Enorme visse gevang by hengelkompetisie

Hengelaars van sover as die Rand, Pongola, Bronkhorstspruit en Pretoria het al van vroeg gewag vir die kompetisie om te begin

0
2406
The Bulletin Newspaper

Die opkoms van Laerskool Trichardt Koshuis se hengelkompetisie wat Saterdag by Krugerdam gehou is, het só baie hengelaars gelok dat ‘n tweede dam oopgestel moes word om almal te akkommodeer.
Drie jaar gelede is dié kompetisie ‘n instelling gemaak toe 60 hengelaars opgedaag het. Dit was duidelik ‘n sukses, want verlede jaar het dié getal na 120 verdubbel en vanjaar het meer as 250 hengelaars saamgedrom om ‘n dag langs die dam op Koos Kruger se plaas te geniet.
Hengelaars van sover as die Rand, Pongola, Bronkhorstspruit en Pretoria het al van vroeg gewag vir die kompetisie om te begin. Laatmiddag is die visse ingeweeg voor dit weer in die dam vrygelaat is. Dit was besonders warm en terwyl daar gewag is vir die prysuitdeling, het kinders besluit om die dam behoorlik te benut en saam met die visse te baljaar.
Hengelaars het die geleentheid gehad om óf die grootste barber, óf die grootste karp te vang en daar was afdelings vir juniors en seniors. Die pryse was ook fantasties en ‘n bees, skape en ‘n vakansie ter waarde van R40 000 was op die spel. Daar word beplan om volgende jaar nóg beter pryse te kry.
Twee meisies het die Junior-afdelings, vir die grootste karp en die grootste barber onderskeidelik, gewen.
In die Senior-afdeling het AC Venter ‘n eerste plek gekry vir sy karp van 4.85kg, J van Wyk was tweede met sy karp van 3.68kg en A Coetzee het die derde plek gevat met sy karp van 3.55kg. R Venter het die swaarste barber (9.09kg) uitgetrek, P Barnard was tweede met sy barber (7.4kg) en C Muller se barber van 6.3kg het derde plek gekry.
Die gelukkige trekking van die Desember-vakansie is deur J. Smit gewen.
Die organiseerders van die besonderse dag wil graag die volgende borge bedank: Pine Pienaar, Leon van New Heights, Giepie Maritz, Danie Saaiman, Johan Rosslee van Lake Umuzi, Owen Muller, Manie Louwrens, Andries Spies, Willem van Zyl, Jacques Erasmus, Jopie Basson, mnr. & me Kruger van Secunda Toyota, Eish!! restaurant, Standerton Visvang, die visvangkommitee en almal wat gehelp het. ‘n Spesiale dank aan Koos Kruger wat sy damme beskikbaar gestel het vir die geleentheid.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here