genoeg om dit na te jaag, deur maklike en moeilike tye, so ons sal hom alle geleenthede moontlik gee en hom altyd ondersteun,” het Amjé gesê.
Benede sy ooglopende musiektalent, bly Johannes ‘n gewone kleuter wat ‘n skilpad as troeteldier wil hê, goed kan boomklim en ‘n 1-jarige sussie, Emma-Christie het, wat volgens hom, baie seer kan byt. Hy is ook ‘n vurige Cheetah-ondersteuner en het groot planne vir sy toekoms.
– Gwendie Venter

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here